Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Oggend van drama op ’n Kaapse strand

Die see gee, veral op ’n warm Kaapse dag.

Lafenis.

Om net op een van die strande te kom in die matige, koeler vou van die seelug. Of, vir dies met staalmurg in brawe pype, om die water van die Atlantiese Oseaan aan te durf wat gewoonlik koud genoeg is om ’n draak se neusgate te laat toevries.

Daar is ’n klein strand net verby Kampsbaai, daar waar die stug rondings van die granietrotse tussen die woude seebamboes pryk.

Daar is ’n paar strandhuise tot teenaan die sand, en as ’n mens uitkyk na die see, sit daar ’n pos van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) waaruit hul reddingsboot in die sloep gelanseer kan word. Om diegene by te staan wat hulp ter see benodig.

’n Ruk terug kom ek op dié strand. Vroeg, want die strand is klein en raak gou net so oorbevolk soos die res van die Kaapse middestad.

Die sonsoekers is reeds op hul pos, lywe uitgestrek op die sand, sywaarts gedraai en besig om te gesels.

Want by die NSRI se pos is – of was – daar aksie.

Die rooi reddingsboot was vroeër die oggend uit en soos ons nou hier sien, word dit teruggetrek in die NSRI se skuur in.

Ons klik en skud kop. Wie gaan nou alleen uit op die see?

Die boot het pas teruggekom van die see, hoor ek by monde van een van die gereelde sonbaaiers wat ’n tennisbal uit haar labrador se bek probeer wring.

Iemand was uit op ’n seekano – alleen – en is deur die wind see-in gewaai. Toe gaan pik hulle hom op.

En daar in die sloep is twee van die NSRI-lede besig om die kano wal toe te bring. Ek stap af en kyk na die wit, plat seetuig. Die spaan. In die kano is ’n Tupperware-houer met koekies daarin, die roeier se padkos.

Die kano-eienaar is in die NSRI se hut, hoor ek. Seker besig om iets warm en kalmerend te drink ná die drama ter see.

Ons klik en skud kop. Wie gaan nou alleen uit op die see?

Die NSRI-mans en -vroue, almal vrywilligers, moes seker douvoordag uit hul naweekslaap geroep word om die enkele kanovaarder te gaan help.

Een van die mans wat skuins langs my op ’n rots sit meen dat, wanneer hy van sy drama herstel het, gaan daardie roeier uit die hut kom en verby die mense op die strand moet stap, en soos ’n regte “nool” voel. Al die ongerief wat hy veroorsaak het.

Ek knoop my oor om, wanneer die geleentheid weer verskyn, geld aan die NSRI te skenk.

So amper van die petalje vergeet, vang my oog die redders se hut.

’n Deur gaan oop en twee mans verskyn, en dan die man wat vroeër die oggend uit die see gehaal is.

Net, hy is reeds toegedraai in ’n silwergrys sak, sy lyk op ’n draagbaar. Hulle dra hom verby sy kano, waarin die houer vol koekies nog lê.

Die see gee, en hy neem.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Verdrinking  |  Kanoe  |  Kaapse Strand  |  Drama  |  Tragedie  |  Nsri
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.