Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Pandemie van geweld
Opvoeding oor geslagsgeweld moet dalk reeds van vroeg af deel van die skoolleerplan word, sodat kinders van ’n jong ouderdom af bewus kan word van die probleem. Foto: istock

Ten spyte van die onderskeie veldtogte wat regdeur die jaar gehou word om geslagsgeweld in ons samelewing uit te roei, lyk dit of ons die geveg verloor.

Wat gaan dit verg om dié tweede pandemie te stuit, want dit lyk nie of daar ’n entstof in sig is nie? En ons kan nie meer van die een veldtog na die ander steier en niks gebeur nie.

Penny Lebyane, ’n omroeper en mediapersoonlikheid, was verlede week die gespreksleier by ’n webinaar oor dié onderwerp wat deur die nieregeringsorganisasie Afrika Tikkun aangebied is. Dié organisasie beywer hom vir die bemagtiging van die jeug. Lebyane sê sy vra haarself gedurig af of sy ’n verskil maak in die geveg teen geslagsgeweld. “Geslagsgeweld is vir my trauma. Ek is moeg en uitgeput. Dit is groter as apartheid, met dit wat ons (vroue) moet deurmaak.”

Nontsikelelo Booi, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, sê vroue word daagliks van hul regte ontneem. “As vrou voel ek nie veilig om te gaan draf of om te stap nie. Dit moet nie so wees nie.”

Booi, soos die ander deelnemers aan die gesprek, meen daar moet minder gehamer word op die gevolge van geslagsgeweld en meer gefokus word op die oorsake.

Volgens Nzama is dit belangrik om met veral jong seuns in gesprek te tree en hulle te leer oor wat dit beteken om ’n man te wees en hoe om vrou se regte te respekteer.

“Ons moet geslagsgeweld van ’n baie jong ouderdom aanpak. Genderstudies en seksvoorligting moet deel wees van die skoolkurrikulum op laerskool.”

Op dié manier kan kinders reeds van ’n baie jong ouderdom af bewus gemaak word van die kwessie.

Nick Nzama, stigter van die Boys2men-program in Suid-Afrika, sê dit is problematies wanneer daar in gesprekke redes verskaf word vir die kernoorsake van geslagsgeweld. “Wanneer ons redes verskaf, word daar gesê ons maak verskonings . . .”

Volgens Nzama is dit belangrik om met veral jong seuns in gesprek te tree en hulle te leer oor wat dit beteken om ’n man te wees en hoe om vrou se regte te respekteer. Hy meen die stryd is verlore as jong mans nie voorberei word op die handhawing van gesonde verhoudings met vroue nie.

Nzama moedig pa’s ook aan om teenwoordig in hul kinders se lewe te wees. Nzama sê as hy dalk self meer na sy seun geluister het, wat tans tronkstraf weens moord uitdien, sal dinge anders gewees het.

“Daar moet met erns besin word oor hoe seuns grootgemaak word. Ons dink seuns kan na hulself omsien. Ons luister nie na hulle en hul kwessies nie. Van hulle word groot sonder om vroue te respekteer. Ons kan dit van ’n jong ouderdom verander.”

Morongwa Ramasobane, ’n voormalige jeugambassadeur van Afrika Tikkun en deesdae verbonde aan PwC, stem saam met Nzama.

“As kinders met geweld grootword, is dit moeilik om vir hulle te sê wat reg en verkeerd is. Daar is mans wat glo dat hulle hul vroue kan slaan en nie na hulle hoef te luister nie. Daar is ook mans wat glo hulle kan vir hul vroue sê hulle mag nie werk nie.”

Volgens Ramasobane het Suid-Afrika steeds ’n patriargale stelsel en moet die regering ook meer doen om vroue te bemagtig. Sy meen diegene wat deel is van die probleem moet deel word van die oplossing.

Siswe Tshabalala van Afrika Tikkun sê jong mans se stereotipe oor wat dit is om ’n man te wees, moet afgebreek word.

“Vroue en mans, ook dié wat oortreders is, moet hieroor praat. Mans moet ook sekere dinge ontleer.”

Siswe Tshabalala van Afrika Tikkun sê jong mans se stereotipe oor wat dit is om ’n man te wees, moet afgebreek word.

Raymond
Raymond Willemse

“Ons moet jong mans leer dat dit nie beteken jy is ’n man as jy geld het nie. Jy leer om ’n man te wees. Dis ’n proses. Mans hoef ook nie bedreig te voel as ’n vrou meer as hulle verdien nie.” Tshabalala het ook gepleit dat die regering meer doen. “Ons sien mans wat skuldig is aan geslagsgeweld wat buite (die tronk) rondloop. Die polisie en howe moet ook hul kant bring.”

Prof. Hlengiwe Mkhize, adjunkminister van vroue, die jeug en persone met gestremdhede, sê die regering is ernstig oor geslagsgeweld, ’n kwessie waarna pres. Cyril Rama­phosa vroeër vanjaar verwys het as ’n “oorlog” teen vroue en kinders. Mkhize meen die publiek se persepsie dat die regering nie genoeg doen oor die saak nie is dalk ’n uitroep van mense om te sê “genoeg is genoeg”.

Volgens Mkhize is dit reeds ’n stap in die regte rigting dat gesprekke oor die probleem openlik gevoer word. “In ander lande, veral in Afrika, is dit taboe om oor geslagsgeweld te praat. Hier by ons praat ons daaroor.”

Volgens haar moet almal in Suid-Afrika betrokke raak by die bekamping van geslagsgeweld en moet die jeug die voortou neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.