Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Sondagdigter’ en swart Afrikaanse skrywers

Patrick Petersen het hom in die apartheidsjare vir die regte van swart Afrikaanse skrywers beywer en sou vandag bly gewees het om te sien hoe die deure vir hulle oopgeswaai het, skryf Willem Fransman jr.

Die “Sondagdigters”: Patrick Petersen, Peter Abrahams, Eugene Beukes en André Boezak.

Patrick James Petersen sou op Saterdag 6 Julie 68 jaar oud gewees het. Hierdie geliefde dominee/digter is in die middernagtelike ure van 7 Junie 1997 tragies in ’n motorongeluk naby Paternoster dood.

Vir my sal Patrick Petersen altyd ’n onbesonge held bly. Telkens as ons – Patrick se digtersvriende – bymekaarkom, onthou ek sy woorde: “Voordat julle uitmekaar gaan, moet julle beslis vir mekaar ’n gedig of twee voorlees.”

Pat, soos vriende en kennisse hom genoem het, is as leraar en geestelike leier in die destydse NG Sendingkerk opgelei. Maar die digkuns het hom altyd na aan die hart gebly – nes die ander “Sondagdigters”, predikantsvriende wat ook gedig het: Peter Abrahams, Eugene Beukes en André Boezak.

In ’n artikel in Die Burger deur wyle Melvin Whitebooi, onder die opskrif: “So kan ‘gammat-taal weer blom’ ”, het hy sy passie onomwonde gestel: “Daar is só baie stof om oor te skryf, en die leefwyse van die bruinmense is – soos Adam Small dit gestel het – ’n braakveld wat ontdek moet word”.

Petersen se eerste bundel, hysarres, wat middel 1980’s aan ’n hoofstroomuitgewer voorgelê is, is afgekeur. Tog het dit nie sy skryflus geblus nie.

In ’n artikel in Die Burger deur wyle Melvin Whitebooi, onder die opskrif: “So kan ‘gammat-taal weer blom’ ”, het hy sy passie onomwonde gestel: “Daar is só baie stof om oor te skryf, en die leefwyse van die bruinmense is – soos Adam Small dit gestel het – ’n braakveld wat ontdek moet word”.

Met sy werk afgekeur, het hy die nou bekende Peter Snyders genader wat hom met sy skryfwerk gehelp het. Aan die begin is Snyders se kritiek op die man af, maar later word dit al hoe gunstiger. En so het ’n hegte vriendskap en lewenslange broederskap tussen die twee digters gegroei.

Snyders help hom om van sy werk in die letterkundige tydskrif Whietie gepubliseer te kry. Whietie is Kaaps vir praat of gesels. Dié tydskrif was destyds gesog onder protesskrywers en is kort daarna deur die apartheid-owerhede verbied.

Van Petersen se vroeëre werke het ook in swart letterkundige tydskrifte soos Ensovoorts, Graffier, The Bloody Horse (in Pretoria), Die Ligdraer (tydskrif van die NG Sendingkerk) en Dinamus (nuusblad van die Broederkring van die NG Kerke) verskyn.

Amandla Ngawethu sou sy eersteling-publikasie by Genadendal-uitgewers wees.

Kampvegter vir swart Afrikaanse skrywers

Patrick Petersen

In die Universiteit van Wes-Kaapland se teologiese fakulteit het hy ook kennis gemaak met en aktief betrokke geword by die Swartbewussynsbeweging en het hy die leerstellinge van Steve Bantu Biko sy eie gemaak.

Dit het Petersen later in sy lewe ook ’n kampvegter gemaak vir die regte van verontregte swart Afrikaanse skrywers.

Petersen word in 1975 as leraar in Oudtshoorn bevestig en dien later ook in ander gemeentes. Sy laaste gemeente was die NG sendinggemeente in Vredenburg.

Maar dit was tydens sy jare as leraar in St Helenabaai waar hy en ’n klein Gideonsbende van mede-skrywers – Noël Adams, André Boezak, Floris A Brown, CJ Hollenbach, MC Mackier en Marius Titus – die Afrikaanse kreatiewe landskap vir altyd sou verander.

In dáárdie eenvoudige pastorie, op ’n Saterdagmiddag, op 5 Desember 1987, is Prog-uitgewers gestig. Hul eerste bundel was dan ook heel gepas Aankoms uit die skemer (1988).

“Ons het gearriveer op die Suid-Afrikaanse skrywerslandskap . . . die verskyning van dié digbundel was werklik vir die digters ’n aankoms uit die skemer,” het Pat later gesê.

Ander bundels onder die Prog-vaandel was Advent (1988), Vergenoeg (1993) en Ons kom van vêr (1995).

Pat bemagtig ook vir Willie Adams en Leonard Koza om ’n uitgewery op die Kaapse Vlakte met die naam van Domestica op die been te bring.

‘Swart skrywers’ en Suid-Afrika

Petersen maak in 1989 saam met verskeie vooraanstaande Suid-Afrikaners deel uit van die Idasa-afvaardiging na die Skrywersberaad met die toe verbode ANC by die Victoria-waterval.

In 1985 tree hy as ’n spreker op tydens die eerste simposium vir swart skrywers by die UWK. In 1995 is hy ook saam met proff. Hein Willemse en Steward van Wyk die dryfkrag agter die sukses van ’n tweede soortgelyke simposium te Paternoster.

In die beskeie Paternoster-hotel is die term “swart skrywer” opnuut beredeneer.

Tydens sy toespraak het Pat dit as volg saamgevat: “Die term is nie letterlik op te neem in die sin van velkleur nie. Dit dui op ’n toestand van waar is ons en waar ons vandaan gekom het. Dit dui op ’n woord-in-spanning wat ons nog sal gebruik en gemaklik mee sal wees, tensy die situasie nie drasties verander nie.”

Tydens Paternoster 1995 was hy die dryfkrag agter die beweging om ’n inklusiewe skrywersorganisasie te stig. Op 30 Maart 1996 word hy dan ook heel gepas as die eerste nasionale voorsitter van die inklusiewe Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) gekies. Abraham H de Vries was die ondervoorsitter.

Pat se nalatenskap

In daardie tyd leer ek Patrick Petersen die mens ken. Ná die eerste dag van die eerste ASV-konferensie by die Rooikrantz-restaurant te Vredendal, ry ons na digter/dominee Peter Abrahams in Hopefield. In daardie motor was Pat, Diana Ferrus, Speedo Wilson, Robert Pearce, ek en Heindrich Wyngaard.

In ’n stadium toe Pat, wat bestuur het, ’n draai te kort vat, merk ek op: “Pat, onthou net, in die motor is ’n kosbare vrag. Op die oomblik is die room van die swart Afrikaanse skrywers se lot in jou hande. Ons kan nie nuus maak wat ons nie self kan lees nie.”

Weg van die kerk, wanneer die das losgemaak is en daar net gekuier is, was Pat net ’n gewone mens tussen sy vriende. Hy kon in sy bariton-stem die een staaltjie ná die ander inryg as die dubbel whisky, met baie water en ys, begin inskop het.

Patrick James Petersen moet sweerlik as die vader van swart Afrikaanse skryfwerk beskou word.

Maar hy was nooit uitbundig nie, want “ons is immers deur die kerk grootgemaak”, sou hy dikwels opmerk.

Pat se digkuns word vandag in verskeie skooldigbundels aangetref. As Adam Small die vader van Kaap genoem word en Peter Snyders met die titel van vader van Neo-Kaaps gekroon is, dan moet Patrick James Petersen sweerlik as die vader van swart Afrikaanse skryfwerk beskou word.

Die berugte grondpad (dis gelukkig deesdae geteer) tussen Vredenburg en Paternoster wat Pat al hoeveel keer tevore gery het en waaroor hy vriende dikwels gewaarsku het, het toe sy lewe geëis.

Hy was maar net 45 jaar oud en is beslis te vroeg van ons weggeneem.

Willem Fransman jr.

Sy nalatenskap is deur Willemse, sy intieme vriend en hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, as volg opgesom: “Sy poësie het die spektrum van menslike ervarings bestryk. Naas die politieke strydgedigte, waarin die sosiale kondisie van ons land beskryf en ondersoek word, kon hy met deernis ’n liefdes- of elegiese gedig skryf.”

Ná sy dood stel die Afrikaanse Skrywersvereniging die Patrick Petersen-gedenkprys in. Die KKNK-direksie vereer Pat ook in 2008 postuum met die Afrikaans Onbeperk-prys.

Patrick James Petersen sou vandag trots gewees het om te sien hoe die deure intussen vir swart Afrikaanse skrywers oopgeswaai het, hoewel dié term nie meer gebruik word nie.

Soos Joan Hambidge, digter en akademikus van die Universiteit van Kaapstad, gesê het: “Wanneer ’n digter sterf, praat sy/haar gedigte anders met ons en dit is dan, dikwels vir die eerste keer, wat ’n mens die digter na waarde kan skat.”

Laat ons dus Patrick James Petersen se woorde en nagelate verse geniet en deel. Want deur iemand aan te haal, verleen jy immers onsterflikheid aan sy siel.

* Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Steve Biko  |  Paternoster  |  Poësie  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.