Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Pampoen is veel meer as net 'n ronde vrug
Jana Luther

‘Aanskou hierdie pampoen. Die helder, klewerige diamantdruppeltjies sit nog aan die stingel. Mooi woord, ‘pampoen’. Dis so pammerig en poenerig. Dit voel sommer swaar.” So begin Marthinus Versfeld se ode aan die pampoen in Borde, borde, boordevol, essays en verhale oor kos.

Ligvaal, wit en donkergroen, goudgeel, oranjerooi. Gestoof, gekook, gebak, gebraai. Of kaboe gaargemaak – net so in die skil (nes kaboeaartappels of -patats).

Eet jou pampoen, dit laat jou hare krul, het die ou mense gesê.

Sondeurdrenkte boerpampoen. Hubbardskorsies of vroeëpampoen, ook “korrelkoppampoen” genoem. Botter-, lemoen- en murgpampoentjies. Kromnekpampoene, soos die “slonspampoen” (van “selonspampoen”, oorspronklik uit Ceylon) en die “gatruikerpampoen” (uit Tulbagh en Clanwilliam). Almal vrugte van die genus Cucurbita wat tussen 7 000 en 9 000 voor die huidige jaartelling reeds in Amerika verbou is, maar eers in die 16de eeu na Europa en van daar na die suidpunt van Afrika gebring is.

“Pampoen”, uit Nederlands: “pompoen”, kom (nes Engels se “pumpkin” ook) uit Ou Frans: “pompon”, via Latyn: “peponem” en Grieks, met die betekenis “rypgemaak deur die son”.

Vanweë sy vorm en kleur word die pampoen dikwels met die maan en ander rondhede verbind.

Vanweë sy vorm en kleur word die pampoen dikwels met die maan en ander rondhede verbind: In Die duiwe van Botala (Engela van Rooyen) hang die volmaan “soos ’n geel pampoen bo die dakkies”.

In Breyten se “Fascistiese pampoen” word die pampoenmaan ’n “groot rooi rollende grommende bal”.

“Die liewe goeie Frau Vogel” in Draaijakkals (George Weideman), “het rondinge soos boerpampoene”. ’n Knewel van ’n pampoen – ’n bulpampoen – word in “Aspoestertjie” ’n koets, en middernag “pampoentyd”. “Soos goue sakhorlosies tik snags die dakpampoene,” dig Charl-Pierre Naudé in “Ambience Afrikaans”.

Maar die pampoen word dikwels ook onbekwaam geag: Wie ’n pampoenbril dra, sien (doelbewus?) iets nie raak nie. Iemand wat akademies presteer, of wat uitgeslape is, is geen pampoen nie. Iemand wat sukkel, daarenteen, word skertsend-neerhalend maklik ’n “pampoen(kop)”.

Op “All Hallows Eve”, Allerheiligeaand, vereer Rooms-Katolieke hul geheiligdes, maar in Amerika is die kenteken van dié viering ’n pampoenspook: ’n uitgeholde pampoen met gate vir oë, neus en ’n mond waarin ’n kers of ander lig brand. Van dié pampoen kom die uitdrukking “vir pampoenspoke skrik”, as jy onbenullighede vrees. Of: “Ek skrik nie vir koue pampoen nie!”

Soms leen die pampoen sy naam aan ander dinge uit: onder meer aan die lieweheersbesie (“pampoenbesie”) en seekastaiing (“seepampoentjie”).

Pampoentjies by kinders laat die speekselkliere weerskante van die gesig . . . wel, soos pampoentjies opswel. “Die seuns het altyd by die huis gebly as hulle pampoentjies het, want dit kon hulle kartjoenkels aantas,” onthou Girly in Skrikkelkind (Leon van Nierop).) Luther werk vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans.

Meer oor:  Jana Luther  |  Pampoen  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.