Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Nes wat met wysheid geweef is
Esté Gross

Ek kan my verkyk aan die geelvinke se nesbouery net buite my voordeur. Dit is ernstige sake – geen laatslapers word op die bouperseel toegelaat nie. En daar is byna elke dag ’n nuwe eenheid.

Die meesterwewers is bewus van Johannesburg se misdaad en het besluit op ’n veiligheidskompleks met behoorlike lemmetjiesdraad. Die koorsboom met sy lang dreigende dorings behoort die gevaar uit te hou.

’n Vink buite my kamervenster was vanoggend besig om sy vere reg te skud tussen die boom langsaan se pienk bloeisels.

Miskien het hy sy strategie vir die dag bedink en voorberei vir ’n belangrike vergadering oor die bouplanne.

Ek is seker hy het ’n das aangesit vir die geleentheid – net toe ek wegkyk.

Daar is so baie wat vinke mens kan leer. Selfs hulle kry nie hul nes verniet nie. En die selfkritiek van die helderbreëborsvink – en dan nog boonop die wyfie se stuiwer in die armbeurs – is nie om dowe neute nie.

En al is hy uitgedos in ’n mooi helder verekleed, maak die vere nie die voël nie. Hy moet vlieg en vleg om ’n vale te beïndruk.

Dit sal nie een van hulle baat as die wyfie ewe diplomaties sy slegte bouwerk aanvaar nie. Albei se eer is op die spel. Die nes moet goed genoeg wees om gure weer te weerstaan vir die toekomstige generasie se oorlewing.

En al is hy uitgedos in ’n mooi helder verekleed, maak die vere nie die voël nie. Hy moet vlieg en vleg om ’n vale te beïndruk.

Dit kan ’n vink blykbaar tussen nege en 14 uur neem om so ’n nes te voltooi en dinge verloop nie altyd seepglad nie. Wyfies stel glo net belang in ’n nuutgeboude nes, anders is dit geen sikkepit werd nie.

En daarom pluk die mannetjie sy eie werk vrywillig en onseremonieel uitmekaar uit as sy bouwerk nie aanloklik genoeg was om ’n maat te kry nie.

En hy moet maar die felle kritiek vat wat na sy kant toe kom, want sagte hande maak bose sere.

Hoe ouer en (hopelik wyser) ek word, begin ek al hoe meer kritiek verwelkom.

Miskien sou die land ook in ’n beter toestand gewees het as kritiek oor die jare as positief en van waarde geag is.

Is dit dalk die rede waarom soveel staatsinstellings uitmekaar val?

Daar is soveel ekonome, politieke ontleders en kenners wat vroegtydig kritiek op slegte bouwerk en skadelike ideologieë gelewer het, maar anders as die geelborsvink, het die wewers van die instellings die raad in die wind geslaan.

In Spreuke 12:15 staan: “In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het luister na raad.”

Wie gaan in ’n nes wil bly wat nie met wys-heid aanmekaar geweef is nie?

Die vinke verstaan al lank reeds dié waarheid. Kritiek mag dalk ’n vaaldrag dra, maar help die parmantige breëborsvink om wel – op die ou end – iéts te hê om mee te spog.

  • Gross is ’n omroeper, nuusleser en joernalis.
Meer oor:  Esté Gross  |  Land  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.