Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Ode aan die wondere van ’n waterwêreld
“Iewers gaan daar ’n kataklisme kom wat die mensdom ’n harde klap gaan gee.”

Herfs lê soos ’n skildery oor die Okavango en kleur die wêreld met blertse dofgroen en kopergoud waar boomreuse hul somersblare vaarwel groet. Die grond het oopgebars van somerhitte en smag na verligting.

Palmbome offer dooie takke vir die aarde, wat nuwe lewe daaruit sal voortbring. Sloepe waar waters voor die laaste volmaan finaal verdwyn het, wag angstig op die wondere wat ver weg uit die hooglande van Angola aan die ontwikkel is.

Op die eilande drentel olifante en stof mekaar met droë riviersand af. ’n Visuil mor in die groot palmboom omdat die groot gryses sy middagslapie versteur. Twee saalbekooievaars staan wag by die vlak modderpoel vir die ongelukkige kwakers wat dit sou waag om te kom asem skep.

Babers lê halflyf in die bruin water en gryp na vlieë wat vogtigheid soek. Die leeutrop staar verveeld met skrefiesoë na die wêreld om hulle. Gisteraand se buffel dra swaar in hul lywe. Welpies klouter oor wyfies en speel met stertklosse. Die kraagmannetjie knor waarskuwend vir ’n dapper knaap wat met die ou stryder se voorpoot wil stoei.

Iewers lê die belofte. Hoe ver? Wanneer?

Laatmiddag voel die groot gryse ’n geheimenis onder haar pote. Sy staar sononder toe waar vlieswolkies oor die droë moeras afsak. Haar slurp suig die awendlug in. Iewers lê die belofte. Hoe ver? Wanneer? Sy rammel ’n boodskap aan haar trop en hulle vertrek statig in gelid na die groot palmeiland. Bastergemsbokke snuif die westewindjie. Instinkte uit oergedagtes vertel iets. Die ou buffelbul skud sy kop en drentel agter die olifante aan. Hy voel die verborge opgewondenheid van die gryses aan.

Wanneer die Suiderkruis kantel, roer die verdorde rietbosse en ’n nuwe deuntjie borrel uit die aarde uit. Water maak los praatjies in die sloepe en syfer stadig tussen die eilande en rietbosse deur. Die ou visuil skud sy goue verekleed met groot tevredenheid. Waterbokke bokspring water toe en plas in sterlig tussen die skamele stroompies wat soos are in die sloepe ontwikkel. Paddatjies sit sommer koor in, verhelder die nag met hul deurmekaar simfonie.

Wanneer die dag oor die Okavango sy opwagting maak, lê die waters al wyd oor die aarde. Swerms voëls sak op die water toe en die hemele dreun van ’n ode aan die wondere van die waterwêreld. Olifante skommel bruin modder om hul dorre velle weer vogtig te maak. Luiperd lê hoog in ’n vyeboom en wonder hoe sy pote droog gaan bly wanneer die son sak. Die lechwes staan reeds kniediep in waters buite sy bereik.

Twee berghane dompel koppe en vlerke onder die helder water en was die herfsstof uit. Klein vissies wat in modderpoele weggekruip het, kom versigtig uit skuilplekke. Die helder water lok hulle sloepe toe en hulle jaag mekaar speels in die koel waters. Visarend draai oor sy koninkryk en roep die wesens van die groot moeras tot dankbaarheid vir die wonderwerk, terwyl die ou buffelbul sy laaste winterwater van hierdie wonderwêreld by die sloepe drink.

  • Dr. Verdoorn is ’n natuurliefhebber en -bewaarder.
Meer oor:  Diere  |  Natuur  |  Olifante  |  Wilde Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.