Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Nuwe wêreld van werk
iStock

Covid-19 laat ’n mens nuut dink oor die rol van kantore in die werkplek, skryf Carla Lewis.

Met die aanvang van die inperking het talle kantoorwerkers die geleentheid verwelkom om van die huis af te werk. Weg is die frustrasie van spitsverkeer, kommer oor hoë brandstofpryse en kleinlike kantoorpolitiek.

Namate die ekonomie stadig weer aan die gang kom, besef maatskappye toenemend dat groot kantoorruimtes dalk ’n onnodige uitgawe is en dat die tydelike tuiskantoor ’n permanente instelling kan word.

In ’n opname in Maart deur die internasionale navorsingsmaatskappy Gartner het 74% van 317 finansiële hoofde van internasionale maatskappye aangedui dat ’n deel van hul werkmag voortaan permanent van die huis af gaan werk.

Geestesgesondheid

Maar dis nie so eenvoudig as om net jou werknemer met ’n internetverbinding en skootrekenaar toe te rus nie. “Ons sien reeds ’n toename in uitbranding onder professionele beroepslui,” sê prof. Garth Stevens, dekaan van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se fakulteit geesteswetenskappe en president van die Suid-Afrikaanse sielkundevereniging.

“Ek glo nie ons begryp die kognitiewe en emosionele las wat die oorgang van ’n fisieke kantooromgewing na ’n tuiskantoor op ’n werknemer plaas nie,” sê Stevens.

“Die Covid-19-pandemie het ons sin van normaliteit en die wêreld wat ons ken heeltemal op sy kop gekeer. Pleks daarvan dat mense die kans gegun word om ’n nuwe ritme in hul lewe en werkwyse te vind, probeer hulle hul idee van ‘die ou normaal’ op hul nuwe werkwyse afdwing.

“Dis feitlik onmoontlik.

Ons sien nou dat sommige mense harder en langer werk om te bewys hulle is steeds produktief en ’n aanwins vir hul maatskappy in die onsekere arbeidsmark. Baie mense voel uitgeput, uitgebrand en minder produktief in hul professionele omgewing.”

Mense kwel hulle oor werk­sekerheid en gesondheid en hulle moet ook nou sterflikheid konfronteer. Daar is meer persoonlike konflik tuis omdat gesinne in nabye kontak moet saamleef. “Dit dra alles by tot die moegheid en uitbranding wat mense ervaar. Mense het altyd gedink om tuis te werk is ’n gesogte voordeel, totdat die pandemie ons gedwing het om dit te doen.”

Boonop, sê Stevens, is daar nou die bykomende spanning omdat mense se professionele lewe skielik met hul persoonlike lewe oorvleuel.

Die inploffing van grense

Omdat Covid-19 mense dwing om van die huis af te werk, het grense ingeplof, of dit nou fisieke grense of tyd is, sê Stevens.

“Jou huis, wat altyd ’n plek van toevlug was waar jy kan ontspan, is ook nou jou werkruimte. As jy kinders het wat tuisonderrig moet ontvang, word dit ’n plek van onderrig.”

Waar mense voorheen geneig was om hul lewe in verskillende kompartemente te verdeel, het Covid-19 alles nou in een ruimte ingedwing.

“Ek praat nie hier van huishoudings wat die luuksheid het van drie slaapkamers en ’n studeerkamer nie. Baie professionele beroepslui woon in eenvertrekwoonstelle – ’n ruimte waar hulle nou moet werk, slaap en ontspan.”

Ook die ineensmelting van tydsgrense is ’n stressor, sê Stevens.

Voorheen was jou dag duidelik afgebaken tussen jou opstaan, werk toe gaan en huis toe kom, met elke kompartement wat deur ’n ritueel en fisieke ruimte gekenmerk is.

“Nou werk jy tuis en alles smelt ineen. Dag word aand, weke word naweke, werktyd smelt in gesins- en ontspanningstyd as daar nie behoorlike grense gestel word nie.”

Grense skep struktuur en geborgenheid. “Dit gee ons die geleentheid om gedeeltes van ons lewe af te skakel en dan weer ander gedeeltes aan te skakel. Wanneer alles – werk, familie, persoonlik en professioneel – in een enkele ruimte inplof, word jou ritme versteur. En dit is wanneer die kognitiewe en emosionele las jou begin oorweldig,” waarsku hy.

Marguerite Coetzee, ’n antropoloog, is bekommerd dat tuiskantoorwerkers soveel staatmaak op tegnologie dat dit tot negatiewe gedragspatrone kan lei. Sy meen werkgewers en werknemers moet erken dat hulle in ’n krisis funksioneer.

“Ons merk op hoe tegnologie gedragspatrone skep wat deel word van ons daaglikse rituele en roetines. Ons is nou, meer as ooit, onder druk om gesien en gehoor te word. Ons kameras en mikrofone is heeltyd aan sodat ons werkgewers weet ons is teenwoordig, op ons pos en reg om te werk,” sê sy.

Loerbroer kyk vir jou

Hoewel ’n kuberkantoor aanvanklik die illusie van groter vryheid en onafhanklikheid geskep het, sê Stevens dit kan ook vir mense voel of hul werkgewer hulle heeltyd dophou en hul produktiwiteit meet.

“Wanneer jy digitaal werk, is die persepsie dat jy dopgehou word soveel groter. Jou bestuurder kan sien hoeveel e-posboodskappe jy stuur en hoeveel Zoom-oproepe en konferensies jy bywoon. As jy ’n aanlyn dagboek deel, kan jou bestuurder ’n idee vorm hoe besig jy werklik is.

“As jou bestuurder of jou kollega byvoorbeeld vir jou e-pos stuur, sou jy gewoonlik ’n rukkie gewag het voordat jy dit sou antwoord. Nou voel jy verplig om daarop te reageer, net om te wys jy is wel besig om te werk. Jou kollega sal dan dadelik weer reageer om ook teenwoordigheid en produksie te bevestig.”

So, sê Stevens, word ’n ongewone, onvolhoubare werksiklus geskep wat mense oorlaai.

Daar is ook ’n rede waarom jy ná ’n videokonferensie dalk uitgeput en effe geïrriteerd voel, sê Coetzee.

“Op ’n kubervergadering moet ons nog waaksamer en wakkerder wees as op ’n fisieke vergadering. Jy sien jouself op die skerm en is bewus van al die oë wat op jou gerig is. Jou gedagtes kry nie kans om te dwaal nie. Dis uitputtend, veral vir werknemers wat nie die luukse van ’n gemaklike, persoonlike werkomgewing het nie en ook nog die chaos van ’n huishouding moet trotseer.”

Stevens sê hoewel videovergaderings baie meer psigiese inspanning as fisieke vergaderings verg, is die produksie-uitset daarvan aansienlik minder. Dieselfde hoeveelheid inligting en uitsette wat byvoorbeeld op ’n gewone vergadering bereik sou word, vat twee tot drie keer langer met ’n videokonferensie.

“Jy moet aandag gee en aantekeninge maak, maar dan duik ’n e-posboodskap op of ’n WhatsApp kom deur. Mense praat oormekaar, die sein verswak en jy mis ’n deel van die gesprek. Jy moet ook harder konsentreer sodat jou aandag nie afgelei word nie.

“Op die skerm is jy besig om jou kollegas se gesigsuitdrukkings, stemtoon en lyftaal te ontsyfer op soek na sosiale leidrade, wat baie moeiliker is aanlyn as met hul fisieke teenwoordigheid.

“Die emosionele las hiervan is noemenswaardig omdat jou brein harder moet werk om aanklank by jou kollegas te vind. Jy is deurlopend besig om meer inligting te verwerk as wat op kantoor van jou verwag is.”

Prof. Jaco Pienaar, ’n lektor en mede-professor in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Stockholm, meen kuberkantore is nie volhoubaar nie.

Hy sê op kort termyn het afstand-arbeid weens ’n staat van inperking die potensiaal om slegte gedrag onder werknemers te vererger. Was jy voor die tyd pligsgetrou, gaan jy nou nóg harder werk. Het jy ’n bietjie lyf weggesteek by die kantoor, gebruik jy nou éérs die geleentheid.

“Ek sien dit reeds met van my studente. Baie van hulle sal aanmeld vir ’n lesing en hul videofunksie afskakel en wanneer besprekings plaasvind, kom jy agter niemand is agter die skerm nie.”

Dit kan uiteraard ook ’n probleem in die werkplek word waar mense die illusie van teenwoordigheid skep.

’n Nuwe kontrak

“Werknemers en werkgewers moet onderhandel oor wat van mekaar verwag word in die tuiswerk-scenario,” sê Pienaar. Hy glo egter nie die tradisionele korporatiewe kantoor se dae is getel nie.

“Selfs al sou ons oorskakel na permanente afstand-werk, sal daar ’n behoefte by mense wees om mekaar persoonlik te ontmoet, te gesels en te debatteer. Ek sou beslis nie wou sien dat afstand-werk die nuwe norm word nie. Bygesê, ek dink ook ek sal waarskynlik minder tyd in die kantoor deurbring wanneer ek die tyd net so goed kan benut by my huis, minus twee uur se pendeltyd!

“Dus sou ek ook dink ’n nuwe ‘kontrak’ is nodig oor wat ons op kantoor moet doen en wat ons van die huis af kan en wil doen. Oor laasgenoemde sal daar egter ook gesprekke moet wees oor wat werkers se kernprestasie-areas gaan wees en hoe produktiwiteit gemeet en beloon gaan word.”

Pienaar sê daar moet mooi gedink word hoe die verskynsel waar mense in ’n digitale werkomgewing harder probeer om hul teenwoordigheid en produktiwiteit te beklemtoon, bestuur en aangespreek word.

Stevens meen mensehulpbronbestuurders en bestuurders moet hard en nuut dink oor werkers se prestasies en produksiedoelwitte én hoe dit bepaal gaan word.

“Uiteraard moet daar ook meer gefokus word op werknemers se produktiwiteit as die ure wat hulle werk. Werknemers moet ook bemagtig word om onafhankliker te werk en hulself te bestuur.”

Maar, maan Coetzee, mense moet daarteen waak om nie deur ’n nostalgiese, rooskleurige filter na die pre-Covid-kantoorlewe te kyk nie.

“Daar was ook uitdagings, lang pendeltye wat stresvol en duur is en oopplankantore wat aandag en produksie beïnvloed het. Ons het nou ’n geleentheid om te kyk na wat met die vorige stelsel verkeerd was en dit tot voordeel van almal te verander.”

Carla Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Beskerming  |  Werknemer  |  Koronavirus  |  Regulasies  |  Veiligheid  |  Werkplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.