Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Noodgebed van die begin tot einde
Piet Matipa

Ek het onlangs my pote weer in ’n vliegtuig gesit en die angs het aan my geklou soos die reuk van knoffel.

Hier is my gedokumenteerde noodoproep na die hemel:

Piet: Hello, hello is iemand daar? My naam is Riet, ag Tiet, ek bedoel Piet.

Jammer, vrees het sy hande om my nek, ek kan nie nou my van onthou nie.

Ek is tans in ’n vliegtuig en my blaas het pas verlof versoek, ek is bang ek pee my nat... (ek het amper ’n ander woord gebruik wat met mis rym).

Ek wil graag flou val, maar my hart klop my kop wakker. Help my asseblief. Ek weet nie wat om te doen nie.

Hello, die vliegtuig beweeg. Ons gaan nou opstyg, ek kruis my bene, want my blaas is reg om met vakansie te gaan.

O gedorie (ek sensor, maar my kragwoorde)! Ons is nie meer op die grond nie.

Daar is huise onder ons; sê nou maar die vliegtuig beweeg agteruit en ons ploeter op die huise neer.

Ek is nie gereed om in ’n koerantberig te verskyn nie. Okei wag, ons is bo.

Ek is jammer, dit is net ek is nie gewoond daaraan om in ’n blik vasgevang te word wat in die lug sweef nie.

Ek sien geen rede hoekom dit in die lug moet bly nie, dis dan so swaar.

Ek weet mense sê dat daar ’n groter kans is om in ’n motorbotsing te wees as om in ’n vliegtuig te verongeluk.

Vir daardie mense wil ek sê sjarrap!

O mapstieks (ek sit ’n kussing oor jul ore), want die vliegtuig het pas in die lug galop. Die oom langs my roer nie, hy het sy oorfone aan asof dit ’n spa is.

Ek klou aan die handvatsel, dit voel soos ’n Goldreef City-rit. Oukei die vliegtuig is weer rustig.

Waar was ek . . . O ja. ’n Mens kan nie ’n vliegtuig met ’n kar vergelyk nie. Enige Jan Rap en sy houvrou kan ’n lisensie kry.

Dit maak my nog meer bekommerd dat die twee vergelyk kan word. Dit is soos om appels met pangas te vergelyk.

Links voor is daar ’n klein meisietjie wat huil. Hoekom huil sy?

Weet sy dalk iets wat ek nie weet nie? Het die vlieënier haar in sy vertroue geneem en haar gesê dat ons gaan val?

Daar is net berge onder ons. O die pyn, die baie pyn!

Haai, ons vlieg nou bo water. Ek was lanklaas in ’n swembad. Ek stort gewoonlik baie, so ek het nie eens die oefening wat mens kry van ’n bad nie.

Shht! Daar is ’n aankondiging . . . daar moet fout wees!

Wag, hy sê ons gaan nou amper land, of het hy gesê ons gaan nou amper val?

Ek weet nie, die paranoia hou ’n damestee in my kop.

Ons is besig om te daal. Help! Asseblief! Laat ek my bewussyn verloor! Ek wil ontwater, maar my blaas hou my gyselaar! Help!

O, ons het pas geland en ek leef nog . . . dankie.

Jammer as ek klink of ek verdrink, daar is trane in my mond. Ons praat gou weer, want ek moet nog terugvlieg...

Meer oor:  Piet Matipa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.