Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saterdag in Springs

Hy het nie geweet wat om te verwag toe hy sy rybewys in Springs moes gaan hernu nie, skryf Jo Prins.

Jo Prins

Dis ’n Saterdagoggend in Springs . . .

Op ’n goeie dag sien ek myself nie dikwels aan die Oos-Rand nie, maar hier sit ek nou by die toetssentrum om my vyfjaarlikse rybewyskaart te hernu.

In die verlede kon jy net by jou naaste toetssentrum opdaag en jouself staal vir die lang toue en as die gode met jou is, is jy daar uit onder twee uur.

Met die pandemie op hande moet ’n mens nou vooraf aanlyn via die NaTIS-webblad ’n afspraak maak, en jy mag nét in dié gleuf (sowat ’n uur of 30 minute voor die tyd) jou opwagting maak.

Ha! dink ek, eezy peezy. Maak vinnig ’n afspraak en skiet deur Randburg toe wat die naaste toetssentrum aan ons in Melville, Johannesburg, is.

Dink weer, pappie. Op die NaTIS-blad is daar nie ’n enkele tydgleuf êrens anders in die hele Gauteng beskikbaar nie.

In my dagsak, wat ek al vir jare in die joernalistiek gebruik, pak ek 'So byna blou' van Emile Joubert in (kortverhale is die beste ding om te lees wanneer jy in lang rye moet wag); twee goedkoop balpuntpenne; al my dokumentasie; beursie; water; handreiniger . . .

Ek gaan die oggend in op die stelsel; weer die middag; heelwat later die aand; en toe wéér hier teen 03:00 toe die bostonterriër my wakker maak om ’n draai te gaan loop.

Nie ’n enkele gap nie.

Maar die kalf is in die put, my rybewys het al ’n week vroeër verval en as die metropolisie my nou stop . . . en een van die dae is ons op die langpad deur die Karoo op pad Kaap toe.

My vrou bied aan om te help. Sy gaan in die volgende twee dae elke nou en dan in op die NaTIS-stelsel en wragtig! Sy bel my: “Ek het ’n slot, Saterdagoggend om 10:30 in Springs”.

Nou, ek laat doen eerder ’n wortelkanaal op ’n Saterdagoggend. Maar doen, moet dit gedoen word.

Brom-brom in die kar pak ek die sowat 50 km na die Springstoetssentrum in “Dieselstraat” aan. By die tweede tolhek dink ek: Jissie, maar die N17 is darem maar ’n lieflike pad om te ry. Dis by verre die beste ding van dié uitstappie.

In my dagsak, wat ek al vir jare in die joernalistiek gebruik, pak ek So byna blou van Emile Joubert in (kortverhale is die beste ding om te lees wanneer jy in lang rye moet wag); twee goedkoop balpuntpenne; al my dokumentasie; beursie; water; handreiniger . . .

Gelukkig het ek vooraf my aansoek voltooi, so die eerste ry waarin ek beland, is net om temperatuur te neem en hande te ontsmet.

Só skuifel ons aan . . .

Só skuifel ons aan, maar ek kry geensins gelees nie, want die skuifel is eintlik heel flink en die sowat 50 mense in die ry word sommer vinnig-vinnig minder.

Agter my is ’n sigbaar geïrriteerde jong man en sy vriendin, wat met elke skuifel meer moerig word.

“Hoekom kan ’n mens hierdie nie aanlyn doen nie soos met die aansoek vir ’n paspoort?”

So terloops vra ek in die verbygaan vir ’n verkeersbeampte of die kaartmasjiene binne die gebou darem werk, of neem hulle net kontant?

Die kêrel gaan vind uit en kom terug met die nuus: “Hulle neem vandag net kontant, daar is ’n OTM by die vulstasie om die draai.”

Daar is ’n hoorbare kreun uit die ry, ek inkluis.

Agter my vra Brombeer hoeveel geld ek nodig het, want hy het ’n rol note in die hand. Ek doen sommer daar in die ry op my foon ’n elektroniese oorbetaling terwyl hulle kyk, en hy stop my R300 in die hand.

“Saak is reg!”

Die hele nag het daar niks gebyt nie, niks! En toe vanoggend toe ek op pad is hierheen, toe laat weet hulle my my stok het ’n byt gekry. En dis ’n moerse karp!

Hier gaat ons, die poorte wink! Ons is by die ingang van die gebou waar die staanry nou ’n sitry word. Een van daai rye wat jy so sit-sit aanskuif . . . perfek vir lees, dink ek.

Aikôna. Die jong man se meisie sit langs my en toe hy ná haar die sitry binnekom, is dit van vooraf ’n gekla.

Hy kan nie glo hy moet híér sit nie . . . kan nie!

Hulle het iemand betaal om vir hulle ’n afspraak-slot te soek, en toe vanoggend vroeg kry hy die nuus dat hy hier moet wees.

“Die ding is,” sê hy “ons het gisteraand by ’n dam hier buite ons stokke gaan ingooi. Die hele nag het daar niks gebyt nie, niks! En toe vanoggend toe ek op pad is hierheen, toe laat weet hulle my my stok het ’n byt gekry. En dis ’n moerse karp!”

Hier sit die arme man nou en net sy stok het ’n vis gevang . . .

Hy gee my sy selfoon aan en wys ’n foto van die “moerse karp”. Hy fluit deur sy tande.

“Jissie, dis ’n bielie,” sê die meisie.

En toe’s dit tyd vir ons oogtoets en ek sien so uit die hoek van my oog hoe die jong man in die stoele aanskuif, en elke keer wanneer hy af na sy foon kyk, skud hy sy kop in ongeloof.

• Prins is ’n digter en vryskutjoernalis van Johannesburg. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Jo Prins  |  Springs  |  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.