Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Stil SAUK is ondenkbaar

Danksy die omvorming van die uitsaaiwese in die 1990’s, die internet en TV-kanale op DStv sal Afrikaans steeds op die lug gehoor word, wat ook al by die SAUK gebeur. Boonop sal gemeenskapsradiostasies landwyd bly Afrikaans praat en Afrikaanse musiek speel.

Dit is die goeie nuus.

Johannes Froneman

Die slegte nuus is dat die nasionale uitsaaier weens wanbestuur nou weer moes smeek om regeringshulp (dus belastingbetalersgeld) om op die lug te bly.

Die SAUK sal die geld kry, belowe die minister, maar die feit is dat ’n eens trotse instelling deur onbevoegdheid, gulsigheid en ’n te groot salarisrekening in die grond in “bestuur” is.

Vir miljoene Suid-Afrikaners is ’n stil SAUK ondenkbaar. Hierdie miljoene luisteraars en kykers het nie alternatiewe vir die SAUK nie. Die SAUK is hul primêre, dalk enigste, bron van radio en TV in hul eie taal.

Ek haas my om by te voeg dat ook vir talle Afrikaanse kykers die krummels wat van die SAUK se tafel val ook omtrent al is wat hulle in hul moedertaal op TV kan kyk. Die DStv-pakkette wat Afrikaanse kanale insluit, is vir die meerderheid onbekostigbaar. Gelukkig bied e.tv ook nou nuus en oorgeklankte sepies in Afrikaans aan. Dit verbreed die aanbod.

In ’n groot land met 11 amptelike tale sal kommersiële uitsaaiers nooit almal na behore bedien nie. Juis dít is die SAUK se taak. Die SAUK is dus ’n belangrike mediarolspeler en (in beginsel) ’n nasionale bate as daar ooit een was.

Op die oomblik vervul die SAUK nog sy mandaat, al kan ’n mens allerlei kritiek lewer. So luister 7,5 miljoen luisteraars na Ukhozi FM, die land se grootste radiostasie (wat in Zoeloe uitsaai).

Die nasionale uitsaaier moet ’n stem aan al die tale en kulture van die land gee, want dit raak miljoene mense daagliks op ’n heel persoonlike vlak. ’n Volhoubare, suksesvolle SAUK is in ons almal se belang.

Die Zoeloe-stasie is verreweg die grootste in die land. RSG is ook in die toptien en het sowat 1,2 miljoen luisteraars per week. In Afrikaans is die twee groot gemeenskapradiostasies Pretoria FM en Tygerberg FM, en luisteraars kan op DStv se radiokanaal landwyd na Pretoria FM, Groot FM en Kosmos luister. Ook by TV sien ons uiteraard die invloed van ons land se demografie. Die grootste stasie is SABC1, wat onder meer die treffers Uzalo, Generations: The Legacy en plaaslike sokker uitsaai. Uzalo is ’n sepie oor twee Zoeloe-gesinne en lok sowat 10 miljoen kykers, terwyl Generations: The Legacy 9 miljoen kykers het. Hier word verskeie Afrikatale gehoor.

Wat sport betref, is sokker koning. Die stryd tussen die Soweto-reuse Orlando Pirates en Kaizer Chiefs trek maklik 2 miljoen kykers per wedstryd.

Die implikasie vir hierdie kykers is dus groot as die SAUK dit nie kan bekostig om vorentoe vir die uitsaairegte te betaal nie. MultiChoice is buite baie se bereik.

Die Onafhanklike Uitsaai-owerheid (Okosa) se voorstelle om sport toegankliker te maak, gaan die SAUK nie uit sy penarie red nie. Sportliggame sê met een stem dit sal hulle bankrot maak en hulle sal stappe om dit af te dwing dus met hand en tand beveg. Uitsaairegte is immers hul groot bron van inkomste.

Die SAUK moenie op so ’n regulatoriese meevaller staatmaak nie. Die instelling moet eerder sy sake in orde kry, finansieel volhoubaar raak en ’n billike prys betaal vir die reg om sekere sportgeleenthede uit te saai. Nie alles nie, net sommige.

Die voortbestaan van ’n lewenskragtige SAUK gaan egter oor veel meer as sport.

Die nasionale uitsaaier moet ’n stem aan al die tale en kulture van die land gee, want dit raak miljoene mense daagliks op ’n heel persoonlike vlak. ’n Volhoubare, suksesvolle SAUK is in ons almal se belang.

  • Froneman is ’n mediakundige.
Meer oor:  Sauk  |  Wanbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.