Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Slangsleepsel het die naweek op Ceres geval

Noudat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) klaar is tot by “s” (die derde deel van dié letter het verlede maand verskyn), wil ’n mens eintlik nog iets daaroor sê.

Jana Luther

Maar hoe laat jy reg geskied aan ’n manuskrip van 8 744 (A4-)bladsye met “s”-woorde alleen? As die mense vir wie jy skryf die woordeboek nie gebruik nie, nie self daarin gaan rondblaai nie, is dit eintlik maar ’n onbegonne taak.

Terwyl woordeboeke soos die HAT hoofsaaklik eietydse taalgebruik weerspieël, beskryf die WAT die woordeskat van Afrikaans so volledig moontlik.

Die 23 112 “s”-artikels waarin 46 780 woordbetekenisse verklaar word, omvat dus nie net gestandaardiseerde Afrikaans nie, maar ook woorde uit die alledaagse, spontane spreektaal van mense én woorde uit Afrikaans se verlede.

Hoe besluit ’n woordeboekmaker dat ’n woord waarvan sy of hy slegs enkele sitate (werklike gebruiksvoorbeelde) kon vind, verouderd is?

Dis nie altyd so maklik nie. ’n Spesifieke woord wat iemand in die Kaap of Musina nog nooit gehoor het nie, kán oud, argaïes wees, maar dit kan ook wees dat dit tot die spreektaal van mense iewers in Suid-Afrika of Namibië beperk is en dat dit op daardie plek nog daagliks gebruik word.

Van woorde wat nie geskryf word nie, vind leksikograwe moeilik gebruiksvoorbeelde. As ons nie in ons eie woorde aan mekaar ons stories vertel waar ons dit ook kan léés nie, gaan baie taaljuwele verlore. Met my gereelde, sommerse deurblaai van die WAT let ek daarom dikwels op inskrywings wat as streektaal, geselstaal of verouderd gemerk is.

Dikwels gaan dit oor natuurverskynsels: “Sabba, maar die windjie waai skraal.” “Soeba, dis koud vandag.” As dit gereën het, kon jy maar net die sentrale in Ceres, Loeriesfontein, Mer­weville vra waar en hoeveel die reëntjies was en hulle sou aan jou kon sê of dit “stofdood”, “spoordood”, “smeltgrond”, “slangsleepseltjie” of “padloop” gereën het.

Daar is byname vir diere: 'sabelbek' vir ’n boskraai, 'sandskoppertjie' vir ’n mierleeu. Daar is 'seerkopkalkoentjies'. Klipsalmanders is 'skurwejantjies'.

Daar is byname vir diere: “sabelbek” vir ’n boskraai, “sandskoppertjie” vir ’n mierleeu. Daar is “seerkopkalkoentjies”. Klipsalmanders is “skurwejantjies”.

Boerneef het nie verniet gesê nie: “Met woorde weet ons meermale geen raad nie / maar woordjies allamagtig moenie praat nie (. . .) op hierdie ou planeetjie is daar nie nog ’n volkie / wat met verkleinwoordjies kan werk soos my ou volkie.”

Tog pla dit my nie by dié soort naamgewing nie.

Streekgebonde of verouderd is: “sabander” (skoert); “santekraam” of “santepiek” (kaboedel); “sapperloot” (gebruik om verbasing, ontsteltenis uit te druk); “sikkeneurig” (kleingeestig, foutvinderig, kortsigtig); “sikkepit” (baie min of heeltemal niks nie); “skaggery” (’n lawaai of deurmekaarspul); “slampamper” (vir plesier of doelloos rondloop); “slabak” (om lyf weg te steek).

’n Ongewone versamelnaam is “skwaal” (’n skwaal vinke, mense; ’n sanger en sy skwaal).

As aanvangskomponent beteken “slenter-” “informeel, gemaklik” (“slenterdrag”), maar ook “slim, listig; waarmee iets gemanipuleer, iemand bedrieg, gekul kan word” (“slenterdiamant”).

Ons sou dus ook van “slenternuus” kon praat.

  • Luther is ’n mederedakteur van die WAT.
Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde Taal  |  Vernuwing  |  Skryf  |  Ou Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.