Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Reddingstou as die perd met ons weghol
Annelie Botes

oorlaaste week kry ek uit Engeland ’n e-pos van ’n boerevrou wat skryf sy spartel tans emosioneel deur ’n klipperige drif.

Haar man het bevordering gekry en is dikwels weg van die huis. In haar alleenheid verlang sy na Afrika, selfs na die onaansienlike mynhope in die omgewing van Johannesburg waar hulle baie jare gewoon het. Telkens as die groot dofheid oor haar toesak, sonder sy haar vir drie dae op haar bed af met ’n boek. Want haar bed, sê sy, is haar domein van veiligheid.

Op ’n ander keer skryf ’n vrou uit die droë Kalahari dat sy in donker tye in ’n gebarste, poeierdroë sementdam op hul plaas kruisbeen sit en serpe brei met die bont wolletjies in haar naaldwerkkas. Die stilte en isolasie in die sementdam help om haar gekoekte gedagtes uit te kam. Boonop kan sy getuig hoe verander oorskietwol in iets bruikbaar.

In die laaste tye is ek, soos duisende vroue, ook deur troebel waters. Heuphoogte. Skouerhoogte. Kroontjiehoogte. In my geval was dit grotendeels siektewaters wat soos ’n modderbrander oor my gespoel het. ’n Omleiding in my bobeen. ’n Woedende abses in my lies. Driemaandegriep. En toe kom groei daar ook ’n hardnekkige fungus in my blaas.

In Women Who Run with the Wolves skryf Clarissa Pinkola Estés hoe ’n vrou soms fokus verloor, om welke rede ook al, en “jumps onto her horse and rides off in all directions”.

Omdat ek omtrent aaneen olik en in pyn was, het ek instinktief teruggewerk na my kooi toe. Met my sawwe kombers tot teen my nek opgetrek en agter digte gordyne het ek in en uit die slaap gedommel.

Dáár op my wonderskuimmatras, kop weggesink in ’n donskussing, was my enigste plek van veiligheid en redelike gemak. Gevolglik het my werk lelik agtergeraak. Maar ek was innig dankbaar dat ek my eie baas is en by niemand siekverlof hoef af te pleit nie.

Toe die beterskap begin intree, vloog ek uit daardie kooi en probeer soos ’n maniak inhaal wat agtergeraak het.

In Women Who Run with the Wolves skryf Clarissa Pinkola Estés hoe ’n vrou soms fokus verloor, om welke rede ook al, en “jumps onto her horse and rides off in all directions”. Of sy word soos “a broken feather bed scattered all over the countryside”.

Tog, tussen al die barensnood, tjinnertjies, droogtes, siektes en aangebrande kospotte slaag ons om ongedeerd uit die sementdam te klouter.

En om met kappende kniekoppe deur die veld van die lewe te loop en die weggewaaide vere in ’n sloop bymekaar te stop. Elke dan en wan rus ons ’n wyle met ons rûe teen die kopstuk van ons beskuttende bedhawe, en stap die opdraandpaaie voort met regop skouers.

As ons Krismistyd terugkyk op ’n jaar van wilde esse, sien ons watter leeue-aandeel ons mans gespeel het in die vermyding van chaos.

Daarom wil ek dankie sê vir die manne wat raaksien as ons verematras oopbars of as die perd met ons op loop sit.

En dan op húl manier, soms onopsigtelik en ietwat lomp, wagstaan dat die wa nie oor die afgrond neuk nie. Dánkie, regtig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.