Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Mesmoertang wat Suid-Afrika sal laat werk

Agang SA (hy bestaan steeds), Compatriots of South Africa, National People’s Ambassadors, African Content Move- ment . . . Hulle is onder die 48 partye op die ellelange afskrif van die stembrief vir vanjaar se verkiesing wat die Verkiesingskommissie aan die media beskikbaar gestel het.

Gert Coetzee

Jy soek vergeefs daar na die een party wat Suid-Afrika nodig het.

’n Regte MacGyver-party met ’n eie mesmoertang om Suid-Afrika reg te ruk.

Die mesmoertang, soos Weg dit noem, is daardie veeldoelige tower-instrument wat boere, nutsmanne, jagters en knaphandiges in ’n gordelskede dra.

In ’n berig oor ’n mesmoertang skryf dié tydskrif: Dit is regtig ’n betroubare handlanger wat jou nooit in die steek sal laat nie. Dit het álles: ’n knyp- en draadtang, mes, sagie, tandjieslem, platpunt- én sterpuntskroewedraaier, vyl, blik- en botteloopmaker . . . hy’t 14 funksies in totaal! Met hom in jou hand kort jy nog net ’n mullet, dan’s jy MacGyver.

Die LP’s van die MacGyver-party verstaan as jy meer uitgee as wat jy verdien, sal jy bankrot raak.

Siedaar! Net wat die land nodig het.

Maar dit moet die regte MacGyver van ouds wees, nie die pap kloon wat onlangs op die kassie was nie.

Die MacGyver-party is sonder frille of fieterjasies en het propperse tools waarmee hy dit wat stukkend is tjop-tjop fieks. Sonder om dít wat werk te breek.

Sy arbeiders is hul loon waardig en – in korporatiewe taal – hulle werk slimmer en nie harder nie en lewer maksimum uitset teen minimum inset.

Die party vermy die weg van die minste weerstand en leef die credo “showing is better than telling” uit.

Hy verdra nie nonsens nie; is modern én tydloos, en werk gladweg volgens ’n minimalistiese, vaartbelynde model sonder oorbetaalde, defekte passasiers in die stuurkajuit wat dit, soos die Titanic, op ysberge laat afstuur eerder as beheers deur die vaarwater begelei.

Hy hou by bewese interna­sionale sakebeginsels en werkwyses. Soos dat, ingevolge vraag en aanbod, jy nie sê maar ’n multimiljardrand-transaksie aanlê vir onnodige wapentuig nie. Veral nie sodat jy woekerwins daaruit kan tap nie. Die LP’s van die Mac­Gyver-party verstaan hoe wins en verlies werk – dat as jy meer uitgee as wat jy verdien, jy bankrot raak. En as jy ander se (belasting)geld vir eie doeleindes wanaanwend, jy ’n skelm en ’n dief is wat in die tronk hoort.

Terselfdertyd is hy trots Suid-Afrikaans en het hy ’n eenvoudige handelsmerk (nie noodwendig rooi oorpakke nie) waarmee kiesers hulle kan vereenselwig. Eerder soos Cape Union Mart, wat in 1933 deur Philip Krawitz as klein onderneming in Kaapstad gestig is en nou al op Everest en Kilimandjaro was.

Bowenal wérk hy. Sonder ophou. Soos Black Label, Maglite, Victorinox, VW Kewer, Land Cruiser (beleërde Afrikastate se gewildste ryding), ’n Pentax K1000-kamera (hoeveel joernaliste het daarmee geleer foto’s neem en kon dit nie breek nie) of ’n Zippo-aansteker.

Met laasgenoemde het ’n vriend op universiteit geïllustreer hoe hy teen 120 km/h by ’n motor se venster teen die wind kon uitleun en ’n sigaret met die eerste kliek aansteek.

Die MacGyver-party se mesmoertang het ’n stukkie gereedskap vir elke akute of chroniese Suid-Afrikaanse kwaal, kwessie of kranklike instelling – grondhervorming, korrupsie, misdaad, werkloosheid, ellende, bemorsing van moederaarde, slagofferskap, slaggate, onverdraagsaamheid, Prasa, Eskom, donkerte, leë krane, rioolstrome, SAUK, praatsieke nikswerd ministers, ekstremisme, rassekaart en vals beloftes.

Dit volg Raymond Ackerman se The Four Legs of the Table na – lewering van puik diens of produkte (nie geldmaak nie) as oogmerk; knap administrasie; omgee vir jou mense en openbare welwillendheid.

  • Die MacGyver-party kry my stem.
Meer oor:  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.