Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Situasie om ’n gat mee toe te stop

Hoekom is dit deesdae oukei om mense bloot aan te hou vir eie gewin of seks? Hoe gebeur dit dat jy iemand anders basies as ’n gratis escort gebruik en daarmee wegkom? vra Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Daar is nou ’n nuwe term in die wêreld van internetromanse – ’n situationship. Vergeet van gewone verhoudings of selfs aanhoudings (huwelik – ha-ha) – nou is daar die “houding”.

’n Houding is waar jy iemand sien hoofsaaklik vir seks, maar daar is ook vriendskap by betrokke en dit mag later in ’n volbloed verhouding verander. Maar tot dan is daar geen reëls, geen commitment en geen toekoms nie.

Ek noem dit die “houding”, want dié woord is vir my tweeledig: Dis ’n houding teenoor liefde, seks en romanse. Dié houding is ’n mengsel van wag tot iets beters oor jou pad kom en “kom ons sien wat gebeur”.

Hierdie houding is hopeloos te grys vir my.

Die tweede betekenis van houding is “hou-ding” en dis presies wat ek voel ek sal wees in so iets. Net iemand se hou-ding. Ek word aangehou vir pret en plesier tot iets beters oor sy pad kom. Met ander woorde, ek is nie goed genoeg om vir altyd te hou nie.

Ook die direkte vertaling van situationship gee ’n mens ’n aanduiding van wat hier gaan gebeur. Die woord “situasie” het nog nooit vir my goeie konnotasies gehad nie. ’n Situasie is vir my gelykstaande aan ’n krisis in sy ergste graad – of dan ten minste iets wat opgelos moet word.

Ek hou nie van situasies nie. Dis ontwrigtend en ’n irritasie.

Natuurlik pas situasieskappe of houdings mense wat nie lus is vir commitment nie. Wat die verskil is tussen dit en ’n “vriend met voordele” is ek ook nie so seker van nie. Die internetromanskenners reken egter dat “voordelevriende” meer seksgerig is, terwyl jou hou-dingetjie beslis ook vriendskap insluit en wel kan ontwikkel in meer.

Ek weet darem nie so mooi nie. Weet ’n mens nie onmiddellik wat jy wil hê nie? En hoekom sal iemand hom- of haarself blootstel aan ’n situasie waar jy gaan voel jy is nie goed genoeg vir iets permanents nie?

Sommige het eenvoudig nie die tyd vir ’n verhouding en al die tyd en eise wat dit meebring nie. Ander voel weer hulle het ’n tydelike toestoppertjie nodig.

Natuurlik is my eerste instink om te reken dat dit nou net weer iets nuuts is wat uitgedink is deur die manlike geslag sodat hulle die koek én die versiering kan eet.

Tog verseker die mans my dat daar baie vroue is wat dieselfde voel. Maar ek hoor ek nie dat vroue hiermee saamstem nie.

En soos ek vroue ken, of dalk projekteer ek hier, sal ons onsself in so ’n “situasie” begewe in die hoop dat die man van besluit verander en ons van hou-ding na verhouding kan beweeg. Maar soos ek mans ken, as hy jou eers in die kategorie van hou-ding geplaas het, beteken dit bloot dat hy jou gaan aanhou totdat iets beters opdaag.

Hoekom is hierdie soort verhoudings deesdae moontlik? Hoekom is dit deesdae oukei om mense bloot aan te hou vir eie gewin of seks? Hoe gebeur dit dat jy iemand anders basies as ’n gratis escort gebruik en daarmee wegkom?

Want ek glo vas, maar vas dat vroue nie juis gemaak is vir los, ongedefinieerde situasies nie.

Wel, die morele waardes is besig om te verslap, die instandhouding van huwelike word bevraagteken en onder die ouer “daters” (45 en opwaarts) is dit gewoonlik mense wat ontnugter is deur egskeidings en gebroke harte. Dus wil hulle hulself nou net in selfgeskepte situasies begewe.

Sommige het eenvoudig nie die tyd vir ’n verhouding en al die tyd en eise wat dit meebring nie. Ander voel weer hulle het ’n tydelike toestoppertjie nodig.

Wat my bekommer oor hierdie situasies is dat mense kan seerkry. Spesifiek vroue. Want ek glo vas, maar vas dat vroue nie juis gemaak is vir los, ongedefinieerde situasies nie. Tensy die vrou regtig in ’n tyd van haar lewe is waar sy ook net iets soek wat die gat in haar lewe gaan toemaak, weet ek nie of dit die beste situasie is waarin sy haarself kan bevind nie.

Self het ek nog nooit van ’n situasie gehou nie. Want dit eindig nooit goed nie. En ek is niemand se hou-ding nie. Dit is my houding – en daarmee basta.

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Diedericks se jongste boek, Seks, leuens en die internet, ’n memoir gegrond op haar gewilde Netwerk24-rubrieke het onlangs by Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa, verskyn. Dit is nou in winkels en aanlyn beskikbaar.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  Liefde  |  Romanse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.