Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Taal verdien die sprekers se hoogagting

Daar gaan selde ’n week verby waarin daar nie iewers oor die behoud van Afrikaans gepraat word nie. As dit nie ’n geveg tot in die hof is oor Afrikaanse skole of universiteite nie, is daar jolyt op Afrikaanse feeste.

Dit geval my, want ek kom uit die Klein-Karoo, en Afrikaans is die taal van my moedersknie. Die taal waarin ek dink en bid.

Annelie Botes. Foto: Salvileo Meyer

As ek by ’n dokter tjank oor skete, of heethoofdig raak, kan ek dit nie in Engels doen nie. My “has” en “have” raak verstrengel. Om skielik in Engels te sê “Ek raak so kwaad ek kan ’n slang vang,” is onbegonne.

’n Wyle gelede staan ek voor ’n see van gr. 11’s en 12’s van ’n Afrikaanse skool in die Karoo. Ek moet hulle tot beter opstelle inspireer.

Só verduidelik ek dat ’n mens die regte gereedskap nodig het as jy ’n groentetuin maak of ’n aartappel skil. Met opstelskryf is wóórde die noodsaaklikste gereedskap.

“Kan julle my naastenby sê wat beteken die volgende drie woorde?” vra ek. Ek gee die drie woorde: Geniepsig, ondergrawe en erbarming. Hulle sit soos sfinkse. Ek wapper ’n R200-noot rond en beloof dit aan die een wat nie te skaam is om te sê nie. Nodeloos. Want dié kinders, uit huise waar die spreektaal Afrikaans is, weet nie.

Dis maklik om te sê “ . . . deesdae se kinders . . .”

Wat egter nie weggeredeneer kan word nie, is dat “deesdae” se kinders hul praattaal by “deesdae” se ouers leer. “Deesdae” se onderwysers, ooms, tannies, oupas en oumas. By “deesdae” se media. Waar anders?

Nou moet ek ’n lansie breek vir Afrikaanse tydskrifte en koerante. Hulle skryf nie altyd die mees poëtiese Afrikaans nie, maar hulle probéér. Dis egter nie waar van ’n horde programme op Afrikaanse televisiekanale nie.

Aanbieders praat oorwegend suiwer. Dis egter skokkend en byna grillerig om te luister hoe deelnemers en programleiers die taal opklits; hoe beperk hul woordeskat is.

Veral as jy in ag neem dit is reekse wat vooraf opgeneem, geredigeer en goedgekeur is. As dít is hoe hulle vir Afrikaans opstaan, weet ek nie hoe dit sal klink as hulle gaan lê nie.

Alles is amazing, awesome, stunning, magic. Vir kosprogramme gebruik hulle cherry tomatoes en spring onions. Die stew simmer. Vleis word ge-spice met barbeque spice.

Dalk is ek uit die oude doos, maar al slaan jy my met ’n plank, weet ek nie wat outyds aan kersietamaties, sprietuitjies, ’n bredie wat prut en braaivleisspeserye is nie. Ek beweer nie dat ons hoogdrawend met pruillippe moet praat van kotelette en remvloeistof nie. ’n Engels woord hier en daar is soms reg en nódig.

Toe skep ek maar ’n nuwe woord vir amazing: Ammaziéng. Met ’n dubbel “m” en die klem op die laaste lettergreep. Dis Engels, gespel in Afrikaans en klink etnies. Soos amaBokke.

Dan wil ek namens die ou gryse vir Siya & kie sê: puik, uitmuntend, volprese, meesterlik. Ammaziéng.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Menings  |  Afrikaans  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.