Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Mens moet nader gaan om beter te sien
Jaco Strydom

Nou die dag ry ek halfvyf die oggend iewers heen.

Ek verstom my aan die massa mense wat dié tyd van die oggend langs die pad stap, op pad werk toe. Hoe vroeg moes hulle opstaan? wonder ek.

Om só vroeg op te staan en soveel moeite te doen om by ’n werk te kom wat waarskynlik min betaal (anders kon hulle mos vervoer bekostig), sê tog baie oor iemand se karakter.

Daar is meer goeie mense as bose mense, besef ek, al maak die dinge in die nuus my negatief.

Ek het onlangs nege dae lank om Zanzibar in Tanzanië geroei. Dit was ’n wonderlike tyd alleen, weg van alles.

Die meeste aande het ek sommer iewers op ’n strand geslaap, deels omdat dit verniet was, deels om naby die natuur te wees, deels omdat daar dikwels nie ’n back­packers naby was nie.

Een oggend word ek wakker in my hangmat langs ’n klein strandjie.

Die see en die mooi natuur het ’n groot indruk op my gemaak, maar daar was nóg iets: Álmal wat ek langs die water ontmoet het, was vriendelik en behulpsaam. En dít terwyl ek ’n vreemdeling was – wat toe­nemend soos ’n boemelaar begin lyk het.

Een oggend word ek wakker in my hangmat langs ’n klein strandjie. Iemand hardloop op en af op die sand, doen opstote, spring op en af en hardloop dan weer.

Elke nou en dan kyk die jongman om of ek al wakker is.

Sy naam was Bobby. Hy wou dadelik twee dinge weet: Waarheen is ek op pad, en hoe hy kan help.

Terwyl hy my help om my kajak in die water te sit sê hy: “My philosophy in life is that kindness is the most important thing in the world.”

Die mense van Afrika het goeie harte, stel belang en help graag. Dis die reël en nie die uitsondering nie.

Terwyl ek wegroei, dink ek aan die magdom Bobbys wat ek al teëgekom het. Die laaste tyd oral in Zanzibar, dikwels ver van die luukse toeristeoorde af, maar ook al voorheen in Kenia, Botswana, Mosambiek, Namibië . . . en veral in Suid-Afrika.

Die mense van Afrika het goeie harte, stel belang en help graag. Dis die reël en nie die uitsondering nie.

Reisigers wat deur Afrika toer, sal dikwels hiervan getuig. Dis eintlik oral in die wêreld so, nie net in Afrika nie.

Misdaad bestaan, en Suid-Afrika se statistieke met betrekking tot geweld is buitengewoon hoog, maar die mense wat boos optree, is steeds ’n bitter klein minderheid.

Die probleem is dat die uitsonderings van geweld, misdaad en haatspraak die nuus haal. Met die gevolg dat iemand wat net heeldag op sosiale media sit, in die koerant nuus lees en televisie kyk, hierdie waarheid nooit ontdek nie.

Dis soos The Matrix, jy moet dit self beleef om dit te glo.

Miskien is dít waarom Jesus ons roep om, soos Hy, “af te kom aarde toe” en nie net vanaf ’n veilige afstand te oordeel nie.

’n Mens moet nader gaan om beter te sien.

Meer oor:  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.