Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Sprokie oor die winter en skoene van glas

In my tuin sien ek die laaste hale van die son in ’n kleurspel van dowwe repe geel wegsink.

’n Bosduif op die bure se teëldak huiwer vir ’n oomblik voordat hy sy vlerke sprei en in die laaste gerf son verdwyn.

Esté Gross

’n Geel ballon kom uit die noorde aangewaai en styg ál hoër verby die dakke en vaal kragdrade. Het dit miskien uit ’n kind se hand geglip?

Dit word kleiner en verskiet na ’n plek waar selfs seisoene voete kry.

Ek sien winter van ver aangestap kom.

Hy het nog ’n lang ent voor hom. Met sy grys jas en stoppelbaard klem hy sy pyp in die hoek van sy mond vas en stook wasem in die lug op.

Sy hande in sy broeksakke is vol vriespunte.

Hy strooi dit soos versiersuiker oor alles op sy roete en neurie sag, terwyl die dorre gras onder sy stewels kraak.

Hy is op pad na ’n glansgeleentheid, ’n bal by ’n kasteel op ’n heuwel.

Die gasheer is herfs. Die dansvloer is bestrooi met blare, ’n geskenk van bladwisselende bome.

Winter het herfs gevra om die gaste te paai om tog dié keer asseblief langer te bly en nie te vlug voordat hy kom nie.

Daar is iets wat hy al lank vir hulle wil sê.

Sommige feesgangers talm, net soos die duif op die dak, en wonder of hulle vir winter moet wag; besluit dan om tog saam met herfs te vertrek.

Maar nie almal is gemaklik in winter se teenwoordigheid nie.

Net soos met Aspoestertjie se koets is hulle bang dat hul drome sal verdwyn wanneer die klok vir die koms van winter slaan.

Die gaste hoor winter van ver neurie terwyl hy teen die heuwel op stap. Die sneeu begin val en die dansers en musiek word skielik stil.

Die orkeslede pak hul instrumente haastig weg en vertrek met hul partituur onder hul arm vasgeklem. Die kelners dek die tafels af.

Sommige feesgangers talm, net soos die duif op die dak, en wonder of hulle vir winter moet wag; besluit dan om tog saam met herfs te vertrek.

Toe winter eindelik aan die deur van die paleis klop, is daar niemand om hom te ontvang nie. Die trappe is, net soos die vorige keer, besaai met glasskoene wat die gaste in hul haas om weg te kom, vergeet het.

Hy sug, sy skouers sak moedeloos en hy tel die skoene een vir een op.

Hy verstaan waarom hulle bang is vir hom.

Die winter ontbloot die waarheid en herinner mense aan hul eie weerloosheid en verganklikheid.

Dit is iets waarmee sy vriende, die bladwisselendes, lankal vrede gemaak het. Hulle weet takke moet gestroop word sodat die lente weer kan kom.

Hy fluister sag, al is dit net hy wat kan hoor: “Onthou julle nie hoe lui die sprokie nie? Toe die klok om middernag slaan en die tydelike towerspel wegsmelt, het net die glasskoentjie behoue gebly, want dít is die enigste waarheid wat oorbly: Selfs in korter dae en koue nagte kan jy aanhou dans en steeds vrede vind.”

  • Gross is ’n omroeper, joernalis en sangeres.
Meer oor:  Esté Gross  |  Skoene  |  Winter  |  Glas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.