Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Mens beweeg moeisaam met swaar bagasie
Hennie van Coller

2020 lê op sy rug.

’n Jaar wat baie belowe het: ewewigtigheid; harmonie en voltooidheid. Dit altans as ’n mens astroloë sou glo.

Soos gewoonlik het hulle ongelukkig die ster aan sy stert beetgehad.

Eintlik was dit vir baie mense ’n annus horribilis, ’n aaklige jaar wat so gou as moontlik vergeet moet word. En tog het ook dié jaar aangename tye gehad.

Veral die inkeer en besinning wat die inperking gebring het. ’n Tyd waarin jy jou baie aspekte van jou eie lewe gewan – en geyk – het.

’n Mens loop moeilik vorentoe as jy agtertoe bly kyk; jy beweeg ook moeisaam as jou bagasie te swaar raak. Overgesetsynde: Ons sal die nuwe jaar skoon moet takel.

Gelukkig maar dat die geheue gemanipuleer kan word om onaangename herinnerings te verdring en aangenames te onthou. Dit is die wins van ’n positiewe instelling. Nie net word die pad van die hede geëffen nie; ook die verlede word van sy skerp kante ontneem.

Só onthou jy jou pa as ’n lewenskragtige man; nie die uitgeteerde skelet op die sterfbed nie; jou ma as ’n mooi, selfversekerde vrou en nie as iemand wat jou nie meer herken en later skrik vir haar eie skadu nie.

Terwyl ek buite deur ou foto-albums blaai, val my oog op ’n bloedrooi malva wat ons byna 15 jaar gelede van die Griekse eiland Spetses ingesmokkel het.

Kersvakansies is tyd vir onthou en die jaarlikse bekyk van foto’s en memorabilia.

Die risiko is egter ook dat baie onaangename dinge so opgerakel word; dinge waarvan jy, saam met al jou opgegaarde goed, summier ontslae moet raak.

Terwyl ek buite deur ou foto-albums blaai, val my oog op ’n bloedrooi malva wat ons byna 15 jaar gelede van die Griekse eiland Spetses ingesmokkel het. Daar blom dit op byna elke balkon in spierwit blombakke; hier bring dit herinneringe terug van ’n idilliese eiland sonder motors, maar met honderde bootjies. As dit donker raak, word lig gemaak op elke bootjie wat later vuurvliegies raak in die beskutte baai.

Toe onthou ek die Delsey-koffer waarin dié kleinood versteek is.

En natuurlik die dag, 35 jaar gelede, toe ek dit knap voor ons vertrek moes gaan koop in Leuven se duur Inno, omdat die bagasie ná nege maande en ’n koue winter net te veel geraak het. Met die tyd wat uitloop, moes ek dit maar dra – en soms sleep – na die Groot Begijnhof.

Ek het hierdie koffer deur baie stede en lughawens gesleep. Gelukkig selde oor ronde klippe (gepas “kinderhoofjes” genoem) soos in Krakow waar ons geen busse of taxi’s kon vind nie en derhalwe noodgedwonge van die stasie na die hotel moes stap. Selfs dit kon dié tas nie onderkry nie.

Steeds is dié koffer my getroue reisgenoot en, net soos ek, vol merke en gebreke.

Terwyl ek dit sy jaarlikse wasbeurt gee, vergeet ek van al die gesukkel en al die getrek en gesleep.

Net mooi herinneringe bly.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Herinneringe  |  Nostalgie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.