Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Regsplig om op te tree?

Na aanleiding van die George Floyd-voorval in die VSA vra Gustaf Pienaar of iemand strafregtelik aanspreeklik gehou kan word omdat hy spreekwoordelik met sy hande is sy broeksakke gestaan het.

Twee videogrepe van die voorval wat tot George Floyd se dood gelei het.

By die skryf hiervan is daar nog grootskaalse onrus in Amerika nadat polisiebeamptes van Minneapolis, Minnesota, George Floyd (46) se dood veroorsaak het.

Volgens ’n omvattende uiteensetting van die gebeure op Wikipedia het drie polisiemanne op Floyd toegesak in ’n poging om hom in hegtenis te neem weens ’n betreklik geringe misdaad.

Kringtelevisie-opnames en die video’s en getuienis van omstanders toon hoe ’n geboeide Floyd by die regteragterwiel van ’n polisiemotor op die grond vasgepen word. Een polisieman hou sy bene vas, en ’n tweede oefen soveel druk op sy rug uit dat hy nie normaal kan asemhaal nie. “I can’t breathe!” kerm Floyd herhaaldelik.

Die eintlike skade word egter veroorsaak deur ’n derde polisieman – Derek Chauvin – wat vir altesaam 8 minute en 46 sekondes doodluiters met sy knie op Floyd se nek druk en hom basies versmoor.

Chauvin is van moord aangekla en summier, saam met drie van sy makkers, afgedank. Vier polisiemanne is dus in die sop.

Maar wag, hoor ek jou sê, daar was mos net drié polisiemanne aktief by die voorval betrokke: Die een by Floyd se bene, die een op sy rug, en die derde by sy nek. Ja, maar daar was ook ’n viérde polisieman betrokke: Tou Thao het passief gestaan en kyk wat met Floyd aan’t gebeur was.

“Hy is medepligtig!” het my vrou uitgeroep toe ons op ’n nuusuitsending sien dat Thao absoluut níks doen om Floyd te beskerm nie. Ek het haar argwaan gedeel, maar kon nie met haar saamstem dat – as ons net op die videobeelde staatmaak – Thao ’n medepligtige was nie.

Die vraag is wel of hy hoegenaamd strafregtelik aanspreeklik gehou kan word omdat hy spreekwoordelik met sy hande in sy broeksakke gestaan het.

Strafregtelik aanspreeklik?

Ek moet bely dat ek min van die Amerikaanse strafregstelsel weet. Gevolglik sal ek wat daar gebeur het uit die perspektief van die Suid-Afrikaanse strafreg beoordeel. Immers, wat daar in Minneapolis gebeur het, kan netsowel hier te lande gebeur.

Die strafreg hou hom besig met . . . kom ons noem dit maar “onaanvaarbare” menslike gedrag. Sulke gedrag bestaan meestal uit aktiewe, positiewe handelinge, soos die optrede van die drie polisiemanne in Minneapolis.

Die “hoof-dader”, wil dit lyk, was die polisieman wat meer as agt minute lank die bloedtoevoer na Floyd se brein afgesluit het.

Die ander twee het hom egter aktief bygestaan, wat in regsterme van hulle mede-daders maak.

Die mede-dader is strafregtelik net so aanspreeklik as die hoof-dader. (Hy mag dalk wel ’n ligter vonnis as die hoof-dader opgelê word, maar dis nie nou ter sake nie.)

Die medepligtige is iemand wat ’n bietjie verder wegstaan van die pleeg van die misdryf self.

Sy optrede voldoen net aan sekere elemente van die misdryf. Hy is byvoorbeeld die ou wat vooraf die pistool aan die dader verskaf, wetende dat hy die slagoffer daarmee om die lewe sal bring. Daarvoor word die medepligtige op sy eie strafregtelik aanspreeklik gehou.

My vrou was dus verkeerd: Die polisieman wat alles passief gade geslaan het, “kwalifiseer” nie om as medepligtige bestempel te word nie.

Die vraag is of hy hoegenaamd strafregtelik aanspreeklik gehou kan word.

Gemeenskap se regsgevoel

Die strafreg hou hom nie slegs besig met onaanvaarbare pósitiewe menslike gedrag nie. In beperkte gevalle kan ’n mens se versúim om positief op te tree tot strafregtelike aanspreeklikheid lei.

Dit is egter nodig om daarop te wys dat daar nie ’n algemene plig op iemand rus om positief op te tree om iemand anders teen leed te beskerm nie. Jou “regsgevoel” behoort vir jou te sê dat die burgerlike omstanders wat die aanval op Floyd op video vasgelê het eerder as om hom te hulp te snel, tog nie strafregtelik vir hul versuim om op te tree aanspreeklik gehou behoort te word nie.

Reeds in die inleidende kursus tot ons strafreg word regstudente gewoonlik met dié vraag gekonfronteer: ’n Kampioenswemmer staan langs ’n swembad. ’n Kleuter, met wie die swemmer geen verbintenis het nie, val in die water en verdrink, terwyl die swemmer passief staan en toekyk.

Behoort hy strafregtelik aanspreeklik gehou te word vir sy versuim? Indien wel, waarvoor?

Die strafregkodes van lande soos Frankryk, België, Duitsland en Italië plaas ’n plig op jou om redelike hulp te verleen aan mense wat in gevaar verkeer, mits dit natuurlik prakties moontlik is sonder om die hulpverlener self aan onredelike gevaar bloot te stel.

Ons reg het anders ontwikkel. Ons howe laat hul lei deur wat van tyd tot tyd volgens hul oorwoë mening die regsgevoel van die gemeenskap – die sogenaamde boni mores – verteenwoordig.

Die menslike vryheid wat ruimskoots deur die Grondwet gewaarborg word, speel ’n belangrike rol. Mense sal dus nie ligtelik belas word met pligte wat hul prinsipiële grondwetlike vryhede in gedrang bring nie.

Aan die ander kant: Die Grondwet en ander wetgewing waak jaloers oor die regte van kinders, wat my laat wonder of die kampioenswemmer wat versuim om ’n kleuter te red, tog nie oplaas – na die oordeel van die gemeenskap – strafregtelik vir sy versuim aanspreeklik sal word nie. Tyd sal leer.

Regsplig om positief op te tree

Oor dekades heen het daar wel in ons reg sekere omstandighede uitgekristalliseer waaronder iemand se versuim om positief te handel as ’n misdaad beskou word.

Anders gestel, daar is gevalle waar daar ’n regsplíg op mense rus om positief op te tree. Ek noem hier enkele voorbeelde:

  • Wetgewing verplig jou om iets te doen. As jy versuim om betyds jou vuurwapenlisensie of jou rybewys te hernu, is jy in die sop.
  • Regsgeleerdes noem dit ’n omissio per commissionem – ’n versuim wat volg op ’n voorafgaande handeling: Jy stook ’n lekker braaivleisvuur, maar versuim om die kole te blus. ’n Brand ontstaan en in ’n buurhuis brand iemand dood. Jy kan dan ’n klag van strafbare manslag in die gesig staar.
  • Waar iemand beheer van ’n gevaarlike voorwerp of situasie neem: ’n Aggressiewe bobbejaan word in ’n hok gevang. Die persoon wat die dier aangekeer het, versuim om die hok behoorlik te beveilig, die bobbejaan ontsnap en maak ’n kleuter dood. Daardie versuim kan ook lei tot ’n klag van strafbare manslag.
  • Waar iemand in ’n spesiale verhouding tot iemand anders staan – soos tussen ouer en kind.

Dit gebeur dikwels dat ouers by inkopiesentrums “net gou inhol om iets te koop”. ’n Hulpelose kind word in die warm motor in sy babastoel gelaat. Die inkopietog duur langer as wat beplan is en die kind sterf weens blootstelling.

Hartseer soos dit is, sal die gemeenskap myns insiens oordeel dat die betrokke ouer strafregtelik weens sy/haar versuim aanspreeklik gehou word.

  • Iemand wat uit hoofde van die amp wat hy beklee, verplig word om in bepaalde situasies positief op te tree ten einde iemand teen leed te beskerm. Polisiebeamptes – soos Minneapolis se Tou Thao – is hier ter sprake, maar strafregkenners bespiegel dat daar ook in uitsonderlike gevalle ’n regsplig op ’n dokter mag rus om sy intieme kennis van ’n pasiënt se siekte (soos vigs) met kwesbare belanghebbendes te deel.
Gustaf Pienaar

Ek weet nie van ’n geval waar ’n polisiebeampte in ons reg al strafregtelik aanspreeklik gehou is weens sy versuim om iemand wat voor sy oë aangeval word te beskerm nie.

Daar is wel ’n hele paar gevalle waar die staat al deliktueel weens die pligsversuim van ’n polisiebeampte aanspreeklik gehou is. Jammer genoeg word die staat – en dus die belastingbetaler – telkens gelas om skadevergoeding op te dok.

Die beginsels vir deliktuele en strafregtelike aanspreeklikheid in sulke gevalle stem tot ’n groot mate ooreen, en ek dink dis net ’n kwessie van tyd voordat polisiebeamptes – Suid-Afrika se eie versuimende Tou Thao’s – hul rieme ook in die strafhof sal styfloop. In ons reg behoort die aanklag teen ’n polisieman soos Thao strafbare manslag te wees, sou ek reken.

Of hy skuldig bevind sal word, is natuurlik ’n heeltemal ander vraag.

  • Bronne: Jonathan Burchell: Principles of Criminal Law (Juta, vyfde uitgawe, 2016); en.wikipedia.org/wiki/George_Floyd
  • Pienaar is ’n nie-praktiserende advokaat van Vleesbaai.
Meer oor:  George Floyd  |  Gustaf Pienaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.