Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Monument vir vreeslose Vytjie Mentor?

Dis gevaarlik om ’n bietjie afgewaterde kennis van enige aangeleentheid voor te hou as die alfa en omega. Asof jý die gesaghebbende meester met al die kennis in pag is.

Annelie Botes

Tog, ons leef in ’n era van inligtingsontploffing. Dis lank reeds nie meer die tyd toe ons in Uniondale en Bedford gewag het vir die Huisgenoot-lorrie om Donderdae in die dorp op te daag om nuus en opspraakwekkendhede te bring nie.

Met Google en die internet kan jy in ’n oogknip op ’n magdom feite en inligting afkom. Daarom het die gemiddelde mens ’n veel breër algemene kennis as ’n dekade of twee gelede.

My politieke kennis is rafeldun. Politiek is ’n seekat met ’n swetterjoel tentakels en sentimente en driftighede. Dus vermy ek om die druppel afgewaterde kennis wat ek daarvan het te deel.

Allermins wil ek oor die regering en al sy doenighede praat. Want voor jy jou kom kry, hardloop jy soos ’n afkophoender met klappende vlerke rond.

Maar een van my oortuigings is dat die regering van die laaste kwarteeu minstens een wonderwerk opgelewer het. Dis die kwessie van deursigtigheid. In die era voor 1994 kon omtrent álles onder die mat ingevee word. Moenie dink daar was nie doeriejare korrupsie nie. Dit was net digter verskans en het selde ’n negatiewe invloed gehad op instansies soos skole, hospitale, padwerke en pensioenfondse.

Fluitjieblasers is nie geduld nie. As jy nog dink jy blaas die fluitjie, is dit klaar deur ’n ysterhand gegryp. En in die proses is jou lippe afgeskeur en jou tande uitgemoker.

Saans met die seweuur-nuus luister ek bykans verbysterd na die getuienis wat by die Zondo-kommissie gelewer word. Vreesloos, openhartig, onopgesmuk. Soms ervaar ek die gevoel dat ’n betrokke getuie mateloos verlig is om die berg af te laai wat hy of sy al so lank op die skof rondkarwei. Om deesdae ’n fluitjieblaser te wees grens vir my aan heldhaftigheid.

Met elke fluitwysie wat opklink, kom ons nader aan die suiwering van korrupsie, en redding vir die land en die ekonomie.

Met elke fluitwysie wat opklink, kom ons nader aan die suiwering van korrupsie, en redding vir die land en die ekonomie.

Die kans dat ’n fluitjieblaser sonder lippe of tande of stembande anderkant sal uitkom, en stil-stil “uitgehaal” sal word sonder dat ’n haan daarna kraai, blyk al hoe skraler te word.

Nou wonder ek of die Zondo-kommissie, of ’n ekwivalent daarvan, nie straks ’n permanente instelling moet word nie.

En dat die werksaamhede en bevindinge van so ’n kommissie daagliks via die nuus en media aan die mense van die land uitgesaai en vertel sal word.

Sodat knoeiers en vergrypers en kaders twintig keer sal besin voordat hulle blanko tjeks teken en baantjies vir boeties skep.

En sodat mense wat die integriteit het om verkeerd as verkeerd uit te wys, die gerusstelling kan hê dat hulle dit mág doen.

Wie weet, dalk pryk daar eendag vorentoe ’n monument vir die vreeslose Vytjie Mentor.

Meer oor:  Vytjie Mentor  |  Annelie Botes  |  Monument
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.