Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Nuwe kyk na skole is nóú baie nodig

Die nuus dat alle laerskoolleerlinge op 28 Julie terugkeer skool toe, is wyd verwelkom – ook deur vakbonde. Skole sal ’n “risiko-aangepaste gedifferensieerde strategie” volg waarvolgens elke skool se benadering aangepas sal word volgens hul eie omstandighede. Dat skole redes moet verskaf as hulle nie daaraan kan voldoen nie, is ’n stap in die regte rigting.

Met so ’n belangrike besluit moes twee kwessies oorweeg word.

Eerstens: Is dit veilig? Suid-Afrika ondervind tans ’n skerp toename in Sars-CoV-2-infeksies wat opnuut vrae oor onderwysers en leerlinge se veiligheid laat ontstaan. Die meeste kundiges stem saam dat die virusrisiko buite die skool eerder as binne is. Hopelik sal die aangepaste vlak 2-regulasies help om die derde golf in bedwang te bring wanneer leerlinge terugkeer.

Die tweede saak hou verband met leerverliese. Studieverslae van die “National­ Income Dynamics Study – Corona Virus Mobile­ Survey” toon dat die leerverliese vir gr. 4-leerlinge in hul huistaal ongeveer 76% is. Leerverliese kom ook op groot skaal in wiskunde voor. Die skoolkurrikulum behels twee strome: inhoudsvakke, soos aardrykskunde en geskiedenis, en vakke waar vaardighede ’n rol speel, soos tale en wiskunde.

Een van die vernaamste foute wat verlede jaar gemaak is, was om net te fokus op matrieks en die laer grade af te skeep.

Die bemeester van kritieke vaardighede, soos lees en skryf, hang af van klasbywoning sodat vaslegging kan plaasvind. Ongelukkig het gr. 1- tot gr. 5-leerlinge in 2020 byna 60% klastyd verloor. Voeg daarby dat die meeste leerlinge tuis nie toegang tot die internet het nie en jy begryp waarom hulle agter is.

Dit is dus verblydend dat die regering leer uit sy foute. Een van die vernaamste foute wat verlede jaar gemaak is, was om net te fokus op matrieks en die laer grade af te skeep. Matrieks se fokus is op inhoud wat ’n 18-jarige kind met min ondersteuning self kan baasraak. Daarteenoor het die kind in die grondslagfase toesig en leiding nodig.

Daarom is aanpassings nodig om die agterstande in die laerskool in te haal. Wat nodig is, is ’n post-Covid-19-kurrikulum vir ’n jaar of twee waar meer tyd aan vaardighede bestee word. ’n Kind wat nie kan lees of skryf nie, kan in elk geval nie vorder in ander vakke nie.

Leer hoef ook nie net in klaskamers te geskied nie. Ter wille van ’n gesonde afstand moet alle ruimtes ten volle benut word. In my vorige rubriek het ek genoem dat leer ook op die sportveld moontlik is, selfs op die speelterrein, waar leerlinge in die sand kan skryf.

Veiligheid in die leeromgewing is ’n prioriteit. Verlede week het meer as 60 onderwysers positief getoets vir die koronavirus. As ons in ag neem dat onderwysers se gemiddelde ouderdom 50 jaar is, moet ons dit ernstig oorweeg om alle onderwysers bo 50 in te ent.

Prof. Le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die US.

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Skole  |  Pandemie  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.