Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Skuimmaag laat hom van niks voorsê nie
Annelie Botes
Netwerk24

Onlangs soek ek op die internet na verklarings vir mense wat ure kliphard gevries het, en wonderbaarlik ontdooi en voortgeleef het. Op dié kom ek af op ’n storie wat in hierdie droewe dae te vermaaklik is om nié te vertel nie.

Oor ’n man en meisie van Salt Lake City wat op ’n molafspraak (blind date) in die berge gaan ski het. Só sluit hulle ’n goeie dag af met caffè latte in ’n bergrestaurant. En pak die terugtog op die kronkelende sneeupad met ’n slakkegang aan.

Halfpad ondertoe besef sy die romerige caffè latte is besig om te kolk in haar maag. Sy probeer haar krampe wegsteek, maar ’n skuimmaag is nie iets wat hom laat voorsê nie.

Verleë stel sy die saak voor die vreemde man. Hy stel voor sy knyp; daar is ruskamers ’n halfuur verder. Sy probeer, maar drie minute later sê sy hy moet stop sodat sy langs die pad kan hurk. Anders gaan dit op die sitplek gebeur.

Hy stop en sê ter bewaking van haar waardigheid sy moet by die agterste buffer hurk. Met snesies uit haar handsak struikel sy tot by die agterbuffer. In dieselfde asem dat sy haar pênteloon afpluk, gee haar brieke mee ... Onbeskryflike verlossing.

Enigste plan wat hý kan bedink, is om sy gulp oop te rits en te vra sy moet haar gesig anderkant toe draai.

Sy verskuif sywaarts en hurk met haar laerug teen die buffer, gereed vir die res van die latte-storm.

Die genotvolle dag is daarmee heen; geen man sal ooghare hê vir ’n kanonskutter nie.

Toe die storm uitgewoed is, maak sy haar respektabel met poeiersneeu en snesies.

Maar toe sy wil opstaan om haar pênteloon op te trek, is haar nakende kruis vasgevries aan die buffer. Sy beur tot dit voel asof haar vel afskeur, maar verdomp.

Deur die venster vra die beskaafde man of sy regkom, want in die verte hoor hy ’n voertuig aankom.

Toe skud sy die sak bevrore patats uit. Nogeens beskaafd bied hy aan om haar te kom help. Sy trek haar winterbaadjie uit en gebruik dit as skamele bedekking. Hy bekyk die besigheid en bars uit van die lag. Sy ook.

Enigste plan wat hý kan bedink, is om sy gulp oop te rits en te vra sy moet haar gesig anderkant toe draai.

Toe korrel hy sy instrument só dat die warm urine haar kruis kan lossmelt van die buffer. Soos die straal swakker raak, staan hy al hoe nader om niks te vermors nie.

Genadiglik was haar gesig weggedraai, en alles was verby voordat die aankomende voertuig hulle bereik het.

Nie lank daarna nie is hulle getroud. In ’n geselsprogram het hulle ’n prys gewen met die storie van hoe ’n molafspraak kan skeefloop. Alles oor ’n caffè latte.

Nou hoop ek iemand met ’n sterk stroom kan die regeringsmense, wat dikgedrink is aan romerige korrupsiemelk, afgevries kry van die buffer waaraan hulle vaskleef. En dat hulle eventueel hulle pênteloons opgetrek sal kry.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Urine  |  Humor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.