Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Nuwe besem vee by Opod
Ntlatseng het meer as 20 jaar se ervaring van die strafregstelsel.

Die nuwe hoof van Opod, Jennifer Ntlatseng, het groot planne vir die polisiewaghond. Sy gesels met Carla Lewis oor haar kritici, geweld teen vroue en waarom sy niemand se politieke speelbal is nie.

In Vrouemaand vanjaar het Jennifer Dikeledi Ntlatseng (49) geskiedenis gemaak met haar aanstelling as hoof van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) – die eerste vrou in dié pos. Daar was egter min rede om ’n glasie pienk vonkelwyn op vroueregte te klink.

Jennifer Dikeledi Ntlatseng (49) die eerste vroue wat hoof word van die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod).Foto’s: Deaan Vivier

“Ek is van Maandag amptelik op kantoor,” sê sy op die vyfde verdieping van Opod se hoofkantoor in Pretoria se middestad.

“Weet jy wat was een van die eerste sake wat onder my aandag gebring is? Sondag, op Vrouedag, het ’n polisielid ’n 16-jarige meisie van Mpumalanga verkrag.”

Klagtes van gendergeweld en verkragting het vroegweek op haar lessenaar gewag.

Sy lyk gewalg.

“Ek is self ’n vrou, ’n ma van twee dogters. As Opod-hoof en as vrou onderneem ek om weer geregtigheid te laat geskied vir vroue wat voel dat die stelsel hulle in die steek gelaat het,” belowe sy.

“Ek wil hulle nooi: ‘Kom terug sodat ons weer na jou saak kan kyk.’ Dis onaanvaarbaar dat mans kan verkrag en nie die gevolge van hul aksies dra nie.

“Terselfdertyd is dit ’n skreiende skande dat vroue versaak word deur die einste polisielede wat hulle moet beskerm.

“Vandeesweek luister ek na ’n gesprek op die radio met ’n vrou wat aangeval is. Sy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek, oor die treinspore gesleep en verkrag.

“Sy het ’n klag by haar plaaslike polisiekantoor probeer indien, maar niemand het haar ernstig opgeneem nie.

“Twee dae later kom sy weer haar aanvaller teë.

“Weer gaan sy na die polisiekantoor toe, probeer ’n klag indien, maar niks word gedoen om die man aan te keer nie.

“Ek het vir my span gesê: ‘Nou gaan julle terug, neem die saak onder die loep en vind uit waarom sy in die steek gelaat is.’

“Dit het my ook gerusgestel toe die polisieminister opdrag gegee het dat daardie lede gedissiplineer word. Ons gaan seker maak hierdie vrou kry geregtigheid en dat haar aanvaller suksesvol vervolg word,” beklemtoon sy.

Een van Ntlatseng se eerste prioriteite is om ’n gendergeweld- en vrouemoord-strategie vir Opod te ontwikkel. Sulke klagtes moet voorkeur en spoedige geregtigheid kry, sê sy.

“Weet jy dat vrouesake en vroueregte nie deel vorm van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se opleidingskurrikulum nie?”

Een van haar doelwitte in haar ampstermyn as Opod-hoof is om in samewerking met die polisie ’n deeglike module oor vrouesake te ontwikkel.

Sy meen dit moet vir voornemende polisiebeamptes verpligtend wees en hulle leer hoe om teenoor vroue op te tree en hulle met respek en deernis te dien.

Ntlatseng onderneem om veral na die regte van vroue om te sien.

G’n politieke speelbal

Ntlatseng is deeglik bewus daarvan dat sommige haar aanstelling met agterdog en selfs teenkanting bejeën. Opposisiepartye meen die aanstelling is nie deursigtig en deeglik genoeg hanteer nie

“Die paneel vir keuring was met ANC-politici belaai. Dit opsigself laat ’n wolk van agterdog en twyfel hang oor die benoemings- en aanstellingsprosesse,” het Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, haar aanstelling verlede week gekritiseer.

“Op die aanstellingsproses en kriteria kan ek nie kommentaar lewer nie; ek was nie deel van die besluitnemingsproses nie.

“Ek het, nes al die ander kandidate, aansoek gedoen om die pos toe dit geadverteer is.

“Ek het die pos op meriete verdien. Daar was geen teenstrydighede nie, veral as jy kyk na my kwalifikasies en werkervaring in gemeenskapsveiligheid.

“In die onderhoude moes kandidate strategieë en planne vir die eenheid uitlê en demonstreer. Ons moes ook bewys dat ons bekwame leiers is.”

Sy raak driftig.

“Ek wil dit ook net duidelik stel: Ek sal geen politieke inmenging duld nie. Ek doen aan geen politieke party verantwoording nie.”

Suid-Afrikaners het al vir jare gewoond geraak aan Opod as ’n organisasie sonder tande wat soms gegrom het wanneer sy politieke meester so ’n bietjie aan sy ketting geklingel het.

Ntlatseng is die ma van twee dogters van onderskeidelik 14 en 24 jaar oud.

Wanneer hy gedurf het om wel ’n bietjie te knor, maar sy meesters nie van die teiken gehou het nie, is die Opod-hoof summier by die deur uitgeboender soos ’n geliefde skoothond wat sy baas gebyt het. Wat maak haar anders as haar voorgangers?

“Toe ek my pos Maandag ingeneem het, het Bheki Cele, minister van polisie, vir my gesê: ‘Jennifer, doen net jou werk en moenie toelaat dat enigiemand jou probeer kortwiek nie. Onthou, dis nie ’n politieke pos nie. Jy is nie ’n politikus nie.’

“Niemand is bo die reg verhewe nie,” gaan sy voort.

“Indien daar uitdagings soos politieke inmenging oor my pad kom, gaan ek dit trompop loop.

“Geen gunsies of voortrekkery sal geduld word nie. Ek gaan my werk vreesloos en sonder vooroordeel doen.”

Sy beduie na haar kantoordeur.

“Indien ek nie toegelaat word om my werk op daardie voorwaardes te doen nie, vat ek my handsak en ek loop, want dan kan ek nie my pligte uitvoer volgens die mandaat ingevolge waarvan ek aangestel is nie.

“As enige politieke party verwag dat ek hul wandade gaan bevorder deur dit toe te smeer ... daardie deur staan wyd oop. Ek vat my goed en ek loop.”

Sy sê sy het ook ’n ferm gesprek met Cele oor haar aanstelling gehad.

“ ‘Minister, jy het my aangestel om onafhanklik te werk,’ het ek vir hom gesê.

“As enigiemand my werk probeer dwarsboom – insluitend hy – sal ek dit beslis opper en vir hulle sê: ‘Besef jy jy is besig om met my pligte in te meng?’

“Ek moet streng wees daaroor. As ek dit nie doen nie, gaan die organisasie steeds net ’n tandelose waghond gesien word.”

Die politieke slagveld is egter besaai met die oorskot van bekwame staatsamptenare wat wel hul werk sonder aansiens des persoons probeer doen het, maar uitgewerk is toe hulle nie voor konkelende politici wou swig nie.

Sou iemand wel probeer inmeng, bestaan daar die regte kanale vir haar om dit aan te meld?

“Die minister het dit aan my duidelik gemaak: Indien daar enige politieke inmenging in my mandaat is, moet ek dit by hom en by die parlement aanmeld.

“Dit staan my vry om aan die parlement te sê iemand probeer inmeng, ook as ek verhinder word om my werk onafhanklik en objektief uit te voer.”

Na kalm waters

Hoe beplan sy om die vertrouensbreuk tussen die polisie, die gemeenskap en die publiek te herstel en die polisie verantwoordbaar vir hul dade te hou?

“Ek het lank en diep gedink oor my eie strategiese vermoëns en of dit my in staat gaan stel om dit wat die werk van my vereis suksesvol uit te voer.

“Opod lyk tans soos ’n sinkende skip, maar ek glo ek beskik oor die vermoëns om die skip te red en weer in die regte rigting, na kalm waters, te stuur.

“Ek het ook ’n goeie samewerkingsooreenkoms met Shamila-hulle,” sê sy met verwysing na adv. Shamila Batohi, die nasionale direkteur van openbare vervolging.

“Met die eerste opslag mag dit dalk nie lyk asof hierdie ooreenkoms ’n beduidende verskil kan maak nie, maar ek sien die impak wat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersteuning op Opod het.

“Ek verneem ook daar word tans baie hulpbronne by die NVG ingepomp. ’n Mens kan ook net hoop dat dit ons ook sal help om van die agterstallige en hangende sake in te haal.”

Sy beplan ook nouer samewerking met organisasies met soos die Instituut van Sekerheidstudies (ISS) en Corruption Watch.

’n Instansie soos Opod kan volgens haar “nie in ’n geïsoleerde ivoortoring funksioneer nie”.

Dié organisasies het ook reeds waardevolle strategieë oor veiligheid en wetstoepassing ontwikkel en navorsing daaroor gedoen.

“Hulle kan Opod ook help om beter strategieë in te stel en belanghebbendes op voetsoolvlak te betrek, wat ons kan help om ons pligte beter uit te voer.

Het tande, byt seer

Ntlatseng het nog planne, soos om ’n tolvrye lyn in te stel waar polisievergrype aangemeld kan word.

Sy besef ook verreweg die meeste gevalle van polisiewreedheid en menseregteskendings vind plaas in die armste en kwesbaarste gemeenskappe en wil graag ook dié burgers bemagtig om teen boelies op te staan wat hul mag misbruik.

“Dit is Opod se verantwoordelikheid om die publiek in te lig oor die stappe wat hulle kan doen as hulle dink die polisie het hulle te na gekom.”

Daar is ook planne vir ’n veldtog om die publiek in te lig oor Opod se rol en verantwoordelikhede en die publiek se regte.

“Dis inligting waartoe mense gratis toegang moet hê. Daar is geen rede waarom enigiemand duur regshulp moet inroep as hulle voel hulle is deur die polisie te na gekom nie,” beklemtoon Ntlatseng.

Geld en personeel is ook maar skraps, en daarom wil sy internskappe vir finalejaar- regs- en forensiese studente instel, deels om talent vars uit die universiteit te identifiseer en werf, maar ook om die werklading op haar beamptes en aanklaers te verlig.

“So kan ons ook vinniger deur die agterstallige sake werk.

“Wanneer ek eendag hier uitstap, moet mense kan sê: ‘Sy het met integriteit gedien, en sy het ’n verskil gemaak waar sy gewerk het.’

“Ek wil ’n nalatenskap van uitnemendheid hê waarop mense verder kan bou. Mense moet weet Opod het tande en hy byt seer.”

Wat doen Ntlatseng vir ontspanning? Sy gee ’n droë laggie.

“Ek slaap. Maar selfs wanneer ek slaap, sien ek daardie polisieklagtes in my drome, maar dis orraait. Hier by Opod kry ons nie tyd vir baie slaap nie.”

Sy beduie na haar kommunikasiehoof, Ndileka Ndindi Cola. “Sy weet, sy’s reeds ’n slagoffer van my laatnag-oproepe.

“Maar dis waarvoor jy jouself inlaat in dié omgewing. Jy moet dag en nag voorbereid wees vir enige iets.

“Ek hou ook van lees, hoewel die leesstof op my bedkassie deesdae meer amptelike verslae as ligte leesstof is.”

Wanneer sy wel vir plesier lees, bieg sy, is ’n goeie Danielle Steele- slapband haar skuldige plesiertjie. “Dit laat my kop vir so ’n oomblik ontspan. Maar nou’s daar nie meer plek vir Danielle langs my bed nie.”

Sy verklap dat sy onlangs “so ’n bietjie van ’n obsessie” ontwikkel het met misdaadrillers en dokumentêre programme oor misdaad. “Ek stel belang in hoe die misdade ondersoek word. Jy kry ook insig in hoe misdaad internasionaal hanteer word. My dogters gril hulself egter dood daarvoor. ‘Ma, hoekom kyk jy dit, dis afskuwelik,’ jil hulle.”

'n Passie vir die gemeenskap en wetstoepassing

Jennifer Dikeledi Ntlatseng is in 1970 in Soweto gebore. Sy het ’n BProc- en ’n LLB-graad van Unisa.

Ntlatseng het meer as 20 jaar se ervaring op die gebied van die strafregstelsel en gemeenskapspolisiëring.

“Ek wou eintlik ’n advokaat word, maar die noodlot het maar ander planne met ’n mens.”

In 1995, vars uit die universiteit, het sy aangesluit by die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid as ’n administrasiebeampte.

“Ek het daar ’n passie ontdek om saam met die gemeenskap en polisie op voetsoolvlak te werk.”

Sy was van 2001 tot 2004 ’n assistentdirekteur vir die voorkoming van jeugmisdaad in die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid voordat sy as adjunkdirekteur vir gemeenskapspolisiëring gedien het en daarna as direkteur van die eenheid. Sy het hierdie pos tot 2017 beklee.

“Een van ons verantwoordelikhede by die departement was om ’n verhouding tussen die gemeenskap en die polisie te bou. Ons moes ook die polisie se optrede monitor.”


Carla Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld

Meer oor:  Opod  |  Jennifer Ntlatseng  |  Uitdagings  |  Nuwe Aanstelling  |  Kritiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.