Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Stip kyk na die natuur sal dít aan jou wys
Gerhard Verdoorn

Plat op die duinesand, stewig vasgevang in skaapvelbaadjie en laphoed wat die koue net-net hokslaan, sit ek en kyk na die weste, waar skamele laatmiddagwolkies onder die Groot Skilder se verfkwas die vliesies inkleur.

Dis oranje en rooi, oker en goud, lila en silwer wat onder ’n ligblou kombers van die naderende vroeë aand lê. Ver onder die Kalahari se doringveld skitter gemsbokke se swaarde in die goue strale en hul sterte wapper lastige muggies weg.

’n Verweerde ou erdvark snuif-snuif die laatmiddag versigtig voordat hy die veilige holtes van Moeder Aarde verlaat op soek na grondtorings waar termiete skuil. Bakoorvossies gaap lui langs ’n witgatboom en trek ná die dag se slaap kromstert voordat hulle die veld invaar.

Langberg lê in staatsie teen die noorde en word al donker soos die son aarde toe hunker. Op die kliprant beplan ’n weerwolf sy nagtog saam met die erdvark, vir die wit korrels wat onder die aarde skuil hou. Twee sekretarisvoëls trap die nes op die kameelboom reg voordat die nag se koue op drie kuikens neerdaal. Dis mooi.

Gedagtes draai na die wêreld daar om Platberg, waar die Karoo se bloukraanvoëls laatmiddag hul trompette vir oulaas oor die aarde basuin. Vaalkorhane probeer ook iets, maar die kras stemme slaan tussen die kriedorings vas.

By die plaasdam gooi visarend kop agteroor en groet die dag vir ’n laaste keer wanneer die son agter Platberg verdwyn.

By die plaasdam gooi visarend kop agteroor en groet die dag vir ’n laaste keer wanneer die son agter Platberg verdwyn. Kelkiewyne, wat net betyds vir die laaste lig op die water toesak, gesels opgewonde met mekaar en sluk die ysige waters vinnig voordat hulle weer met trommelvlerke veld toe vertrek. ’n Ooruil waarsku muise met sy “hoe-hoe” dat hulle vannag ligvoets moet loop. Hy moet ’n wyfie en twee donskuikens van kos voorsien. Die windjie tel effens op en draai die vergete pomp se wiel, wat kreun om spoed te kry.

Êrens blêr moflammers wat speels agter ooie aan kraal toe stap. Jakkals roep sy maat, maar dis stil, want sy moet bekhou omdat sy laasnag boer se lam gesteel het. Dis mooi.

Maroela staan rustend teen die laatmiddagson met bobbejane wat stry oor slaapplek. Kleintjies trek mekaar se sterte en wyfies mor omdat die ou manne die grootste mikke vir hulself gevat het.

Op die hardekool tuur breëkoparend soos ’n siener in die verte – daar waar die dag van môre nog baie ver lê. Sy wyfie hou stewig wag oor ’n kosbare eier wat net ná winter weer nuwe lewe in die Bosveld sal bring. Rooibokke snuif ongemaklik as hulle luiperd ruik. Bobbejane skrik en koggel luidkeels hul misnoeë, maar die kolkat is lankal rivier toe om bosbokke te gaan rondjaag.

’n Swerm renostervoëls sak op die verdroogde apiesdoring neer waar hulle die nag sal vertoef. Die witrugaasvoëls sit met opgetrekte skouers op die jakkalsbessiebome en lyk erg verveeld met die lang wag wat nog voorlê. Hul kroppe hang swaar van die kameelperd wat onder die leeus geval het. Dis mooi. Dis sommer net alles mooi.

  • Verdoorn is ’n natuurliefhebber en -bewaarder.
Meer oor:  Natuurbewaring  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.