Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Sterwende natuur
Jong mense betoog voor die parlement in Kaapstad. Honderde jeugdiges wat deur die jong Sweedse omgewingsaktivis Greta Thunberg geïnspireer is, het in Maart in Suid-Afrika, Australië, Brittanje en Europa betoog teen regerings se gebrekkige optrede teen klimaatsverandering. Foto: Jaco Marais

’n Miljoen plant- en dierspesies is op die rand van uitwissing, aldus ’n verslag  van die Verenigde Nasies. Elise Tempelhoff doen verslag.

Die natuur is in die waakeenheid. Dit gaan so vinnig agteruit dat 1 miljoen plant- en dierspesies op die rand van uitwissing is.

Dít is die gevolgtrekking van 145 deskundiges van 50 lande. Hulle is almal lede van die Verenigde Nasies (VN) se wetenskapbeleidsplatform vir biodiversiteit en ekostelseldienste (Ipbes), wat verlede week die jongste verslag oor die stand van die natuur uitgereik het.

’n Verkorte weergawe van die verslag, “The Global Assessment”, is uitgereik.

Ekonomie is ’n groot sondaar

Die redes vir die agteruitgang is onder meer ekonomies gedrewe kwessies, sê Ipbes in sy ontleding, wat beskou word as die omvattendste sedert die Millennium Ecosystem Assessment-verslag, wat in 2005 uitgereik is.

Die navorsers het drie jaar lank aan die verslag gewerk en insette van ’n bykomende 310 kundiges op verskeie gebiede gekry.

Daar is veral gekyk na hoe die natuurlike omgewing die afgelope 50 jaar verander het.

Sir Robert Watson, voorsitter van Ipbes, het by die regstreekse bekendstelling van die verslag op die internet gesê weens menslike aktiwiteite gaan die welstand van ekostelsels waarvan alle spesies vir hul voortbestaan afhanklik is, vinniger as ooit agteruit.

“Die mens kalwe die fondasie uit waarop ons ekonomie, lewensmiddele, voedselsekerheid, gesondheidsorg en lewensgehalte gebou is.”

Volgens hom is dit wel nog nie te laat om die “beroerde” situasie te beredder nie, maar dan sal ’n algehele transformasie – tegnologies, polities, maatskaplik en ekonomies – moet plaasvind.

“Ons het ’n paradigmaskuif in mense se waardestelsels en hul doelwitte nodig,” sê hy.

Belangegroepe sal teenstand bied

Verteenwoordigers van Ipbes, wat hoofsaaklik uit ministers van omgewingsake bestaan, het konsensus dat die gewenste transformasie op alle vlakke van die samelewing groot teenstand sal ontlok van dié met gevestigde belange, soos dié in mynbou (op land en in die see), visserye en nywerheidslandbou.

“Dié teenstand sal oorkom moet word ter wille van almal op aarde,” sê Watson.

Luidens ’n verklaring van Ipbes is dit die eerste keer in die geskiedenis dat omvattende inligting bekom is van inheemse gemeenskappe en dat hul kennis in die verslag opgeneem is.

Die verlies aan biodiversiteit is nie net ’n kwessie wat die natuurlike omgewing raak nie, maar dit raak ook die wêreld se ekonomie, ontwikkeling en mense se veiligheid.

“Dit is ook ’n morele en maatskaplike kwessie.”

Die navorsers het bevind die gemiddelde getalle van inheemse spesies het sedert 1900 in die meeste landhabitatte met 20% gedaal.

Uitwissing staar meer as 40% van alle amfibieë, 33% van spesies wat verantwoordelik is vir die bou van koraalriwwe en 33,3% van mariene spesies nou in die gesig.

Minstens 680 gewerwelde spesies (soos voëls en sekere reptiele) het sedert die 16de eeu uitgesterf.

Belangrikste bevindings

Van die belangrikste bevindings in die verslag sluit in:

75% van die wêreld se grondgebied en 66% van oseane is reeds “ernstig” deur menslike aktiwiteit verander. Die invloed wat inheemse volkere op hul grondgebied het, is baie minder opsigtelik;

Meer as 33,3% van die wêreld se grondgebied word gebruik vir produksie van landbougewasse en byna 75% van alle vars water word gebruik vir die besproeiing daarvan. 

Die produksie van gewasse het sedert 1970 met 300% toegeneem; 

 Teen 2015 was 33% van alle vis reeds so oorbenut dat die kans skraal is dat die bevolkings sal herstel;

Die omvang van stedelike gebiede het sedert 1992 verdubbel;

Plastiekbesoedeling het sedert 1980 tienvoudig toegeneem;

Besoedelde vars water wat in  riviere see toe vloei, het aanleiding ge- gee tot 400 dooie sones in die oseaan. Dit beslaan sowat 245 000 km²;

616 multinasionale maatskappye is tans in 171 lande besig met grootskaalse mynbou;

 2 500 konflikte heers tans oor die wêreld heen oor minerale, water, kos en grond;

1 000 omgewingsaktiviste en -joernaliste is van 2002 tot 2013 vermoor omdat hulle in opstand gekom het teen onvolhoubare ontwikkelings en die vernietiging van die natuur; 

 In die oseaan is daar tans 6 500 bore wat olie en gas uitpomp of daarvoor prospekteer;

110 miljoen ha plantasies is van 1990 tot 2015 oor die wêreld heen aangeplant. Baie daarvan is in waterryke gebiede aangeplant;

Toerisme se koolstofvoetspoor het van 2009 tot 2013 met 40% gegroei. 8% van alle kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vrygestel word,  word toegeskryf aan vervoer (lug- en skeepvaart) en voedselverbruik in die toerismebedryf; 

290 miljoen ha inheemse woud is van 1990 tot 2015 uitgeroei om plek te maak vir die aanplant van landbougewasse of is vir brandhout ge- bruik; 

 40% van die wêreld se bevolking het nie toegang tot skoon water nie;

80% van alle afvalwater word nie gesuiwer nie, maar besoedel in die natuurlike omgewing gestort; en

821 miljoen mense in Afrika en Asië is onseker oor waar hul volg- ende maaltyd vandaan gaan kom.

Web van lewe krimp

Volgens prof. Joseph Settele van die Helmholtz-sentrum vir omgewingsnavorsing in Duitsland en medevoorsitter van Ipbes is die web van die lewe op aarde besig om te krimp.

“Ekostelsels, spesies, wilde bevolkings, plaaslike verskeidenheid, plante en makgemaakte diere is besig om te kwyn of net eenvoudig te verdwyn.

“Hierdie verlies is ’n direkte gevolg van menslike aktiwiteit,” sê Settele.

Dit is ironies dat die mens se eie aktiwiteite ’n direkte bedreiging inhou vir sy welstand en voortbestaan.

Nie ’n enkele streek ter wêreld is daarvan gevrywaar nie, sê Settele.

Luidens die verslag het die volume kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vrygestel word sedert 1980 verdubbel en tot die versnelling van klimaatsverandering aanleiding gegee.

Prof. Eduardo S. Brondízio, hoogleraar in antropologie aan die Universiteit van Indiana in Amerika, sê om die oorsaak van die skade wat aan die natuur aangerig word te kan verstaan, is dit noodsaaklik om terug te gaan in die geskiedenis en te gaan kyk na die komplekse demografie en die indirekte ekonomiese aandrywers wat die veranderinge veroorsaak het.

Volgens hom is die “indirekte” kernaandrywers van die veranderinge die bevolkingsontploffing van die afgelope vyf dekades, die gepaardgaande toenemende verbruik en tegnologiese innovasie – wat in sommige opsigte skade aan die natuur beperk het, maar dit in ander vererger het.

Lof vir Greta Thunberg

Brondízio het kritiek uitgespreek op diegene wat die natuur “bestuur” en in baie gevalle geen verantwoordelikheid vir hul dade aanvaar nie.

“ ’n Patroon wat ons waargeneem het, is globale interkonnektiwiteit deurdat minerale en ander natuurlike hulpbronne in een deel van die wêreld onttrek word om te voorsien in die versugting na materiële goedere in ’n ander deel van die wêreld.”

Watson het jong stemme, soos dié van Greta Thunberg, die Sweedse tiener wat skoolstakings begin inisieer het oor regerings se gebrekkige optrede om klimaatsverandering te keer, in die webuitsending geloof. Sy is ook ’n sentrale figuur in die wêreldwye aksie Extinction Rebel­lion.

Vyf sondaars

Volgens die navorsers is die vyf direkte aandrywers van uitwissing en grootskaalse veranderinge in die natuur vir die eerste keer geïdentifiseer: Veranderinge in land- en seegebruik; Direkte eksploitasie van spesies en organismes; Klimaatsverandering; Besoedeling; enIndringers: sowel plante as diere. 21 lande wat inligting aan die skrywers van die verslag verskaf het, het aangedui die aantal indringers in hul land het die afgelope 40 jaar met 70% toegeneem.

Elise Tempelhoff is ’n spesialisomgewingskrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.