Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Sirkel is met republiekwording voltooi

Op Maandag 31 Mei sal dit 60 jaar gelede wees dat die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom het.

Vir die Nasionale Afrikaner was dit ’n groot oomblik. Die sirkel – van die ondergang van die Boere­republieke met die nederlaag in die Anglo-Boereoorlog op 31 Mei 1902 tot republiekwording op 31 Mei 1961 – was voltooi.

Pieter van der Dussen was daardie dag op die feesviering op Kerkplein teenwoordig. Hy gee ’n intens-betrokke weergawe van sy gevoelens daardie dag. “Daar op die balkon van die Hooggeregshofgebou sou ’n volk ná 59 jaar uiteindelik weer sy staatspresident sien verskyn. Daarvandaan sou staatspresident C.R. Swart sy volk toespreek terwyl hy op die Ou Raadsaal uitkyk, waarvandaan sy voorganger, staatspresident S.J.P. Kruger, die volk in 1898 toegespreek het.”

Reeds die vorige aand was Van der Dussen deel van ’n groep wat die koue en reën op Kerkplein getrotseer het om die koms van die republiek in te wag. Om middernag het die Raadsaalklok die oomblik aangekondig. “Vergeet ’n mens ooit so ’n oomblik?” skryf hy. Toe klink “Prys die Heer met blye galme” op, gevolg deur “Die stem”.

Vroeg die oggend van 31 Mei het mense op Kerkplein begin aankom. Die reën het hulle nie gestuit nie. Die weermag- en polisie-kolonnes het hoorbaar geword en verby gemarsjeer. Die voertuig-optog met hoogwaardigheidsbekleërs met die aangewese staatspresident en mev. Swart agteraan het om Kerkplein voor die Ou Raadsaal verbybeweeg na die Bosmanstraatkerk, waar die staatspresident ingehuldig sou word.

Dit was aangrypend, die son wat deurbreek oor die Republiek van Suid-Afrika!

Die erediens deur ds. P.S.Z. Coetzee en hoogeerwaarde E.G. Knapp-Fischer is oor die radio en ook oor luidsprekers vir die sowat 40 000 mense op Kerkplein en nog 30 000 in die omringende strate uitgesaai.

Daarop het hoofregter L.C. Steyn die ampseed aan die nuwe staatspresident voorgelees, waarop hy geantwoord­ het: “In die teenwoordigheid van die Almagtige God sweer ek, Charles Robberts Swart, trou aan die Republiek van Suid-Afrika.”

Daarna het die geselskap onder ’n seildakgang van die kerk na die Hooggeregshofgebou gestap. Skielik het die reën opgehou. “En drie minute voor elf, net voordat die geselskap op die balkon van die Hooggeregshofgebou verskyn, breek die son vir enkele minute deur”, onthou Van der Dussen. “Dit was aangrypend, die son wat deurbreek oor die Republiek van Suid-Afrika!”

Die geskiedenis vertel ons dit was die Nasionale Afrikaner se invalshoek op republiekwording.

Ander standpunte het daarmee gebots. Die Rand Daily Mail het berig anti-republikeine het in die tuin van Durban se stadsaal byeengekom om ten tyde van die president se toespraak die verbreking van Suid-Afrika se bande met die koningin en die Statebond te betreur.

Ons lees ook dat swart Suid-Afrikaners die nuwe republikein-se konstitusie beskou het as ’n direkte verwerping van een mens een stem, soos uitgedruk deur die ANC se Freedom Charter. Reeds op25 Maart 1961 het ’n “All-In African Congress” ’n resolusie aanvaar dat “no Constitution or form of Government decided without the participation of the African people who form an absolute majority of the population can enjoy moral validity or merit support”.

Slaggate het vir Suid-Afrika voorgelê.

  • Pretorius is emeritus-professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.