Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Monument vir dokters en verpleegsters
Aniki Joseph

‘Doctors, it turns out, need hope, too.”– Paul Kalanithi. Dit is die gevolgtrekking waartoe die 36-jarige skrywer en neurochirurg kom in die tydperk dat sy lewe ná ’n dekade se studies op ’n katastrofiese wyse ontwrig word.

In sy boek When Breath Becomes Air, beskryf Kalanithi sy reis van ’n onskuldige mediese student tot ’n gerespekteerde chirurg en uiteindelik dié van ’n hulpelose pasiënt. Dit is nie ’n verhaal van selfbejammering, bitterheid of verwyt nie, maar eerder een wat opnuut die klem vestig op die doel van die lewe. Die boek reflekteer die waarde van tyd in die konteks van terminale siekte, die onontbeerlike rol van mediese personeel en naasbestaandes.

Dit bied ook ’n dieper begrip vir die emosionele en fisieke uitdagings waarmee gesondheidspersoneel daagliks te make het: Die geveg tussen lewe en dood en oor wat die lewe nog die moeite werd maak in die aangesig van lyding en verlies.

“I learned a lot of things at medical school, but mortality wasn’t one of them.”–Atul Gawande, Being Mortal. Hiermee verwys dié dokter na die ervaring om ’n pasiënt te verloor ten spyte van alle pogings om die persoon se lewe te red. Om vrede te maak met die feit dat ons liggame fisiologies deur prosesse gaan wat selle vernuwe, maar tog ook uiteindelik en onafwendbaar tot ’n sterwensdag lei. Albei Gawande se ouers was ook dokters. Die siekte en heengaan van sy vader het hom só aangegryp dat hy ’n boek daaroor geskryf het.

Ja, dokters en ander gesondheidspersoneel het ook hoop, gebede en ondersteuning nodig.

Dr. Viktor E. Frankl, ’n professor in psigiatrie en neurologie, moes self onmenslike lyding en lewensverlies aanskou tydens sy aanhouding in Auschwitz. Uit sy pen het waardevolle lewenslesse gevloei rakende die hantering van uitdagings in die donkerste van tye: “Suffering in and of itself is meaningless; we give our suffering meaning by the way in which we respond to it.”– Man’s Search for Meaning.

In die geval van Kalanithi was die gedagte aan sy swanger vrou en hul ongebore kind die krag waaraan hy vasgehou het. Vir Gawande was dit die feit dat sy vader vrede kon maak met sy eie sterflikheid. Vir Frankl was dit die gesig van sy vrou in sy geheue wat hom gedra het.

Ja, dokters en ander gesondheidspersoneel het ook hoop, gebede en ondersteuning nodig.

Iewers tussen die dag van geboorte en die dag van sterfte, sal elkeen van ons aangeraak word deur die hande van ’n verpleegster en ’n dokter. Sal hulle ervaringe met pasiënte ook hul naasbestaandes indirek raak. Só is ons almal se bestaan onlosmaaklik verweef met mekaar in ’n tapisserie van lewe en dood.

As ek kon, sou ek ’n monument oprig wat reik tot aan die hemelkoepel. Ek sou dit omring met veldblomme en helder fonteine. Dan sou ek die son, voëls en vlinders nooi en musiek maak met kinderlaggies. ’n Reënboog span van geloof, hoop en dankbaarheid. Vir toegewyde gesondheidswerkers.

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Hoop  |  Dokters  |  Verpleegsters  |  Ondersteuning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.