Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Onbewoonde plaasopstal sterf ’n stadige dood

Oral in die land sien jy die verlate plaas­opstalle langs die pad. Baie van hierdie ou huise staan leeg. Ander het ’n stoorplek vir sakke veevoer of hooibale geword.

Ry of stap jy nader, kom jy selde verder as die hek. Daar is ’n ketting en ’n slot aan, en ’n bord wat waarsku: “Oortreders sal vervolg word.”

’n Plaasopstal is nie noodwendig bestand teen agt reënlose jare, agterstallige paaiemente op ’n banklening of skote en gille diep in die nag nie.

’n Plaasopstal wat agtergelaat word, sterf stadig. Die dak se verf begin afdop, en onder die nokke maak die swaeltjies en die vlermuise en die perdebye nes. Voëls mis op die stoep. Die geute roes, en wanneer dit reën, loop trane bruin teen die mure af.

Die skrywer Dana Snyman.Foto: DENVOR DE WEE

Waar die Aga-stoof in die kombuis gestaan het, lê ’n poeletjie modderige water. ’n Sinkplaat begin flap in die wind. Flap, flap, flap in die nanag terwyl ’n uil op die afkopwindpomp roep.

In die maanlig kom ligte in die donker aan. Dikkoppe vlieg uit die lang gras op. Skimme klim van ’n bakkie. Hulle kom stroop die dak, dra die deure weg, kap die kosyne en vensterrame uit. ’n Pou roep naby die leë sinkdam: “Halllppp!”

Nou is dit asof die huis moed opgee. Die pleister kom eerste van die mure se bokant los, terwyl die rysmiere onder in die hoeke tonnel. Ander insekte kom deel in die fees – insekte en parasiete, wat op verlore drome teer. Die beendere in die grafte in die familiekerkhof naby die skaapkraal is nie meer gesigte in ovaalrame teen die gangmuur nie.

In die verbyry probeer jy jou verbeel hoe dit eens op daardie werf was. Beddings rose en aronskelke en ranonkels. In die motorhuis ’n Chev Constantia met ’n vinieldak waarmee slegs kerk toe, rugby toe, en in Desember Hartenbos toe gery word. In die melkstoor die gesjoei-sjoei van ’n roomafskeier. In die buitekamer ’n broeimasjien vol louwarm hoendereiers.

Die reuk van gebraaide kaiings in die kombuis. ’n Strauss-wals, soos vertolk deur die Weense Filharmoniese Orkes, wat op ’n Sondagmiddag uit ’n Blaupunkt-radiogram se luidsprekers opklink. Op ’n bed in ’n agterkamer ’n oupa wat valstandloos en sterwend vertel hoe hy die wêreld boerbaar help maak het met ’n span donkies, ’n handploeg en ’n .303.

“ ’n Lykrede behoort gehou te word by huise en kerke wat ineenstort,” skryf Hennie Aucamp iewers. “Daar moet ’n eenvoudige gebed gebid en daar moet gesing word. Dat die siel van die huis tot rus kan kom.”

’n Erdvark kom grawe waar die plankvloer in die voorhuis uitgebreek is. Tyd se koue vuur woed deur die vertrekke, seisoen ná seisoen. ’n Driedoring spartel deur ’n kraak in een van die kamervloere en sprei sy takke.

Een middag is daar ’n donderbui en die wind waai een van die mure om. Daarna val nog ’n muur om; en dan waai daar nog winde, en nog mure val om.

’n Onbewoonde huis treur homself terug die aarde in.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.