Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Sak graan of demokrasie?

Die Britse Nobelpryswenner, filosoof en wiskundige Bertrand Russell (1872-1970) het gesê: “As een mens jou demokrasie aanbied en ’n ander ’n sak graan, in watter stadium van hongersnood sal jy die graan bo die stem verkies?”

Dié woorde kom by ’n mens op met die plaaslike verkiesing op die horison. ’n Groot deel van die kieserskorps van die land is honger. Dis ’n stryd om elke dag te oorleef en om liggaam en siel bymekaar te hou en met die stygende werkloosheidskoers is dit moeilik om die hongerpyne te stil.

Dus, as honger mense ’n keuse gegee word tussen ’n sak graan en hul demokrasie, is dit verstaanbaar dat hulle die aalmoese (die sak graan) van die ANC sal aanvaar. En die ANC weet dit alte goed. Die aalmoese is deesdae dalk nie in die gedaante van ’n sak graan nie, maar in die gedaante van maatskaplike toelaes – broodnodige geld wat in die politieke ruilhandel aangebied word vir jou stem.

Dit gee stimulus aan die bose kringloop waarin mense genoop voel om vir die regerende party te stem, want die boodskap wat hulle kry, is dat die ANC-regering vir hulle sorg en dat ander politieke partye nie dieselfde vir hulle gaan doen nie sou hulle aan die bewind kom.

Daar word reeds ’n verbysterende R195,5 miljard aan maatskaplike toelaes betaal en indien die inkomstetoelae ’n werklikheid word, gaan die syfer maklik verdubbel.

’n Mens wil nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie, maar die alarms behoort af te gaan nadat Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, seine uitgestuur het dat die regering dit oorweeg om ’n basiese inkomstetoelae aan mense te gee om honger hok te slaan.

Daar word reeds ’n verbysterende R195,5 miljard aan maatskaplike toelaes betaal en indien die inkomstetoelae ’n werklikheid word, gaan die syfer maklik verdubbel.

Dis prysenswaardig van die regering om honger te verlig, maar die tydsberekening moet met agterdog bejeën word. Hoekom dan nou in ’n verkiesingsjaar? Voordat ons ook ’n vonkel in die oog kry, moet daar gevra word waar gaan die geld vandaan kom.

Belastingbetalers word reeds uit hul kouse en skoene belas en die voorgestelde inkomstetoelae gaan ’n nog groter duik in hul sakke maak.

Die ANC besef alte goed hulle is in die moeilikheid, hoewel hulle in die pas afgelope tussenverkiesings goed gevaar het. Hulle weet daar is toenemende ongedurigheid onder die kieserskorps en as dit nie gesmoor word nie, kan hulle dalk koebaai sê aan die Uniegebou.

Die ontevredenheid met die ANC se onbeholpenheid om behoorlik te regeer maak die party taamlik kwesbaar.

Voeg hierby die toenemende voorvalle van gewelddadige diensleweringproteste oral in die land en ’n mens kan sien hoe die naderende plaaslike verkiesing moeiliker gaan wees as voriges.

In vorige verkiesings het die ANC sterk staatgemaak op die sogenaamde bevrydingsdividend.

Nie meer nie. Die vroeë aanduidings is dat die ANC dit besef. Die party het reeds begin met ’n landwye veldtog om van partylede ontslae te raak wat met korrupsie verbind word. Dit is ’n teken dat hy nóg sy lede nóg die gewone kieser langer as vanselfsprekend kan aanvaar.

Ongelukkig staan die ego-faktor – soos maar altyd met politici – sterk in die weg daarvan. Kyk maar na Ace Magashule en sy kohorte se teenreaksie.

Wat misgekyk word deur die kritici, is dat dié opdrag van die ANC-leierskorps eintlik daarop dui dat die ANC – waarskynlik vir die eerste keer sedert 1994 – die kiesers na waarde skat.

Nou staan kiesers weer voor ’n keuse: Gaan ons maar weer die sak graan vat in ruil vir ons duur gekoopte demokrasie?

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Skenkings  |  Armoede  |  Graan  |  Honger  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.