Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Moratorium op Malema tot ná stemdag

Die dilemma met Malema: Moet hy hoekie toe gestuur word, soos Max du Preez vra?

Moet die pers sy siedende keffergedrag ignoreer? Moet sy waansinnige taal teenoor die ondersoekende joernalis Pauli van Wyk (“Haar held is satan”) daar gelaat word – juis nou dat ’n opspraakwekkende saak oor onder meer “hekse” en “satan” in ’n hof gevoer word?

Ek, soos elke ander joernalis, is bekommerd oor Van Wyk se veiligheid. Sy het deur haar vreeslose ondersoeke reeds vir Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, aan die kaak gestel. Toe het sy bewyse gevind dat Floyd Shivambu, en stellig ook die EFF, gebaat het by die VBS-bankskandaal – ’n bank wat sogenaamd vir die armes daargestel is en toe rot en kaal besteel is deur sy eie base. So bang is Julius Malema nou vir Van Wyk dat hy haar ook ’n satan noem.

Floyd Shivambu, soos ons al op die TV gesien het, is ’n groot boelie wat ’n joernalis al aan die keel gegryp het en teen ’n muur gedruk het. ’n Histeriese Malema het sy mense aangesê om met die media “decisively” op te tree. (Dis die man wat al gegil het “We will kill for Zuma!”.)

So bang is Julius Malema nou vir Van Wyk dat hy haar ook ’n satan noem.

Soos ’n stadsplein-orator sal jil en vingerwys geniet ’n soms histeriese Malema aandag. In die middel van die week word massas stellig werklose mense per WhatsApp genooi (gebied) om saam te trek (rooi pette is die Krismishoede, dikwels uitgedeel). Die dansery is tegelyk ’n workout en ’n versekerde kans dat die televisiekameras daar sal wees. Maak duur aanry-busse, duur toerusting vir opelug-platforms dan geen duik in die populis se “uitreik” na die armes nie?

Dus, vanaf ’n goed beskermde platform sal die middel-30-jarige, vinger en al, beskuldigings uitbasuin onder meer om sekere media te verbied om met hom te praat. Terselfdertyd smag hy na die dekking.

Te lafhartig om met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum te praat, te lafhartig om die waarheid oor die VBS-begunstiging te praat. Sy korttermyngeheue wis vorige uitsprake uit, onder meer sy ondersteuning destyds vir Pravin Gordhan.

Ons wat tuis werk sien die beelde; die onbeskofte gedreun buite die saal van die staatskapingskommissie. Ons sien dit vir wat dit is: duur toneelspel. Nogal pateties ook.

Die pas gegradueerde Malema bevraagteken die briljantste parlementariër, John Steenhui-sen, se pos as hoofsweep omdat hy nie gegradueer is nie. Nou sien die pas gegradueerde ook kans om ’n minister ’n hond te noem, te verwys na geleerdes as ’n “bastard”. Het Malema se skelwoorde opgedroog dat hy so laag moet sink?

Moet ons die lesers en die kykers vra vir ’n boikot op die dekking van die clowns en hul giftige uitdagings? Of moet ons dit as vermaak (probeer) beskou?

Ek sou vir ’n moratorium stem. Miskien tot ná die verkiesing? Dink net: ’n Afwesige Malema. ’n Triomf vir redelikheid.

Meer oor:  Julius Malema  |  Moratorium  |  Stemdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.