Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Mens moet respekte hê vir daai kweperlat

Met ’n onlangse terugkeer uit die mooiste Kaap pak die nostalgie my, en dit nogal op die asemrowende Langkloofroete met sy grenslose vrugteboorde.

Met kort tussenposes trek ek my ryding van die pad om uit te klim en die magdom ryp vrugte te bewonder. Hulle blink in die strale van die laatmiddagson en plek-plek hang hulle aan trosse wat die takke grondwaarts dwing.

Aan een van die takke vang ’n massiewe ligrooi appel my oog. Instinktief kyk ek vinnig rondom my en word gevul met ’n onblusbare drang om deur die grensdraad te glip en die verleidelike vrug te gaps. Dis tóé dat ek op my oudag begryp hoe Eva dit reggekry het om vir Adam te verlei.

Ek het sedert kleintyd ’n swak plekkie vir ’n vrugteboom. Male sonder tal het ek teen skemer by ons huisie uitgeglip met een van Ouma se kussingslopies. Dan het ek op ’n strooptog van bure se vrugtebome gegaan.

Ouma het my dikwels voor stok gekry oor die magdom pitte wat sy soggens langs my slaapplekkie moes wegvee. “Jy gaan nog jou moses teëkom,” het sy my berispe.

Nou dit is nie asof ons geen vrugtebome op ons erf gehad het nie. Daar was kwepers, granate, vye en appelkose in oormaat. Maar gesteelde vrugte is mos maar altyd die lekkerste.

Ek het tot vandag toe nie mooi herinneringe van ’n kweper nie.

Ek het tot vandag toe nie mooi herinneringe van ’n kweper nie. Hulle was die naaste wat ons aan nagereg gekom het. Met ’n kweper kon my ouma toor. Hulle is gekook en in daai lugdigte Consul-glasbottels ingelê. Konfyt is daarvan gemaak en Sondae het Ouma ’n goeie paar middeldeur gesny en dan goudbruin in ons Welcome Doverstoof gebak. Ons sou dit dan as nagereg met jellie en vla eet.

Op ’n dag het my en kweper se kind se paaie finaal geskei. Op dese dag stap ek hier met die skool se etenspouse deur ’n stegie van die erf van ons dorp se posmeester, meneer Opperman. Met die hongerpyne wat aan my ingewande knaag, vang die goudgeel kwepers my geoefende kinderoog. Ek moet byvoeg dat meneer Opperman ’n gerespekteerde inwoner van ons dorp was. Jy kon hom altyd deur ’n ring trek en sy poskantoorskoene was altyd osbloedrooi gepoets.

In ’n japtrap is ek deur ’n gat in die grensdraad. Dis met die terugkruipslag dat twee blinkrooi nommer 12-skoene skielik voor my opdoem. Toe ek my kop oplig, kyk ek in die posmeester se potblou oë onder sy welige oom Genis-wimpers vas. En toe is die gort gaar, met kweperlathale wat my brose kinderlyf met ongekende reëlmaat tref. My gesoebat en gekerm val op dowe ore. Ek is al tjankend daar weg, minus my Batas wat aan die verkeerde kant van die draad agtergebly het.

Sedert daardie dag loop ek wye draaie om ’n kweperlaning. En dit bloot net omdat ek groot respek het vir die lote wat uit hom groei waarmee rakkers van my tyd se sitvlakke warm gewiks is.

  • Venter is ’n skrywer van Fort Beaufort.
Meer oor:  Nolan Venter  |  Langkloof  |  Kweper  |  Herinneringe  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.