Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Ruggraatlose wagter op muur

Adv. Shaun Abrahams, grootbaas van die nasionale vervolgingsgesag, kwalifiseer loshande as seker die grootste tweegatjakkals wat die afgelope twee jaar in Suid-Afrika los loop.

Abrahams is ’n man wat nooit aangestel moes gewees het as hoof van die nasionale vervolgingsgesag nie, maar hy is deur Jacob Zuma opgeroep vir hoër diens.

Hy was een van die wagters op Zuma se mure wat moes keer dat die oudpresident sy dag in die hof kry.

Johann Maarman

Zuma het Abrahams uit die bloute aangestel nadat hy eers van Mxolisi Nxasana ontslae geraak het deur Nxasana ’n goue handdruk van meer as R17 miljoen te gee.

Intussen moet die konstitusionele hof ook nog besluit of Nxasana in sy pos heraangestel moet word en of die pos vakant verklaar moet word.

Abrahams was ’n gewillige voetevaller en rugkrapper van Zuma. In sy eerste dae as hoof van die nasionale vervolgingsgesag het hy besluit om Pravin Gordhan aan te kla – ’n mens hoef nie ’n wetenskaplike te wees om te bepaal van wie daai sotlike opdrag gekom het nie. Gordhan is Zuma se nemesis en iets moes gedoen word om Gordhan te bevlek en te neutraliseer.

Abrahams was maar ’n al te gewillige handperd om die opdrag uit te voer.

Omring deur die wêreld se nuusmedia het Abrahams met groot fanfare aangekondig dat Gordhan strafregtelik vervolg gaan word, maar skaars twee weke daarna het hy ’n eierdans uitgevoer en teruggekrabbel en moes sy woorde sluk.

Praat nou van ’n man wat sy naam met ’n plank geslaan het!

Abrahams was so diep in Zuma dat hy selfs geweier het om Duduzane Zuma, seun van die voormalige Nommer Een, te vervolg oor ’n ongeluk waarin ’n vrou gesterf het. Selfs ook toe daar oorgenoeg bewyse was dat die land gekaap is deur ’n Indiese familie het Abrahams anderpad gekyk. Hy was soos die drie apies wat niks gehoor, gesien of gesê het nie.

Abrahams het nie ’n hartsverandering ondergaan nie. Hy is gedwing om die werklikheid in die oë te kyk.

Terwyl dit tyd was om Zuma se rug te krap, het hy vrede gehad met sy kritici. Hy was Nommer Een se witbroodjie en dit is al wat getel het.

Maar toe kom die ANC se leierskonferensie en Zuma val uit die bus en Cyril Ramaphosa het die nuwe intrekker in die Uniegebou geword.

In sy eerste staatsrede het Ramaphosa nie doekies omgedraai oor waar hy met die nasionale vervolgingsgesag staan nie. Ramaphosa se ongeduld met Abrahams was nie eens verbloem nie. Ramaphosa het begin om die mat onder Abrahams se voete uit te pluk deur aan te dui dat die presidensie nie meer gaan appelleer teen ’n hooggeregshofbesluit dat Abrahams uit sy pos verwyder moet word nie. Abrahams het gesien hoe die wind begin waai en skielik begin hy toe ruggraat wys en besluit om Zuma tóg te vervolg. Iets wat hy van die begin af moes gedoen het, maar toe is hy deur die Zuma-kartel ingesluk.

Nie net het hy besluit om Zuma te vervolg nie, maar ook vir Duduzane.

Dít is nadat AfriForum gedreig het om Duduzane privaat te vervolg.

Die “nuwe Abrahams” is nou ook besig om selfs die Guptas se spoor te vat, maar sy skielike ommeswaai is te laat.

Abrahams het nie ’n hartsverandering ondergaan nie. Hy is gedwing om die werklikheid in die oë te kyk. Hy moes van die begin af net sy werk gedoen het en hom nie laat beïnvloed het deur Zuma en sy sikofante nie.

Abrahams kan allermins vertrou word as grootbaas van die nasionale vervolgingsgesag, want hy draai sy mantel na die wind. Hy moet skoert. En vinnig ook. Soos Julius Caesar gesê het: “The die is cast.”

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Duduzane ­Zuma  |  Johann Maarman  |  Adv. Shaun Abrahams  |  Rubriek  |  Anc  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.