Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Manvang-vakansie vir oorskietvroue?

China het besluit om vir alle enkellopende vroue ’n manvang-vakansie te gee. Vir haar is ’n vakansie juis een sonder ’n man, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Ek is ’n oorskietvrou. Of as ek in China was, sou ek nou een gewees het. Eintlik is dit net ongetroude vroue in hul dertigs wat so genoem word, so vader weet watter etiket ek sal kry.

Afvalkos? Gemorskos?

Ek beskou myself as ’n smulhappie. Soos ’n glasie duur, verouderde wyn of miskien ’n eksotiese brousel wat jou sal vergiftig binne sekondes. Kies self.

Maar terug by die Chinese oujongnooiens.

Volgens die Chinese regering is dié bevolkingsgroep soos oorskiet wat lê en vrot in die son. En net vlieë draai nog daar rond.

Maar China het ’n plan met sy suur, vrotterige vroue – hulle moet getroud kom. Want anders as ons regering wat op korrupsie fokus, bemoei die Chinese regering homself met voorplanting.

Maar voordat jy China met Kupido begin verwar, wees gerus: Dit gaan vir die regering meer oor bevolkingsaanwas as oor liefdesverhoudings. China het eers onlangs sy beperkings van slegs een kind per gesin opgehef, maar die Chinese is maar traag om weg te spring.

Maar China het ’n plan met sy suur, vrotterige vroue – hulle moet getroud kom.

Dus is besluit om vir alle enkellopende vroue ’n hele week ekstra vakansie te gee. Om man te vang.

En dis hier waar ek inkom.

Ek het nie rêrig ’n man nodig nie. Wil ook nie altyd ene hê nie. Maar wat ek wel nodig het en altyd wil hê, is ’n vakansie. Wat van as ek dit net elke jaar fake? Huilend, teleurgesteld en sonder ’n tan of ’n man van die vakansie terugkom? Dan sal hulle my maar net weer die volgende jaar moet stuur . . .

Want hoe minder ek op trou staan, hoe meer vakansies kry ek!

Maar net toe ek China toe wil trek vir my mansoek-vakansies, vererg ek my weer. Hoekom is dit juis die vroue wat moet gaan op hierdie vakansies? Ek mind nie die vakansie nie, alle vroue kort rus, maar hoekom moet hulle die soekwerk doen?

Ek dag mans is die jagters.

Die mans kry glad nie vakansie nie. Goed so, want hulle werk nie hard genoeg nie. As hulle fluks was, sou daar nou meer swanger vroue gewees het en sou die regering nie sy vingernaels nou hoef af te byt oor lae bevolkingsgetalle nie.

Son, seks en skemerkelkies

Maar eintlik is dit ’n slegte idee dat mans nie dieselfde tyd vakansie kry nie. Want wie moet die vroue dan nou ontmoet? Dalk is dit ’n sluwe plan van die regering om die oorskietvroue op te dis aan manlike toeriste wat wel met vakansie is.

Of dalk is die vakansie daar sodat die vroue die tyd kan gebruik om gewig te verloor, hulself te laat mooimaak, dalk selfs Botox te kry, en dan die moeg gewerkte mans te verlei. Dit was nie heeltemal duidelik nie.

Maar sy het ’n leerbeursie vol geld, ’n lyf vol lus, en ’n week van son, seks en skemerkelkies wat vir haar wink.

Die gebruik van vroue wat met vakansie gaan om man te vang, is natuurlik nie nuut nie. Ek sal dit dalk net nie ’n “manvang”-vakansie noem nie. Eerder ’n vakansie waar jy eksotiese lande besoek, ’n ruskans kry en eksotiese mans vry.

J

In lande soos Mauritius en Kenia is dit glad nie vreemd as ’n ryk getroude vrou (gewoonlik van Brittanje of Frankryk) by ’n hotel instap sonder haar man en trouring nie. Maar sy het ’n leerbeursie vol geld, ’n lyf vol lus, en ’n week van son, seks en skemerkelkies wat vir haar wink.

Om die eerlike waarheid te sê staan nie een van die twee soorte vakansies my juis aan nie. Vir my is ’n vakansie juis een sonder ’n man. Geen gebraaiery elke aand, geen gebakleiery oor wat om te doen op vakansie en geen optel agter hom of agter hom aandraf op al die uitstappies waarop hy wil gaan nie.

Net son, see en saligheid.

Mans en vry? Dis net vir as ek oorskiettyd het, dankie.

*Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Haar jongste boek, Seks, leuens en die internet, ’n memoir gegrond op haar gewilde Netwerk24-rubrieke, is nou op die rak.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  China  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.