Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Skoot word oor die Russe se boeg geskiet

Die grootste militêre oefening sedert die einde van die Koue Oorlog word in die noordelike lente aanstaande jaar in Duitsland, Pole en die drie Baltiese staatjies gehou, het die Duitse ministerie van verdediging pas in ’n brief aan die parlementêre verdedigingskomitee laat weet.

Dis ’n oefening wat ingrypende internasionale implikasies het.

Die agtergrond is die vrees dat pres. Wladimir Poetin van Rusland op ’n dag kan besluit hy wil die drie Baltiese republieke – Estland, Letland en Litaue – terughê. Die drie was tot 1918 deel van die Russiese keiserryk, en het toe van Rusland weggebreek, maar is in 1940 met geweld deur die Sowjetunie onderwerp.

Hulle het eers met die uiteenval van die Sowjetunie in 1991 hul onafhanklikheid herwin. Sedertdien het hulle by sowel Navo as die Europese Unie aangesluit, maar die historiese herinnering aan die wrede Russiese stewel op hul nekke oorheers steeds hul politiek.

Poetin het hom al verskeie kere dubbelsinnig oor die drie se onafhanklikheid uitgelaat. Teen die agtergrond wat hy met die Krim en Oekraïne gemaak het, meen die Weste jy kan nie kanse waag nie.

Indien die Russe die drie openlik of op bedekte wyse binneval, sal Navo blitsvinnig moet gaan help, want die drie state sal op hul eie nooit kan standhou nie. Dis hier waar die oefening relevant word.

Indien die Russe die drie openlik of op bedekte wyse binneval, sal Navo blitsvinnig moet gaan help.

Die oefening is basies ’n herhaling van wat elke jaar gedurende die Koue Oorlog plaasgevind het. ’n Amerikaanse divisie van 20 000 man moet binne enkele dae vanuit Amerika op die toneel in Noordoos-Pole wees, ’n logistieke operasie van yslike omvang.

Die soldate, hul wapens en voorrade moet per vliegtuig uit Amerika na Duitsland en Pole. Dan moet hulle na die grens van Litaue en van die Russiese eksklave Kaliningrad beweeg. Dit beteken die voertuie moet genoeg diesel hê, die paaie en brûe moet die swaar verkeer van onder meer tenks kan hanteer, die soldate moet weet hoe hulle moet ry, ensovoorts.

Die grens tussen Pole en Litaue is slegs sowat 90 km lank en staan as die Suwalki-gaping bekend (genoem na ’n dorp in die omgewing). Dít is waar Russiese magte dié van Navo gaan probeer keer en die Baltiese state isoleer.

Die oefening is dus daarop gemik om oorweldigende krag binne ’n baie kort tyd op die beslissende toneel aanwesig te kry. Daar sal natuurlik gekyk word na die ervaring van die Koue-Oorlogse oefeninge, maar destyds moes die versterkings net na Wes-Duitsland kom; nou moet hulle honderde kilometer dieper in Sentraal- en Oos-Europa indring.

Daar kan weinig twyfel wees dat die Russe weer oor die oefening sal raas; dis maar ’n normale deel van die politiek. Maar ’n suksesvolle oefening stuur ook ’n boodskap aan die Russe: Moet liefs nie iets probeer nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.