Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Nuttelose rusie wat maar kon gebly het

Nog selde was daar só ’n nuttelose rusie as dié van vandeesweek tussen pres. Donald Trump en die Deense regering na aanleiding van Trump se plan om Groenland by Denemarke te koop. Álbei het verloor.

Soos alles in die lewe, is dit ’n veelkantige kwessie met verskillende perspektiewe.

Dis enersyds begryplik waarom Trump Groenland wou verkry. Teen die agtergrond van die smeltende Noordpoolkap word dit ekonomies steeds aantrekliker om ’n voorheen permanent bevrore en ontoeganklike gebied te ontgin.

Bowendien wys die toenemende Chinese belangstelling in die gebied dat dit ook strategiese belang verkry.

Dis voorts relevant dat pres. Harry Truman Groenland al in 1946 van Denemarke wou koop nadat Amerika in 1941 die reg gekry het om ’n militêre basis daar te vestig. Andersyds is die verskil tussen toe en nou dat Truman diskreet deur diplomatieke kanale gewerk het om verleentheid te voorkom. Trump het alles in die openbaar gedoen, wat onverstandig was.

Die Deense premier, Mette Frederiksen, se reaksie – dat die versoek “absurd” is – was ewe ondiplomaties en onverstandig. Dis waar dat sy bloot die oorweldigende honende reaksie in haar eie land en die res van Europa verwoord het, maar as jy iets van Trump se persoonlikheid begryp, moet jy nie só reageer nie.

Trump se reaksie, dat hy sy komende staatsbesoek aan Denemarke kanselleer, het die indruk van kinderagtigheid gewek. Dat Frederiksen sy versoek “absurd” genoem het, was “nasty”, het hy op ’n nuuskonferensie gekla.

Die spottende reaksie in Denemarke wys dat die Dene nie veel van Donald Trump dink nie.

Wat Trump nie begryp nie, is dat hy in Europa al klaar met ’n uiters negatiewe gevoel te make het. In Duitsland het slegs 10% van die mense luidens ’n peiling van die gerespekteerde Pew-Sentrum vertroue in hom; in Frankryk is dit 9%. Wêreldwyd het 70% van die mense geen vertroue in hom nie.

Toe dié peiling bekend gemaak is, het Trump gesê hy is “die gewildste persoon in Europa” en dat hy in enige pos gekies sal word as hy hom beskikbaar stel. Reg of verkeerd, dit wys hoe ver hy van die werklikheid verwyder is.

Dis nie bekend of daar ook ’n Deense peiling was nie, maar die spottende reaksie in dié land wys dat die Dene nie veel van hom dink nie. Trouens, die laaste parlementêre verkiesing in dié land het gewys dat die kiesers beduidend na links geswaai het.

Daarby het dit blykbaar nie by hom opgekom dat die 56 000 inwoners van Groenland ook iets daaroor te sê het nie.

Frederiksen en Trump se minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het intussen die strydbyl begrawe. Albei het te kenne gegee dat die twee lande tradisioneel bondgenote is en dat die verskil nie die vriendskap permanent moet bederf nie.

Maar dit was ’n rusie wat kon gebly het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.