SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
’n Teken vir asemhaal en verder gaan

Die kommapunt. Oor dié leesteken handel ’n hele nuwe boek: Semicolon: The Past, Present, and Future of a Misunderstood Mark deur Celia Watson, ’n wetenskaphistorikus en -filosoof.

Jana Luther

Toe ’n skrywer, uitgewer en tipograaf, saam-saam, in die 15de eeu in Italië dié “puntkomma” ontwerp, was daar vir punktuasie nog geen reëls nie. Om hul bedoeling duidelik te laat blyk, vir voordrag die verlangde frasering aan te dui, het skrywers met allerlei tekens geëksperimenteer.

In die 1800’s is dié tekens vir “musikale effek” aangewend, soos rustekens in musiek. By die lees van ’n teks dui die komma die kortste pouse aan. Die kommapunt verdubbel dié pouse. By die dubbelpunt rus jy twee keer so lank as by die kommapunt. Ter afsluiting volg daar ’n punt.

In die 1900’s kom die reëlmakers. Hulle debatteer: Is punktuasie – of interpunksie – ’n onderdeel van die ortografie, van hoe die taal geskryf moet word? Van die prosodie, van hoe die taal moet klink? Van die sintaksis, hoe taal gestruktureer moet word?

In die eerste grammatikahandboeke word leestekens as onderwerp oorgeslaan. In die eerste tien uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls ook. Eers in 2017, vir die 11de uitgawe, word ’n nuwe afdeling – hoofstuk 13: leestekens – by die AWS gevoeg.

En so gaan die idee van skrywers as “musikante”, wat soepel en na willekeur punktuasie as hulpmiddel gebruik, ná 500 jaar oor in die verwagting dat moderne skrywers – ons – ons aan vaste reëls moet onderwerp. Wat grammatika en spelling betref, en ook wanneer ons leestekens gebruik.

Honderd jaar gelede was die kommapunt gewild. ’n Eeu later skryf Paul Robinson: “Semicolons are pretentious and overactive. The semicolon has become so hateful to me that I feel almost morally compromised when I use it.” Kurt Vonnegut: “First rule: Do not use semicolons.”

’n Kommapunt pleks van ’n komma verstadig die pas; skep ’n oomblik vir nadenke. ’n Kommapunt pleks van ’n punt kan die pas ook versnel.

Ek? Ek skaar my by Louis Esterhuizen, wat daarop wys dat die styl van minstens twee van Afrikaans se vernaamste prosaskrywers – Hennie Aucamp en Karel Schoeman – by uitstek deur die gebruik van kommapunte gekenmerk word. Dat “vele verwarrende en slap sinskonstruksies al met die effektiewe plasing van ’n kommapunt spierkrag gegee is”.

’n Kommapunt pleks van ’n komma verstadig die pas; skep ’n oomblik vir nadenke. ’n Kommapunt pleks van ’n punt kan die pas ook versnel.

Natuurlik moet ons die onderliggende reëls ken. Maar beoordeel die gebruik van die kommapunt altyd op grond van hoe dit ’n teks vorm. Daarin lê die vreugde en die bevrediging: in die verkenning, ontdekking, begryp en uitlê van hoe die kommapunt betekenis kan help skep wat veel verder gaan as net die afbakening van die logiese struktuur van ’n sin. Hieroor is ek dit met Louis en met Celia Watson eens.

Van al die leestekens is die kommapunt my gunsteling. Ook as internasionale simbool in die stryd teen depressie en angs. ’n Teken vir asemhaal en verder gaan.

Meer oor:  Jana Luther
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.