Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Minnelied word bedreig
Fred Pheiffer
Fred Pheiffer

Ek is erg ontroer deur ’n onlangse artikel in The Guardian­ oor ’n kritiek bedreigde Australiese sangvoël. Op Engels heet hy die “regent honeyeater”. Ironies, want vanweë sy bedreigde status is hy nouliks nog “heersend”.

Sy Latynse binoom is Anthochaera phrygia – van die Grieks anthos, blom, en khairo, om te geniet, en die Latyn phrygius, verwysend na die Frigiërs, ’n antieke volk bekend vir hul goudborduurwerk. Gesamentlik dus die met goud geborduurde blomgenieter! Die naam is gepas, aangesien die voël hoofsaaklik van bloekom- en mistelnektar leef, en sy bors en rug wit en geel gespikkeld is. Sy kop en nek is blinkswart, sy vlerk- en stertvere geel en swart.

As vertaler wend ek my gewoonlik tot die Nederlands as ek ’n vreemde dier- of plantnaam in Afrikaans moet weergee, aangesien die Nederlandse internasionale dier- en plantkundige leksikon veel uitgebreider as die Afrikaanse een is. ’n Presedent bestaan al lank. Aanvanklik het ons leksikon hoofsaaklik Nederlandse leenwoorde bevat soos die plaaslike fauna en flora genoem is op die patroon van oorsese fauna en flora waaraan die Nederlandse kolonialiste herinner is.

Die Nederlandse naam vir die “regent honeyeater” is “geschubde lelhoning­eter”, na die skubagtige voorkoms van die voël se bors en rug en lelletjies rondom die oog. Ek volstaan met geskubde heuningvreter.

Die mannetjie se sang het twee funksies, om terrein af te baken, en om die wyfie te oortuig hy is ’n geskikte maat.

Na raming oorleef daar minder as 300 geskubde heuningvreters in die natuur. Hoe het dié sangvoël dan só uitgedun geraak? Die vernaamste rede is die verdringing deur bosbou en stadskruip van die bome waarvan die voëls vir nektar afhanklik is.

Die bosbrande einde 2019, begin 2020, het die situasie net vererger. Maar daar is ook ’n ander rede waarom hulle uitsterf. Omdat daar ál minder broeipare is, hoor jong mannetjies nie meer die “lied van hul volk” genoeg by hul ouer eweknieë om dit aan te leer nie.

Die mannetjie se sang het twee funksies, om terrein af te baken, en om die wyfie te oortuig hy is ’n geskikte maat. As sy lied nie reg klink nie, stel die wyfie nie belang nie. In albei gevalle word die oorlewing van die spesie geraak.

Bowendien leer die jongetjies vreemde voëls­ se sang aan, wat hul vlerk­slepery nog minder aanhelp. Uit desperaatheid het natuurbewaarders opnames van die onbedorwe lied van wilde mannetjies vir geteelde mannetjies begin speel, met die hoop dat hulle dit aanleer voordat hulle in die natuur losgelaat word.

Dis helaas nog te vroeg om te sê of dié aanleerprogram suksesvol is. Soek “An endangered bird is forgetting its song as the species dies out” op YouTube vir ’n video oor die geskubde heuningvreter se lot.

Ek vind dié storie so treffend vanweë die ooreenkoms met bedreigde inheemse tale. ’n Taal sterf saam met sy oorblywende moedertaalsprekers, en taalgemeenskappe verbrokkel soos hul taal nie meer gehoor word nie.

Meer oor:  Fred Pheiffer  |  Regent Honeyeater  |  Sang  |  Spesies  |  Bedreig  |  Diere  |  Minnelied  |  Natuur  |  Paar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.