Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Stap ál nader aan ’n diktatuur

Hoe moet ’n mens die geskiedenis bekyk? Dít is die vraag by die beoordeling van die ANC-plan om temaparke te begin waarheen alle “standbeelde, simbole en monumente van die apartheids- en koloniale tyd” verskuif word. Op politieke vlak is dit ’n knieval voor Julius Malema en die EFF. Maar ’n mens moet dieper kyk.

Leopold Scholtz

In Amerika woed ’n heftige debat oor of standbeelde van politici en generaals wat in die Burgeroorlog (1861-’65) aan die Konfederale Suide se kant was, verwyder moet word. Dit sluit in mense soos die Konfederale politieke leier Jefferson Davis, maar ook generaals soos Robert E. Lee en die legendariese Thomas “Stonewall” Jackson.

Dié mense was dapper en het eerbaar geveg, anders as byvoorbeeld die Noorde se genl. Tecumseh Sherman, wat grootskaalse verwoesting in die Suide (amper soos in die Anglo-Boereoorlog) teweeggebring het. Máár: Hulle was rebelle wat teen ’n wettige regering in opstand gekom het met die doel om slawerny en rassediskriminasie te behou.

Hulle was dus aan die “verkeerde” kant van die geskiedenis.

Ná die oorlog het die klem begryplikerwys op versoening geval; die Noorde en Suide moes immers weer die “Verenigde State” word. Dus is toegelaat dat standbeelde en monumente vir Konfederale leiers opgerig word.

’n Mens sou ’n soortgelyke (let wel, geensins identiese) logika op Suid-Afrika se verlede kon toepas. Gevolglik het byvoorbeeld die Voortrekkermonument, die Bloedriviermonument en die standbeelde van pres. Paul Kruger, M.T. Steyn en ander hul plek behou.

Dit plaas die Afrikaner-geskiedenis in die museum, by wyse van spreke, saam met rekonstruksies van boggelrûe, babas met twee koppe ensovoorts.

Met die idee van temaparke word weliswaar nie heeltemal so ver soos in Amerika gegaan nie (dáár is die idee om die items heeltemal te verwyder), maar dit plaas die Afrikaner-geskiedenis in die museum, by wyse van spreke, saam met rekonstruksies van boggelrûe, babas met twee koppe ensovoorts.

Nogmaals: Hoe moet die geskiedenis dan bekyk word? Die geskiedenis is nie bloot ’n aaneenryg van feite en datums nie. Dit gaan om die vind van samehang tussen daardie feite en datums, die vind van oorsaak en gevolg, die ontdek van patrone ensovoorts.

Die taak van die historikus is dus nie dieselfde as dié van ’n regter nie. Sy taak is nie om mense of groepe skuldig of onskuldig te bevind nie. Sy taak is om so eerlik moontlik vas te stel wát gebeur het, wáárom dit gebeur het en hoe dit die tyd daarna – en die hede – beïnvloed en gevorm het. In die proses word die historikus onwillekeurig beïnvloed deur sy tyd en omgewing.

Ek, ’n Afrikaner, sal anders kyk na pres. M.T. Steyn as ’n swart historikus wat deur die stryd teen apartheid en kolonialisme gevorm is.

En dit beteken dat jou herkoms en jou lidmaatskap van ’n groep jou vertolking van die verlede in mindere of meerdere mate gaan bepaal. Ek, ’n Afrikaner, sal anders kyk na pres. M.T. Steyn (wie se standbeeld in Bloemfontein onlangs gesneuwel het) as ’n swart historikus wat deur die stryd teen apartheid en kolonialisme gevorm is.

Maar daar is ’n grens. Juis omdat historici feilbare ménse is, het die geskiedwetenskap ’n intellektuele apparaat geskep om so objektief moontlik na die verlede te kyk.

Verskille – wat nie noodwendig die gevolg van etniese herkoms is nie – sal daar áltyd wees. Die Nederlandse historikus Pieter Geyl het die geskiedskrywing as “ ’n diskussie sonder einde” beskryf. Vandaar dat die debat oor – sê maar – die oorsake van die Eerste Wêreldoorlog meer as ’n eeu later steeds in alle heftigheid woed.

Terug by die temaparke: Dis waarskynlik bedoel as ’n kompromis om die EFF te paai. Maar dit verhef die ANC-vertolking by wyse van spreke tot ’n wiskundige formule – daardie vertolking is die enigste korrekte, die enigste wat toegelaat word. Dis ’n stap onderweg na ’n diktatuur.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Afrikaner  |  Museum  |  Standbeelde  |  Geskiedenis  |  Diktatuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.