Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Suid-Afrikaanse bate

Die medestigter van Investec Batebestuur, Hendrik du Toit, is Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sake-kamer se Sakeleier van die Jaar vir 2019. Willem Jordaan en Francois Williams het met hom gesels.

Die sakesektor het beslis ’n belang daarby om ’n sukses te maak van die land, sê Hendrik du Toit, die medestigter en 28 jaar lank hoof van Investec Batebestuur. Hy is ook Die Burger, Netwerk24 en Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar vir 2019.Foto’s: jaco marais

Kom ons begin by die begin. Is jou vernuf as sakepersoon iets wat jy by jou ouers geleer het?

Ek het ouer ouers gehad as die normale. As ’n klein laaitie het ek dikwels in die grootmense se geselskap gesit en geluister. Dis ’n wonderlike ding wat kinders deesdae nie doen nie. Ons gee vir hulle elektroniese toestelle of sit hulle voor ’n televisie neer.

In ’n tradisionele gemeenskap het kinders meer kontak met ouer mense. In die townships en in die ou dae – iemand se kind was almal se kind.

Ek is gelukkig om van ouer mense goed te leer wat ek nie noodwendig van my ouers sou geleer het nie.

Ek het toe nooit gedink dit sou vir my ’n werk word nie, want ons is ingeprent geld is ’n euwel.

Niemand in my familie het ooit sake gedoen nie. Behalwe my oupa, wat ’n bankier was, kom my ma uit ’n geslag van onderwysers, boere en predikante. My pa-hulle was boere van die Swartland en Wellington. Maar baie interessante mense het by ons kom kuier.

Die wynmaker Graham Beck se pa was relatief onbekend, maar hy was waarskynlik een van die suksesvolste Suid-Afrikaanse sakelui op sy dag, en hy het baie by ons gekuier.

Toe ek en my ma ná my pa se dood in ’n woonstel in Kaapstad gaan bly het, was die Becks huisvriende. Maar die oom kon nie die aandeelpryse in die koerant meer so lekker lees nie.

So as skoolseun het hy my ná skool kom roep, dan moet ek die aandeelpryse vir hom lees en hy het met my gesels daaroor.

Ek het toe nooit gedink dit sou vir my ’n werk word nie, want ons is ingeprent geld is ’n euwel, maar dit het oor tyd baie interessant geword.

Jou vrou, Lorette, is opgelei as joernalis. Hoe vul julle mekaar aan?

Ek is baie dankbaar vir haar. Sy is ’n goeie ma. Ons het twee redelik gebalanseerde kinders grootliks te danke aan haar. Sy is tipies nog joernalis. As ek haar vra wat dink jy van dié idee of van daardie mense, dan doen sy behoorlike navorsing.

Sy help my dikwels om net te dink oor iets. As joernalis is sy geleer om te dink. Ek het respek vir die joernalistieke brein gekry deur met een getroud te wees. Jy kan haar nie om ’n bos lei nie. Sy gaan vir jou uitvang.

Die vaardighede van ’n joernalis om vrae te vra en antwoorde te gaan soek is baie werd vir kinders wat die wêreld van kunsmatige intelligensie tegemoet gaan.

Die sakesektor leer dieselfde tegnieke vir jou. Die marges raak net weg of die mark is net nie meer daar nie, dan moet jy iets nuuts doen.

Sakevaardighede en ondersoekende denke gaan in die toekoms baie vir jou beteken. In daardie opsig is dit vir my ’n voorreg om baie tyd te bestee met iemand wat vrae vra en dink.

Lorette is die eerste joernalis wat oor Jannie Mouton geskryf het toe hy PSG begin het. Sy het my oortuig om in PSG-aandele te belê, want sy het vertel van die interessante gesprek met hom en hoe gemotiveerd hy is.

Toe die aandeelprys vervyfdubbel het, besluit ek dis genoeg en verkoop dit sonder om vir Jannie te bel. Elke keer as ek vir Jannie sien, sê ek vir hom dit was die grootste fout wat ek gemaak het.

Die een ding wat ek by Jannie kan leer, is hy maak tyd om deeglik te dink oor goed. Hulle probeer nie alles doen nie. Hulle doen sekere goed regtig goed en vat hul tyd en dink dit regtig deur.

Wat is jou raad aan iemand wat sê nou maar 50 jaar oud is en R100 000 het wat hulle wil belê?

Dis nie so moeilik nie. Mense neem in die algemeen te min risiko. Almal wat ek ken om my hou daarvan om met te veel kontant te sit.

As jy ’n lang genoeg termyn het en jy koop nie op ’n ekstreme piek nie, moet jy goeie groei in jou portefeulje sit, want die groot vyand is inflasie. So sit jou geld waar die rykste mense hul geld sit  - in besighede.

Jy as amateur kan dit doen via ’n effektetrust, dan is daar ’n professionele persoon wat daarna kyk wat jou help om dit te doen.

As jy ’n klein deel van ’n maatskappy koop wat ander mense bestuur, waarin ander mense groot beleggings het waarop hulle konsentreer en jy vergeet daarvan, jy kyk nie elke dag na die prys nie, dan gaan jy oor 20 jaar baie gelukkig voel.

Oor ’n 20-jaar-periode wen jy, want die wêreldekonomie gaan gewoonlik vooruit, tensy jy ’n baie abnormale periode kry, byvoorbeeld in die Middeleeue waar daar dalk vir 100 jaar niks gebeur het nie. Maar in die post-nywerheidsrevolusie is daar altyd groei oor 20 jaar. Vat ’n bietjie risiko, kry genoeg aandele in jou portefeulje.

Die beste manier om dit te kry, is deur ’n effektetrust. ’n Indeksfonds is ook goed, maar ek hou net nie van ’n indeksfonds nie. Want dis soos Koos Meyer wat op Stellenbosch gevra is hoekom is hy nie ’n lid van die KP nie, en toe geantwoord het: “Ek gaan nie al retirerende die toekoms in met ’n Mauser in my hand nie”.

Met ’n indeksfonds gaan jy al retirerende die toekoms in, want jy koop gister se wenners vandag.

Met ’n indeksfonds gaan jy al retirerende die toekoms in, want jy koop gister se wenners vandag.

Maar dis steeds beter as om niks risiko te hê nie. Die groot fout wat mense maak, is hulle neem nie genoeg risiko nie. Hulle neem baie risiko op illikiede bates soos ’n huis. Hulle dink hul huis se prys verander nie elke dag nie, maar dit verander wel elke dag X hulle weet dit net nie.

Hulle dink die huis is solied, en hulle vergeet hoe baie geld hulle bestee om daardie huis reg te maak. As jy aandele koop, hoef jy nooit weer iets daaraan te bestee nie, behalwe die dag as jy dit verkoop.

As jy mense kan kry om jonk genoeg risiko te neem, gaan hulle soveel beter af wees oor tyd.

Wat is fout met kapitalisme vandag?

Hoekom kapitalisme so suksesvol in Amerika was in die vorige eeu is omdat gewone mense gedeel het in die sukses van die biljoenêrs en entrepreneurs.

As alles privaat gaan en weg van genoteerde markte, sien die gewone mens nie die beleggingsgeleentheid nie en het nooit die kans om deel te neem via sy pensioenfonds, versekering, persoonlike effektetrust of besparing nie.

In die ou dae het mense aandele gekoop, en daardie aandele het goed gevaar. Jy het Rembrandt-aandele gekoop en die mense geken wat die maatskappy bestuur en jy weet hulle is slim, jy kry jou dividendtjek en jy voel goed daaroor en jy hou dit vir die lang termyn.

Dít is besig om te verdwyn, want mense het te veel skuld en leef te hoog.

Jou oupa en ouma het nie naastenby gehad wat ons vandag het nie, maar hulle het heel goed geleef en nie die bank geskuld nie.

Jou oupa en ouma het nie naastenby gehad wat ons vandag het nie, maar hulle het heel goed geleef en nie die bank geskuld nie. Hulle kon nog ’n bietjie risiko vat met hul beleggings.

Ons ry almal met nuwe karre wat met pakkette gekoop is waaruit die bank en die motormaatskappy geld maak. Almal woon in huise wat te groot is, en jy het dit nie nodig nie. As jy vir jouself sorg, kan jy dalk eendag meer in beheer van jou lewe wees.

Kapitalisme bring daai voordeel, want dit laat mense toe om beleggings te maak in besighede en deel te hê aan die sukses van kapitalisme.

As jy dit wegvat deur alles privaat te neem, het mense geen deelname aan die stelsel nie.

In Frankryk kom die hardwerkende laermiddelklas-mense in opstand, want die stelsel werk nie vir hulle nie.

Die oormaat van die stelsel word gegee aan die onderste 20%. Die rykes vaar in elk geval goed, maar die groep in die middel – die polisiemanne, onderwysers en klerke wat ook kundigheid het – word absoluut swak behandel deur die stelsel.

In Frankryk is daar nie ’n tradisie van die middel wat deelneem aan die rykdomskepping van die top nie. Hulle besit nie aandele nie. As jy dit nie het nie, het jy politieke onstabiliteit.

Ons het baie goed gevaar in Suid-Afrika om ’n swart middelklas te probeer bou, maar ons moet die stelsel ook laat werk vir die bestaande en die nuwe middelklas.

Jy moet deelname kry aan die risiko en die sukses.

Watter rol moet sakelui speel om ’n beter invloed in die politiek en die samelewing in die breë te hê?

Jy moenie sakelui oorskat nie. Sakelui is nie jou diepste denkers nie. Hulle is besig om elke dag ’n lewe te maak. Hulle bou miskien ’n besigheid, maar dis nie altyd met so baie visie nie, dis maar net om aan die lewe te bly, al word hulle baie suksesvol.

Hulle het nie noodwendig intellek­tueel voorberei om die soort respek af te dwing en die soort leierskap te gee wat gemeenskappe van hulle verwag nie. Moet dus nie te veel verwag van sakelui nie.

Maar die sakesektor het wel ’n belang daarby om ’n sukses te maak van die land. Ons het ’n plig om deel te neem, soos in dr. Anton Rupert se konsep van deelgenootskap: “Ek kan nie slaap as my buurman honger ly nie”.

In die 1980’s het maatskappye soos Anglo American die leiding geneem en ingrypings gemaak wat gehelp het.

Wat sakelui kan doen, is om hulpbronne te verskaf aan leiers – persoonlike geld en infrastruktuur – wat ’n positiewe impak in gemeenskappe maak, mense wat die regte dinge doen.

Die eenvoudige uitdaging tans in Suid-Afrika is die goeie mense in die politieke of gemeenskapstryd word totaal beperk deur al die reëls, terwyl die slegte ouens skynbaar onbeperkte hulpbronne het.

Die sakesektor kan dus help om advokate te betaal wat die slegte ouens kan vervolg.

Die sakesektor kan dus help om advokate te betaal wat die slegte ouens kan vervolg. Die omgewing, die howe en die media moet ondersteun word.

Die sakesektor kan help seker maak daar word gehou by die Grondwet en by die goeie reëls in die gemeenskap, anders gaan die land oor 20 jaar tot niet gaan. Die sakesektor se sterk punt is hulle is realisties en pak die situasie aan soos wat dit is. Jy kan nie net ’n mooi opstel skryf nie – as jy verliese ly, moet jy koste sny.

Wat kommer wek, is dat die sakesektor sedert Thabo Mbeki en ook onder PW Botha rondgeskop is. Sakelui het oorsee gaan woon.

Een van die redes waarom die sakesektor tans so huiwerig is, is omdat korporatiewe beheer en deursigtigheid nou al so verhewe en bykans afgode geword het, dat jy nie besluite kan neem nie, want jy is te bang.

Jy moet so in die middel wees, so in die trop wees en nie jouself uitspreek nie, want miskien gaan iemand ongelukkig wees.

Wat inspireer jou en hou jou gemotiveerd?

Om ’n langtermyn-besigheid te bou is wat ons geniet. Ons doelstelling is eenvoudig: Probeer altyd beter belê, bou ’n beter besigheid in die proses en dra by tot ’n beter wêreld. Jy kan dit nie in drie jaar afhandel nie.

Ons word gemeet aan beleggingsprestasie, so die belegger weet presies hoe ons vaar. Ons moet hom net oortuig dis nie elke dag nie, dis oor ’n lang termyn. Dis waarom die projek my opgewonde maak. Ons is besig om iets te doen wat niemand wat hiervandaan kom al gedoen het nie.

Om Investec Batebestuur van hier af te kon vat en dit oor die wêreld uit te brei, is professioneel bevredigend. Daar is nog baie om te doen. Ons krap nog net aan Amerika en China.

Dit hou my opgewonde. Jy moenie lui raak en niks doen nie. Jy moet ontwikkel. In vandag se wêreld is 60 die nuwe 40. Mense lewe langer. Jy moet intellektueel gestimuleer bly. Dit beteken nie jy moet almal frustreer en vir ewig werk nie, maar jy moet iets doen wat jou opgewonde maak.

Om ’n klomp mense te kry wat van besigheid-bou hou, is vir my lekker. En of ek dit hier doen of dit eendag in ’n klein opset êrens anders vir myself, is baie lekkerder as om iemand anders te irriteer op ’n skoolkomitee of iets.

Wat maak jou opgewonde buite die werksopset?

Ek lees biografieë, geskiedenis en politiek. Ek is lief vir bergfietsry en het laasjaar die Cape Epic gery. Ek hou van kajak ry in die see, om die dolfyne en walvisse te sien. Ek is mal oor die bos. Dis lekker om goed te doen wat die gesin saam kan doen. Ek hardloop en swem, en kyk graag sewesrugby.

Meer oor:  Hendrik Du Toit  |  Beleggings  |  Geld  |  Ekonomie  |  Sakeleier Van Die Jaar  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.