Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Tuiste vir oom Paul

Die vraag is nie of die beeld van Paul Kruger van Kerkplein verwyder moet word nie, maar waarheen om dit te verskuif, skryf Danie Goosen.

Werkers maak die standbeeld van oudpres. Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria skoon nadat dit onlangs weer gevandaliseer is.Foto: Deaan Vivier

Hoe ons oor die toekoms van standbeelde nadink, is ’n funksie van ons breë politieke vertrekpunte. Maar hier lê juis die probleem: Die publiek huldig verskillende politieke vertrekpunte. Geen wonder nie dat daar so hewig oor die standbeelde verskil word nie. Politieke verskille sny vandag diep.

Twee wyduiteenlopende standpunte word gehuldig: enersyds die standpunte van die ANC en sy bondgenote en andersyds die Afrikaners. Alvorens ’n voorstel oor die standbeeld van oudpres. Paul Kruger op Kerkplein gedoen word, moet dié verskille eers helder onder oë gekry word.

Die ANC en sy bondgenote

Hoewel die ANC-regering die laaste paar jaar op alle vlakke drasties verswak het, word hy (selfs toenemend) deur drome van sentralistiese beheer deur die staat gemotiveer. Niks het dit so blootgelê as sy hantering van die Covid-19-pandemie nie.

Die ANC gee graag na buite te kenne­ dat hy die veelheid van gemeenskappe en hul erfenisse erken. Inderwaarheid strewe hy ’n simplistiese eenheid na. Volgens dié eenheid is daar geen wesenlike erkenning vir ’n gemeenskap soos die Afrikaners nie.

In die vroeë 1990’s het die ANC nog ’n soort simboliese erkenning aan Afrikaners gegee. Sedertdien is sy staatsentralistiese motiewe duideliker blootgelê.

Lees ook: Die twee kante van die debat oor beelde

Oudpres. Thabo Mbeki het dit ingelui met sy destydse beskouing dat Afrikaners “kolonialiste van ’n besondere soort” is.

Mbeki se kwalifikasie is intussen laat vaar. Deesdae word die geskiedenis van Afrikaners openlik en sonder enige kwalifikasie deur party-ideoloë as kolonialisties, rassisties en selfs as “boos” bestempel.

Om sake te vererger, speel dit af binne ’n internasionale konteks waarin ’n nuwe revolusionêre purisme onder die vaandel van anti-woorde, soos anti-rassisme, anti-kolonialisme en selfs anti-Westerse man, na vore getree het. Volgens die nuwe purisme val die geskiedenis netjies uiteen tussen die onsuiwere (want bose) koloniale Weste en die suiwere (want hulpelose) slagoffers daarvan.

Ten diepste word die nuwe puristiese revolusionêre deur gevaarlike utopiese denkbeelde van totale gelykheid (“gelykheid van uitkomste”) aangevuur.

Buiten om ’n beroep op verdere staatsentralisering te doen.

“Gevaarlik” omdat dié soort gelykheid in spanning staan met die vryhede van gemeenskappe. Histories gesproke het dit bykans sonder uitsondering tot die enorme lyding van talle gemeenskappe gelei. Van Rusland onder Lenin en Stalin tot en met Kuba onder die leiding van Fidel Castro, ’n liefling van die ANC en sy bondgenote.

Onderliggend aan die nuwe purisme is ’n suiweringsdrang wat die Weste as ’n sondebok uit die geselskap van die suiweres wil verban. Wanneer die sondebok eers uitgedryf is, word naïef geglo, sal die utopie van gelykheid meteens aanbreek. Só word die eie verantwoordelikheid na die verdelging van die bose ander verplaas.

Onder aanvoering van dié suiweringsmanie val standbeelde uit die Westerse verlede reeds een ná die ander sonder dat kwalik enige konkrete voorstelle gedoen word oor hoe die utopie van gelykheid bewerkstellig kan word. Buiten om ’n beroep op verdere staatsentralisering te doen.

Die ANC en sy bondgenote in die EFF en die akademiese wêreld staan nie buite die invloedsfeer van die nuwe­ purisme nie. Ondanks die “sistemiese misdadigheid” wat die ganse land onder die ANC-regering kenmerk, skaar hy homself ironies genoeg met groot geesdrif agter die nuwe­ puristiese bewegings.

Afrikaners en selfbestuur

Volgens die meeste Afrikaners is die wesenlike politieke vraag vandag of die verhoudinge tussen die verskillende gemeenskappe deur wedersydse erkenning en respek gekenmerk word. Sonder dié erkenning sal die toekoms van die standbeelde deur ’n (ongenaakbare) oorweging beslis word, naamlik wie oor die meeste mag beskik. En hoe reg is Afrikaners nie daaroor nie. Afrikaner-standbeelde word reeds sonder hul instemming verskuif of geplunder – dit alles met die meestal stille goedkeuring van die sentraliserende ANC.

Grondliggend aan die nuwe beweging onder Afrikaners lê juis die politiek van wedersydse erkenning en respek.

Afrikaners het die laaste paar jaar hulself nie passief by die gebrek aan wedersydse erkenning neergelê nie. ’n Beduidende aantal georganiseerde Afrikaners maak hulself tans van hul eertydse afhanklikheidsgevoelens jeens die staat los. Weens die gedagte van die selfbestuur van gemeenskappe bring hulle indrukwekkende instellings tot stand wat nie net vir hulself intree nie, maar ook brûe met ander gemeenskappe bou.

Grondliggend aan die nuwe beweging onder Afrikaners lê juis die politiek van wedersydse erkenning en respek. Dit is wel nie ’n wedersydsheid wat van bo-af (met die toestemming van die staat) tot stand gebring word nie, maar wat eerder van onderaf (uit die burgerlike wêreld en tussen gemeenskappe) met groot ywer opgebou word.

Die toekoms van oom Paul

Waar laat hierdie uiteensetting ons met die Kruger-standbeeld op Kerkplein? Moet Afrikaners hulself steeds van die staat vir ’n oplossing afhanklik stel? Of kan Afrikaners as gemeenskap self ingryp en ’n eie oplossing bied?

Om op hierdie vrae te antwoord, sal Afrikaners baie nugter moet wees. Om ons deur nostalgiese oorwegings te laat lei, sal ’n groot fout wees. Nostalgie kan die Afrikaners verhinder om aktief op te tree en te doen wat gedoen moet word. Trouens, nostalgiese verlangens na ’n verbygegane era kan daartoe lei dat ons ’n belangrike erfstuk verloor.

Teen die agtergrond van die vertolking van die ANC en sy vennote, kan Afrikaners vorentoe steeds pogings verwag om van Kruger en sy krygers op Kerkplein ontslae te raak. Nie net spuitkannetjies nie, maar hamers, beitels en kettingsae kan ons voorland wees. Ook op Kerkplein (ironies genoeg self ’n argitektoniese erfenis uit die Weste) mag geen onsuiwerheid geduld word nie.

Hieraan knoop ’n feit wat tot dusver nog nie genoem is nie: Kerkplein is onherroeplik aan demografiese kragte oorgegee wat dit – uit ’n Afrikaner-oogpunt – ’n vreemde oorblyfsel uit ’n vergange tydperk gemaak het. Afrikaners wat nog Kerkplein besoek, het drasties gekrimp. Veral naweke sal Afrikaners nie seker wees of hulle in Kinshasa of Nairobi eerder as op Kerkplein is nie.

Wat staan Afrikaners te doen wat steeds hul verlede – versinnebeeld deur figure soos Kruger en Steyn – as ’n lewende verlede ervaar? Hoe pynlik dit ook al mag wees, ons het as kultuurgemeenskap waarskynlik geen ander keuse nie as om Kruger uit die “sorg” van die staat te haal en na ’n openbare ruimte te skuif wat nog deur Afrikaners besoek word.

Histories gesproke sal dit nie ’n vreemde stap wees nie. Die Kruger-beeld is nie deur Anton van Wouw met die oog op Kerkplein gemaak nie. Oom Paul behoort nie “van nature” op Kerkplein nie. In 1913 het die standbeeld sy eerste staanplek in die destydse Prinsepark gekry, waarna dit in 1925 na die plein voor Pretoria se hoofstasie verskuif is. Eers in 1954 is dit na Kerkplein verskuif. Verskuiwing is deel van sy geskiedenis.

Die vraag is eerder na watter plek hy geskuif moet word – ’n plek wat deur ’n betekenisvolle aantal Afrikaners besoek kan word.

Hoewel die Kruger-beeld vroeër esteties met Kerkplein as ’n geheel saamgepraat het, sal dié gesprek vorentoe bes moontlik heeltemal uitgedoof word.

Kerkplein is gewoon nie meer Kerkplein nie. Red liefs wat nog gered kan word. Indien nie die hele Kerkplein baksteen vir baksteen nie (’n onmoontlike droom), dan ten minste die standbeeld, ’n belangrike simbool van wie en wat ons is.

Teen die agtergrond van die kragte wat teen die behoud van oom Paul op Kerkplein werk, is die vraag nie of hy geskuif moet word nie. Die vraag is eerder na watter plek hy geskuif moet word – ’n plek wat deur ’n betekenisvolle aantal Afrikaners besoek kan word.

Maar nog meer, teen die agtergrond van die nuwe klem onder Afrikaners­ om self verantwoordelikheid vir hul eie erfenis te aanvaar, is die punt eintlik heel eenvoudig: Gee oom Paul terug aan ons as gemeenskap. Ons sal hom op ons eie voorwaardes versorg. Vragmotors en huiskrane uit eie geledere staan gereed om die taak in ’n ommesientjie te verrig.

Indien ons dit nie self met eie energie en inspanning doen nie, sal dit vir ons gedoen word – nie op ons voorwaardes nie, maar op die voorwaardes van onsimpatiekes. Geen gemeenskap met selfrespek kan dit toelaat nie.

  • Prof. Goosen is voorsitter van die direksie van die FAK.
Meer oor:  Paul Kruger  |  Danie Goosen  |  Kerkplein  |  Standbeeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.