Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Ruiter moet waak teen die horingslange

’n Swartgallige lewensuitkyk is iets wat ek niemand toewens nie. Om elke dag op te staan met ’n verdoemenis wat oor jou hang, moet ’n foltering wees. Niks is mooi nie. Niks om oor te lag nie. Niks om na uit te sien nie. Nêrens om heen te mik nie.

Tog, om vanweë logiese redes negatief te wees, sê nie jy is ’n moedverlorene nie. Daar ís neigings wat kommer regverdig en waarvoor oplossings bedink moet word. Ek erg my stinkdik vir mense wat sê: “Ag, moenie so negatief wees nie. Alles sal regkom.”

Dis ’n feetjieverhaal om te glo en te verkondig alles sal vanself regkom.

In Genesis 49 roep Jakob sy 12 seuns bymekaar om hulle te seën. Na gelang van hul geaardhede en optrede voorspel hy wat eendag hul nageslagte se lot sal wees. Hy waarsku sy Issaskar-seun: “Daar is ’n horingslang op die grootpad. Hy pik die perd aan sy hakskeen, die ruiter val agteroor.”

Ons landsruiter, die goewerment, is besig om agteroor te val. Dis kwellend, want eindelik gaan die sware perd op ons val en ons vermorsel.

Dít omdat ons regeerders nie die horingslang in die pad raaksien en betyds die perd eenkant toe stuur nie. Ek wil nie beweer die goewerment moet vir alles pa-skap vat nie, want elke mens kan sy eie keuses maak waarvoor die ruiters nie verantwoordelik gehou kan word nie.

Dié week is in die media berig ’n ongesonde persentasie hooffigure in kernposisies in ons land is hoegenaamd nie bekwaam nie. Is kaderskap dan vir die ruiters só prominent dat hulle hul sop oorsout sal kook daarvoor?

Jacob Zuma steek toonnaels in die grond met die Zondo-kommissie.

Jacob Zuma steek toonnaels in die grond met die Zondo-kommissie. En hulle gaan drink teetjies by Nkandla; lek hom 17 keer op, en 18 keer af. Beséf hulle waaragtig nie dis ’n dodelike horingslang wat die regstelsel se perd aan die hakskeen kan pik nie?

Met die laaste sensus is 55 miljoen mense in die land getel. Onlangs hoor ek op ’n televisieverslag ons is nou 65 miljoen. Ons landsbevolking durf nie in enkele jare met 10 miljoen groei nie. Waar sal almal kos, blyplek, werk, water, skole, medisyne en welsynstoelae kry?

Dis nie ’n negatiewe vraag nie; dis ’n logiese vraag. Te hoë bevolkingsaanwas móét mos armoede in die hand werk. Maar ek hoor geen ruiters dáárvan praat nie. Daar is talle horingslange op die pad. Vetsug. Tuberkulose. Dwelmsmouse en bendes wat ongekroonde ruiters is. Huislose kinderbedelaars. Alkoholduiwel. Rioolvuil wat deur pleitende mense se huise loop. Vergiftigde riviere. Haas onrybare paaie. En, en . . .

Sién die ruiters dit nie? Of het binnegevegte en die aangaan van nóg wêreldskuld belangriker geword as die uitroei van horingslange?

Pres. Cyril Ramaphosa, ons hoop is op jóú as hoofruiter gerig. Jy moet Suid-Afrika se seuns en dogters seën met wyse oordeel. Voordat die ruiter agteroorval.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Ruiter  |  Negatiewe Uitkyk  |  Horingslange  |  Lewensuitkyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.