Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Stryd vir die siel van ons universiteite

Elitisme en meritokrasie is nie gewild in ’n demokrasie waar die klem op toelating en gelyke geleenthede val nie – en deesdae al hoe meer op gelyke uitkomste, skryf Flip Smit.

Soos met universiteite in die res van die wêreld die geval is, is die aard en wese van Suid-Afrikaanse universiteite tans in die spervuur.

Op eie bodem word universiteite in hul fondamente geskud deur studente wat hul eie belange vooropstel terwyl hulle vrede het met die skade wat hulle aanrig aan die akademiese reputasie van ons universiteite – om nie eens te praat van die finansiële volhoubaarheid van ons instellings nie.

Die besture van ons universiteite is ook nie sonder blaam nie. Niemand is bereid om nee te sê nie in ’n omgewing waar ’n ongewilde besluit die einde van ’n loopbaan kan beteken.

Dié manier van dinge doen het ’n dramatiese uitwerking op ons universiteite. ’n Universiteit is ’n regspersoon en in teenstelling met ’n natuurlike persoon kan dit nie op sy eie dink of handel nie. Die sukses van enige instelling hang 100% af van die mate waarin die raad, die bestuur en personeel van die instelling optree in die beste belang van die instelling. As elk van hierdie groepe in sy eie beste belang optree, wie kyk na die belange van die universiteit? As almal meer uit die universiteite haal as wat hulle insit, in watter stadium sak dinge inmekaar?

Op ’n altaar geoffer

Ons politici sien universiteite as ’n oplossing vir wat om te doen met werklose jeug. Wat is die gevolg? Meer as die helfte van ons studente verlaat die sektor ná vyf jaar sonder ’n kwalifikasie. Waarom? Hartseer om te sê, daar is net te veel studente in die stelsel wat ongelukkig nie oor die kognitiewe en taalvaardighede beskik om suksesvol te kan studeer nie. Plaas om mense op te lei vir wat hulle kan doen, probeer ons hulle oplei vir wat hulle nie kan doen nie.

Studente van die Universiteit van die Witwatersrand betoog in Maart vanjaar teen die uitsluiting van studente met studieskuld. Foto: GALLO IMAGES

Op die vlak van die onsuksesvolle individu is dit ’n rampsituasie (jare en jare wat letterlik verspeel word) – om nie eens te praat van die vrugtelose vermorsing van miljarde rande se persoonlike en openbare geld nie.

Daar is groot deernis vir voornemende studente wat met ’n universiteitstoelating-sertifikaat by die universiteit opdaag in die hoop dat verdere studie hulle uit armoede sal laat ontsnap. As gemeenskap moet ons oplossings vir die werklose jeug se probleme kry. Die opoffering van ons universiteite op die altaar van politieke dienstigheid is egter nie die antwoord nie.

Wat is op die spel as ons misluk? Die bydrae van ons 26 universiteite tot skaars vaardighede (meer as 230 000 kwalifikasies per jaar), navorsing en dienslewering moet nooit onderskat word nie. Ons vlagskip-universiteite huisves sentrums van uitnemendheid wat steeds met die beste in die wêreld vergelyk kan word. By die jonger universiteite word verdienstelike werk op ’n aantal terreine verrig.

Covid-19 het die waarde van universiteite op die voorgrond geplaas. Studenteproteste en die manier hoe dit hanteer is, het egter die universiteite tot op die rand van ’n afgrond gebring. Die gerespekteerde ekonoom Mike Schüssler voorspel dat daar oor tien jaar slegs vyf universiteite oor sal wees! Ek dink wel daar sal meer as vyf wees, maar ongelukkig sal hulle net nie baie goeie universiteite wees nie.

Versnelde verval

Wat is die karakter, aard en wese van universiteite wat tans bedreig word? Die benaming “universiteit” het as ’n gemeenskap van geleerdes en begaafde studente wêreldwyd ’n bepaalde karakter, betekenis en status verwerf – simbole van trots.

Wanneer dié eienskappe afgetakel word, tree die wet van versnelde verval in werking. Elitisme van talent loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis van universiteite. Vanaf die eerste Universiteit van Bologna (1088) tot die aangepaste model van die Universiteit van Berlyn in 1810. Dié model is na die res van die wêreld uitgevoer.

Of radikale studente dit wil weet of nie, universiteite is in wese Westerse instellings met selfregulerende meganismes wat die gehalte van kwalifikasies waarborg.

Laasgenoemde is gesetel in die outonomie van universiteite wat onder meer bepaal dat slegs portuur-kundiges behoort te besluit oor die akademiese kwalifikasies waaraan dosente moet voldoen, wat die inhoud van die kurrikulum moet wees en wat die minimum vaardighede van ’n student moet wees om tot die stelsel toegelaat te word. Deur dinge op dié manier te doen het jy die grootste kans om uitnemende uitkomste te verseker.

Betogers verlede maand by die ingang van Unisa se Sunnyside-kampus in Pretoria, waar studente onder meer geëis het dat registrasiegeld afgeskaf moet word. Foto: DEAAN VIVIER

Tradisioneel het universiteite ’n belangrike rol in kultuuroordrag gespeel. Maar ’n universiteit funksioneer nie op ’n eiland nie en universiteite neem toenemend ’n universele karakter aan. Die groot klem op navorsing en strewes na ’n plek op die internasionale ranglyste moet in ’n ontwikkelende land egter bevraagteken word. In ’n land soos Suid-Afrika met van die grootste menslikehulpbronne-probleme in die wêreld, behoort ons prioriteite te wees waar ons probleme is – te wete opleiding.

Watter kragte bedreig bogenoemde wesenskenmerke of die siel van die Suid-Afrikaanse universiteite? Twee aspekte is hier ter sake, te wete die groei van studentegetalle en die aftakeling van universiteitsoutonomie.

Wie moet betaal?

Die toename in studentegetalle van 472 000 in 1993 tot die huidige 1,1 miljoen is ongeëwenaard in die wêreld.

Die student-dosent-verhouding het in hierdie tydperk van 24 tot 55 gestyg. Nieteenstaande hierdie vinnige toename is die deelnamekoers (die aantal studente as persentasie van die bevolking 20 tot 24 jaar) slegs 22% teenoor meer as 70% in Wes-Europa en 80% in die VSA. Vinnige bevolkingsaanwas is die belangrikste oorsaak van hierdie lae koers.

Wêreldwyd het studentegetalle van 29 miljoen in 1970 tot die huidige 250 miljoen toegeneem. Regerings het die groei geldelik ondersteun. Maar ná die wêreldwye ekonomiese insinking in 2008 is die staatsfinansiering drasties verminder en klasgelde moes noodwendig verhoog word.

Die eeue oue vraag wie vir universiteitsopleiding moet betaal, is opnuut op die voorgrond geplaas. Die feit dat gegradueerdes meer verdien, het die argument versterk dat studente self moet betaal. Die staat baat egter óók, deurdat geskooldes tot hoër ekonomiese groei en meer belasting bydra. ’n Balans moet gevind word. Die Heher-kommissie het die Britse stelsel voorgestel waarvolgens studente hoër belasting betaal as hulle begin werk. Dié voorstel is deur die staat verwerp.

Universiteite is duur instellings. Leermateriaal en -toestelle moet onder meer van die buiteland ingevoer word. Sedert 1994 is geweldige druk uitgeoefen om meer studente toe te laat, terwyl die staatsubsidie (die eerste geldstroom) nie dermate toegeneem het nie en die subsidie per student in reële terme gedaal het. Klasgeld (as tweede geldstroom) maak tans gemiddeld 33% van die begrotings uit. Sommige universiteite het deur kontraknavorsing en skenkings (die derde geldstroom) inkomste tot meer as 40% van begrotings verhoog.

Universiteite se outonomie is in 2016 twee nekslae toegedien. Eerstens het die Wysigingswet op Hoër Onderwys van 2016 die minister met magte beklee om groei- en transformasieteikens te stel.

Tweedens is die klasgeldverhogings van meer as 10% wat deur universiteitsbesture voorgestel is, deur oudpres. Jacob Zuma by die Uniegebou tot 0% “wegonderhandel” en onbekostigbare gratis hoër onderwys aan studente wie se ouers minder as R350 000 per jaar verdien, is aangekondig.

Visekanseliers het kopknikkend ingestem. In 2021 word geëis dat die inkomsteperk verhoog word en talle ander toegewings gemaak word. Maar ’n mens moet billik wees – nie alle probleme kan voor die studente se deur gelê word nie. Die wyse waarop die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) oor jare (wan)bestuur is, het die probleme net moeiliker gemaak om op te los.

Swak prestasies

Die Covid-19-pandemie het al hierdie dinge in ’n drukkoker geplaas. Universiteite moes diep delf om telekommunikasieplatforms vir aanlyn leer te skep, terwyl leegstaande klaskamers en koshuise in stand gehou moes word.

Sowel die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) en die Raad vir Hoër Onderwys het rondborstig erken dat universiteite se uitsette nie in die behoeftes van die land voorsien nie en dat die interne effektiwiteit van universiteite laag is.

Die uitstekende prestasies van vlagskip-universiteite word deur die swak prestasies van ander geskaad.

Foto:

’n Deurtastende ondersoek deur die Raad vir Hoër Onderwys in 2013 het getoon dat 60% van eerstejaarstudente druip en dat 55% die universiteite ná vyf jaar sonder ’n kwalifikasie verlaat. ’n Ontleding van die jongste publikasie van “VitalStats”deur die Raad vir Hoër Onderwys toon dat dié swak prestasies voortduur.

Die slaag- en druipsyfers van ’n kohort studente aan residensiële universiteite oor ’n periode van ses jaar, met eerste inskrywing in 2013, is soos volg: Driejarige B-grade gradueer 59% en sak 41% uit. Vierjarige B-grade gradueer 66% en sak 34% uit. Doktorsgrade gradueer 54%. Minder as een derde van studente voltooi hul B-grade in die minimum voorgeskrewe tydperk.

Om die dinge om te draai gaan nie maklik wees nie. Elitisme en meritokrasie is nie gewild in ’n demokrasie waar die klem op toelating en gelyke geleenthede val nie – en deesdae al hoe meer op gelyke uitkomste.

Voorafgaande dinge lei daartoe dat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se Global Competitive Report Index (GCI) van 2019 Suid-Afrikaanse gegradueerdes op 102 uit 144 lande plaas.

Dit is ongelukkig wat die wêreld van ons universiteitskwalifikasies dink.

Ons kan beweer dit is onbillik, Westers, koloniaal en wat ook al. Maar dit is wat dit is – die telbord waar ons as land teen ander lande gemeet word. En dit lyk nie goed nie.

Oplossings

Dit sal voorbarig wees om kitsoplossings vir baie komplekse probleme aan te bied. Enkele basiese probleemoplossings is egter voor die hand liggend. Rektore en rade moet in hul besluite die langtermyn- akademiese volhoubaarheid van hul instellings vooropstel – hoe ongewild dit hulle ook al maak by politici of studente.

Staak die druk om steeds meer studente te akkommodeer. Verhoog toelatingsvereistes, want studente word mislei dat hulle met lae toelatingsvereistes kan slaag. ’n Aantal universiteite moet tot driejarige B-graadopleiding beperk word of in tegniese kolleges verander word.

Selfs die tradisionele universiteite kan onderhandel om op fokusgebiede te konsentreer, soos universiteite in Japan, Frankryk en Nederland.

Verslap die wurggreep op private hoër onderwys. Sonder drastiese optrede van universiteitsrade en -besture om verlore outonomie terug te win en ’n bewustelike poging om universiteite met professionele kundigheid te bestuur, sal herstrukturering nie plaasvind nie. Universiteitsrade en -besture is en bly trouens die kurators van die karakter, betekenis en waardes van universiteite.

Terugskouend is dit verbasend hoe daar sienderoë toegelaat is dat die regering die hele onderwysstelsel tot in die afgrond bestuur deur onder meer uitkomsgebaseerde onderwys, die oorheersende rol van vakbonde, die afskaffing van alle onderwyskolleges en die omskepping van technikons in universiteite.

Voorafgaande roep onwillekeurig die 1983-onderwysverslag “A Nation at Risk” in Amerika op met dié inleiding: “As ’n onvriendelike moondheid probeer het om middelmatige onderwysprestasie op Amerika af te dwing, sal ons dit as ’n oorlogsdaad beskou. Ongelukkig het ons dit aan ons self gedoen.”

  • Prof. Smit is ’n voormalige rektor van die Universiteit van Pretoria en doen navorsing oor demografie en hoër onderwys.
Meer oor:  Flip Smit  |  Stryd  |  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.