Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Pak slae soos brood, konfyt?

Die konstitusionele hof het op Woensdag 18 September om 10:00 ’n belangrike uitspraak gelewer: Ouers mag nie meer hul kinders pak gee nie; dit kom neer op aanranding.

Die uitspraak het ’n lang aanloop. ’n Pa het sy 13-jarige seun getug omdat hy na pornografiese materiaal gekyk het. ’n Saak van aanranding is by die polisie aanhangig gemaak en die pa is deur die hof skuldig bevind. Die gegriefde pa het appèl by die hooggeregshof aangeteken.

Christo van der Rheede

Die hooggeregshof het die saak aangehoor. Voor die hof is die verweer geopper dat die pa in die belang van sy kind matige en redelike tugtiging toegepas het. Die hof het egter die appèl van die hand gewys en enige vorm van tugtiging ongrondwetlik verklaar. Lyfstraf skend die kind se regte.

Dit behels dat daar nie op grond van ouderdom gediskrimineer mag word nie. Die kind het gelyke beskerming van die wet, waardigheid en vryheid van alle vorme van geweld.

Godsdiensvryheid SA (For SA) het die uitspraak in die konstitusionele hof betwis. Volgens hulle gee die Bybel en ander heilige geskrifte ouers toestemming om hul kinders te tug. Liefdevolle tugtiging deur ouers word tot voordeel van die kind toegepas en is in sy of haar beste belang. Dit gee waardigheid aan die kind, aldus For SA.

En enige uitspraak wat ouers hierdie reg ontneem, ontneem ook ouers se grondwetlike reg op godsdiensvryheid en kinders se grondwetlike reg op ouerlike sorg.

Die konstitusionele hof het egter die appèl van die hand gewys omdat enige vorm van redelike en matige tugtiging deur ouers bots met sekere bepalings van die Grondwet.

Al die regters meen dat kinders steeds doeltreffend gedissiplineer kan word sonder om hulle pak te gee.

Die uitspraak het Suid-Afrikaners behoorlik aan die gons. In ’n land waarin geweldsmisdaad hoogty vier en vroue en kinders dikwels die slagoffers is, is dit ’n welkome uitspraak.

Mense wat steeds probeer om lyfstraf te regverdig en dit boonop vanuit ’n Bybelse perspektief goed te praat, moet regtig diep daaroor nadink.

Ons land het ’n lang geskiedenis van geweld, en in baie gemeenskappe word dit van geslag tot geslag oorgedra. In ons skole was die toediening van lyfstraf om kinders te dissiplineer oor eeue heen die enigste antwoord.

Die feit is dat hierdie hofuitspraak veels te laat gelewer is. Die skade is gedoen en die letsels is daar vir almal om te sien.

Die groot vraag is, wat is die alternatief?

Op ’n vlug na Kaapstad sukkel twee ouerpare om hul kinders se opgewondenheid in toom te hou. Die een paartjie het twee kinders wat ewe besig is. Net voor hulle sit ’n paartjie met ’n seuntjie wat dieselfde gedrag openbaar. Wat my opval, is die twee ouerpare se uiteenlopende benaderings om hul kinders te dissiplineer.

Terwyl die een paartjie geduld aan die dag lê en met hul kinders op ’n liefdevolle manier omgaan, is die ander paartjie aggressief teenoor hul kind. Hy word gedreig en afgejak.

Die ander paartjie beantwoord die kinders se vrae, verduidelik wat is besig om te gebeur terwyl die vliegtuig na die aanloopbaan aankruie en lees vir hulle voor uit boeke wat hulle saamgebring het.

Die kern van waarmee dié ouers besig is, is om met hul kinders verhoudings te bou en daardeur waardes te openbaar en te versterk wat hul kinders vir ewig gaan bybly. Wat ’n les was dit ook vir my!

Geweld, daarenteen, het die teenoorgestelde uitwerking. So ook lyfstraf.

Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Rubriek  |  Menings  |  Lyfstraf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.