Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Skietgebed op Nkandla oor nuus in Harare
Charles Smith

Ek wonder of Jacob Zuma saans ’n gebedjie opsê voor hy inkruip.

Sal hy by sy bed kniel, sy hande voor sy gesig saamslaan en bid: “O Here, help hierdie land en sy mense. . .”

Of sal hy net voordat hy sy tiervelkombers tot teen sy ken optrek as hy langs mamma Gertrude in die hoofhuis op Nkandla inkruip haar hand vat en sê: “Mamma, die wêreld is ’n stukkende plek. Sal ons ’n oomblik stil word?”

Ek kan hom Dinsdagaand sien waar hy dalk op die rusbank agteroor sit met mamma Thobeka en mamma Gloria weerskante van hom en hy bekommerd na die gebeure in Zimbabwe op die televisie kyk.

“Ai, kyk net. Die ondankbare mense. Ná alles wat uncle Bob vir die mense van Afrika gedoen het. En hy is so ’n liewe, sagte man. Hy het mos gesê hy gaan vir ewig regeer, soos die ANC!”

Tsjik, sal Thobeka haar tong klap en haar hand oor sy bobeen laat gly. Die beelde op televisie verveel haar. “Pappa, Grace ry met twee Rolls Royce-karre. Ek moet met ’n Mercedes tevrede wees. Jy het nog laas belowe ons sal nooit teen die Mugabes afsteek nie. . .”

Nie dit ook nog nie, sal hy sug. Dis nie aldag maklik om Jacob Zuma te wees nie. Al die lelike goete wat die koerante oor jou skryf. Jirre, en in die boeke! Dan is daar staatskapings en staatsgrepe. En vier vroue om gelukkig te hou (en ’n gewese vrou om in Tuynhuys te kry dat jy uit die tronk kan bly!).

“Eisj, nie nou nie, Thobeka. Jy weet mos dis vanaand Gertrude se beurt. Die skoflys is teen die kombuisdeur. Ek sal vir uncle Wladimir vra as ek hom bel oor die karre. Maar hy het gesê as die eerste kernreaktor staan, kry ons ’n vet krismisbôks op Nkandla.”

“Ai, pappa. Dis altyd Gertrude wat voorgetrek word. Dis ons wat die skottelgoed was as die Russe, die Guptas en die premiersliga hier kuier,” sê Gloria vies.

Dis kameraad Mugabe se foon. Iets het voorgeval. Bid vir my en Grace!

“Komaan, julle. Wie gaan vir my lekker vis en tjips bak? Ek gaan gou vir uncle Bob bel. My hart breek vir hom – en daai mooi vrou. Huh, hmmm, ek bedoel, sy aanvallige vroutjie. . . Van die premiersliga gepraat, ek moet nog comrade Ace bel. Atul wil weet wanneer hy sy kannetjie room van Vrede kan verwag. Hê-hê. . .”

Hy bel Harare toe, maar kry net ’n stemboodskap: “Dis kameraad Mugabe se foon. Iets het voorgeval. Bid vir my en Grace!”

Dan stuur hy ’n WhatsApp vir NDZ: “Jy’s steeds my mistress, my prikkelpop, my hartedief. Los Cyril vir my!” met emojikons van ’n engeltjie en soentjies.

Die tonele in Harare ontstel hom. Hy sug en lei die twee vroue na bo as Getrude roep. Hy vat hul hande en hulle sluit die oë: “Ons bid vir Robert en Grace Mugabe. Wees ook genadig met ons mooi familie hier op Nkandla.”

Iewers op Nkandla se werf kraai ’n haan drie keer. Jacob Gedleyihlekisa Zuma se nekhare rys.

Meer oor:  Jacob Zuma  |  Robert Mugabe  |  Menings  |  Politiek  |  Rubrieke  |  President  |  Nkandla
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.