Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Taal is baie meer as net praat en skryf
Dana Snyman

Jy dink jy weet wie ek is. Jy glo jy ken my.

Ek het my familie in die Kaapse argief gaan navors. Die stamvader van die Snymans is Christoffel Snijman, sê die dokumente wat al sedert die 1600’s in die Kaap bewaar word. Hierdie Christoffel Snijman is die seun van Hans Christoffel Schnijder, ’n Duitse soldaat, en Catharina van Paliacatta, ’n slawevrou.

Albei het in die Kasteel de Goede Hoop gewerk: Schnijder as ’n wag en Catharina van Paliacatta, wat ook as Groot Catrijn bekend gestaan het, as ’n wasvrou.

Wie sal weet presies hoe het dit gebeur?

In die jaar 1668 van onse liewen Heer het Hans Schnijder, die Duitse soldaat, en Groot Catrijn mekaar Bybels beken. Nege maande later, staan daar geskryf, het Groot Catrijn geboorte gegee aan ’n seun. Die kind, gedoop op 9 Maart 1669 in Kaapstad, het een van sy pa se name gekry: Christoffel. En omdat daar ’n Nederlandse administrasie in die Kaap was, het die Schnijder in dokumente Snijman geword. Christoffel Snijman. Ja, die heel eerste Snyman was nie wit nie. Christoffel Snijman was ’n bruin man. Groot Catrijn was donker van gelaat, ’n vrou van Indiese herkoms.

Daar is nie slegs een Afrikaans nie, soos op ’n “Slegs blankes”-bordjie op ’n hortjiesbank op Kerkplein in Pretoria in 1976.

Op 21 is Christoffel getroud met Margo de Savoye, wat saam met haar ouers van die provinsie Gent in Vlaandere in die Kaap aangekom het. Christoffel koop ’n plaas naby wat nou Franschhoek is, en hy en Margot het nege kinders, wat klink of hulle my niggies en nefies kon gewees het: Jacobus, Catharina, Maria, Christina, Elsje, Johanna, Philippus, Susanna, Elisabeth.

Soos die lang, vervelige dele in die Bybel: Philippus is getroud met Johanna Margaretha van Deventer, en sy het ’n seun gebaar en hulle het hom Jacobus genoem. So het die een geslag ná die ander gekom, deur oorgrootjie Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman, wat op die Groot Trek was, deur Oupa en deur oorlede Pa tot by my.

Almal het Afrikaans gepraat, of die bastertaal, die Nederlands en die Duits, die Frans, en Margot de Savoye se Vlaams en Groot Catrijn se Maleis en Portugees, die Khoi en seemanspraat en kombuispraat wat op mense se tong vermeng en Afrikaans begin word het. Die taal waarin Hendrik Biebouw een oggend dronkerig aan die landdros op Stellenbosch geskreeu het: “Ik wil niet lopen. Ik ben een Africaander . . .” In 1707.

And now you want to tell me I’m a European and Afrikaans is not an indigenous language.

Daar is nie slegs een Afrikaans nie, soos op ’n “Slegs blankes”-bordjie op ’n hortjiesbank op Kerkplein in Pretoria in 1976. Afrikaans is ’n kabinetsminister wat koud gelaat is deur Steve Biko se dood, maar ook Madiba wat Ingrid Jonker se “Die kind” in die parlement voorlees.

Afrikaans is Kaaps en Garieps en Vrystaats en Pretôriaans, en die gebalk van ’n donkie laatmiddag in Prieska se dorpskamp. ’n Taal is nie net vir praat en skryf nie. Everything I am is connected to Afrikaans and to Africa. Even the donkeys and the stones speak Afrikaans to me.

Ik wil niet lopen. Ek is hiervandaan.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Gene  |  Geslagte  |  Skryf  |  Taal  |  Afrikaan  |  Afrikaans  |  Praat  |  Afrikaner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.