Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Plek aan tafel vir onverwagte gas op Kersdag

Kersdae is in my jeug tradisiegetrou gevier by oupa Ben en ouma Lenie. Wat die familie nou nog nie kan kleinkry nie, is waarom hierdie ouma van my (’n nooi Boshoff uit ’n deftige Bolandse familie) ooit met my oupa afgehaak het.

Prof. Hennie van Coller

’n Dierbare man, weliswaar, maar as ’n mynwerker kwalik ’n geskikte pasmaat vir dié deftige dame. Die bespiegelinge was stof vir ’n hygroman: ’n opstandige jong vrou wat die pad gevat het met ’n onbetroubare lieplapper; dalk ’n buite-egtelike verhouding én ’n kind. Vreemd, niemand het ooit aan liefde gedink nie.

Op Kersdae is die erfgoed vroeg uitgehaal en opgepoets: kristalglase, silwer eetgerei en damas- of Brugse kanttafeldoeke. Op ’n snikhete Desembermiddag is pasteie, skaapboud, soetpatats, gebakte aartappels én doekpoeding – tiekie en al – voorgesit.

Die Suidelike Halfrond is ten ene male nie geskik vir die tipiese Kerskaartjie-Kersfees nie.

In Argentinië volhard enkeles nog met ’n warm ete van varkvleis en aartappels of ’n lam of beesvleis op die kole. Beter gesê langs die kole, want ’n Argentynse asado –vleisbraaiery – is daar ’n kuns vir die kenner. Wat beteken langsaam. Etes begin teen tienuur snags en die sjampanjeproppe sug teen middernag.

In Roemenië het die kommuniste finaal hul houvas verloor en Kersfees in ere herstel as een van dié belangrikste godsdienstige vakansiedae. Op die platteland word nog varke geoffer ter ere van die heilige Ignatius, hoewel al hoe meer mense op dié “barbaarse” ritueel neerkyk.

Wat beteken langsaam. Etes begin teen tienuur snags en die sjampanje­proppe sug teen middernag.

Oukersaand is hier die tyd vir uitruil van geskenke. Dit is ook steeds gebruiklik dat kinders van die een huis na die ander loop om Kersliedere te sing. Kersetes is ryk en bestaan uit verskeie gange, soos suurkool wat gevul is met vark- en beesvleis en rys, goed gekruie met peper en tiemie. Gelief is ook varkworsies saam met pruimbrandewyn en agurkies.

Kerstyd in Pole is iets besonders. Op ’n besoek aan Posnan een Desember moes ons gasheer eers ’n lesing gee. Op sy aandrang is ons na die pragtige Kersmark waar die sneeu dik gelê het en dit minus 17 grade was. Ons Belgiese winterklere het soos ’n lente-uitrusting gevoel en ek het summier ’n langonderbroek aangeskaf.

In Pole is Kerstyd familietyd. Werkers in die buiteland keer terug huis toe om saam met geliefdes Kersfees te vier. Pole is godsdienstig en Oukersaand word met ’n middernagtelike mis afgesluit. Tradisioneel word ook klassieke musiek gespeel; soms uitgevoer deur familielede.

’n Tradisionele ete bestaan uit 12 geregte soos “pierogi” (pasteitjies van sampioene en suurkool), vis (veral karp, forel en harders), verskeie soppe en gestoofde droëvrugte. Kaaskoek of koek van maansaad is die volmaakte afsluiting.

Die tafel word áltyd gedek met een ekstra plek vir die onverwagte gas – dalk die Verlosser self, want op Kersdag mag niemand alleen wees nie.

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Gas  |  Kersdag  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.