Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Uur en 48 minute na roem

Op 12 April 1961 het maj. Joeri Aleksejewitsj Gagarin die wêreld verstom toe hy die eerste mens geword het wat ’n suksesvolle ruimtevaart onderneem, skryf Gustav Hendrich.

Joeri Gagarin in die Wostok-ruimtekapsule. Foto: abydot.wordpress.com

‘Op daardie dag het die mens die nabye omgewing van die aarde verlaat, die buitenste ruimte betree,en die eerste groot tree gegee tot in ’n uitgestrekter gebied, die verkenning van dit waaroor daar in die verlede net gedroom is.”

Só het die pers in die Sowjetunie oor Joeri Gagarin se ruimtereis berig. Dit was natuurlik destyds ’n groot hoogtepunt vir die Russe in hul ruimtewedloop teen die Amerikaners.

Gagarin het nie net sy volksgenote nie, maar die hele wêreld aangegryp. “Gagarin’s triumph made him one of the great heroes in Soviet history. His smile inspired a generation,” het die Britse historici Jeremy Isaacs en Taylor Downing geskryf.

Ruimtewedloop

Gagarin was ’n nederige mens, die kind van verarmde kleinboere wat in ’n plaasgemeenskap in die Smolensk-distrik grootgeword het.

Te midde van toenemende wedywering tussen die VSA en Rusland en in die Koue Oorlog wat ná 1945 ontstaan het, wou Gagarin ’n vlieënier word. Later jare sou hy erken dat sy eintlike droom was om ’n ruimtevaarder te word.

Hy het sy kwalifikasie as vegvlieënier in 1957 by die Orenburg-lugmagskool behaal. Daarna is hy in die Sowjet-lugmag opgeneem en het hy toe op eie aandrang deel geword van die Russe se ruimtevaartprogram, wat verdere opleiding by die Akademie vir Wetenskappe behels het.

Soos sy landgenote was Gagarin bewus van die intensifisering van die Koue Oorlog. Dit was nie net ’n politiek-ideologiese stryd tussen kapitalisme en kommunisme nie, maar die stryd het ook na die ruimte uitgekring, veral ná die Russe se lansering van die eerste onbemande satelliet, die Spoetnik, in 1957.

Maj. Joeri Aleksejewitsj Gagarin soos hy verskyn het op die omslag van ’n CD. Sy ruimtereis was die inspirasie vir liedjies, boeke en rolprente.

Amerika, wat homself as die rykste en mees gevorderde supermoondheid beskou het, het sy oënskynlike voorsprong op tegnologiese gebied as vanselfsprekend aanvaar. Die Amerikaners is verneder toe die Russe die openingsrondte van die ruimtewedloop gewen het.

Vir die Russe was dit ’n sielkundige oorwinning oor hul minderwaardigheidskompleks en die gevoel van agterstand wat hulle gehad het in verhouding tot die Weste. Hedrick Smith, Amerikaanse skrywer van onder meer The Russians, het in sy navorsing die afleiding gemaak dat die kernoorsaak van die Russe se historiese agterstand teenoor die VSA gelê het in hul verdrukking onder die tsaredom.

Die Sowjet-leier Nikita Chroesjtsjof, sowel as sy voorganger Josef Stalin, het volgens Smith ’n sterk minderwaardigheidsgevoel gehad en ’n vasbeslotenheid om dié agterstand te oorbrug. Die Sowjet-ruimtevaartprogram was dus ’n poging om die minderwaardigheidsgevoel deur ruimteontdekking soos nog nooit tevore nie, ’n nekslag toe te dien.

‘Laat ons gaan!’

In die maande voor April 1961 is Russiese wetenskaplikes en ruimtekundiges onder die strengste geheimhouding by die lanseerterrein van Baikonoer in Kazakstan byeengebring. Die vorige ruimtevaarte, waarin met diere soos die beroemde hond Laika geëksperimenteer is, het belowend verloop.

Twee terugslae in Desember 1960, soos ’n toetsruimtetuig en sy hele bemanning wat tragies uitgebrand het, het tot skeptisisme onder mediese dokters gelei. Hulle het gevrees dat ’n ruimtevlug ’n mens weens die sielkundige spanning bewusteloos kon laat.

Ondanks dié vrese is Gagarin op die lanseerplatform gereed gemaak vir die reis. Met groot versigtigheid is hy na die kapsule van die Wostok-ruimtevuurpyl begelei. Onder die gedreun van die vuurpyl enjins is die vuurpyl om 09:07 gelanseer.

“Pojekhali!” het Joeri Gagarin geroep toe die ruimtetuig die aarde verlaat het. Foto: Wikimedia.org

Op daardie oomblik het Gagarin uitgeroep: “Pojekhali!” of “Laat ons gaan!” Met sy brandende vlamme het die vuurpyl na die hemele opbeweeg, waarna die kapsule losgebreek en in ’n vryval die aarde se wentelbaan binnegedring is. Tydens sy ruimtevaart het Gagarin heeltyd die versekering gegee dat alles onder beheer is. “Vlug vorder normaal. Voel goed,” het hy laat weet.

Sy eerstehandse beskrywing is deur Radio Moskou uitgesaai: “Ek kan die aarde sien. Sigbaarheid is goed. Kan julle uitstekend hoor in agtergrond. Ek kan alles sien. Sommige van die ruimte onder is betrokke met cumulus… Ek gaan voort met my vlug. Alles is normaal. Instrumente werk uitstekend. Alles is in goeie toestand. My vlug vorder… Voel goed. Ek is opgeruimd. Ek gaan voort met my vlug”.

Gagarin se ruimtevlug het een uur en 48 minute geduur.

Aanvanklik is min inligting oor die vlug bekendgemaak. Volgens James Oberg, ’n Amerikaanse joernalis wat gespesialiseer het in die ruimte, is fotografiese materiaal eers meer as vyf jaar daarna deur die Russe uitgereik.

Oberg het bespiegel dat die rigting van die ruimtevlugte oor Siberië, Japan asook oor Wes-Afrika as verskoning gebruik is om revolusionêre boodskappe aan derdewêreldlande uit te saai.

Afgesien van die politieke insinuasies, was Gagarin se beskrywing van sy ruimtelike observasies van geografiese belang: “Die lug is pikswart. Die sterre lyk helderder en duideliker teen die agtergrond. Die aarde is omring deur ’n blou stralekrans. Groot bergreekse, groot riviere, groot woude, kuslyne en eilande is duidelik sigbaar”.

Nadat Gagarin ’n volle omwenteling om die aarde voltooi het, het hy veilig langs die Wolga-rivier geland.

’n Ruimte-Columbus

Die Sowjetunie was oorstelp van vreugde. Chroesjtsjof het in ’n telefoniese gesprek met Gagarin sy hulde gebring en verklaar: “Met jou prestasie het jy roem vir ons land gebring en dapperheid en heldemoed getoon om so ’n belangrike taak uit te voer. Jou prestasie het jou verewig as die eerste mens om die ruimte binne te dring”.

In ’n onderhoud met die beriggewer G. Ostroumofoor sy gedagtes tydens die vlug, het Gagarin geantwoord: “Al my gedagtes en sintuie was toegespits om die vlugprogram uit te voer. Ek wou elke enkele item van die taak so perfek moontlik uitvoer”.

Gagarin is verder gevra of hy eensaam gevoel het tydens die reis, waarop hy gesê het: “Ek het natuurlik nie eensaam gevoel nie. Ek het goed geweet dat my vriende, die hele Sowjet-volk, my ruimtevlug gevolg het. Ek is seker die Party en Regering sou gereed wees om te help indien ek in gevaar sou wees”.

Gagarin is op 14 April as ’n held in Moskou ontvang. Die stad is met vlae, baniere en kleurvolle blomme versier. Vir 33 km van die Wnoekowo-lughawe tot by die Rooiplein het Moskowiete, sowel as buitelandse afvaardigings en diplomate, langs die pad gestaan om die ruimteheld te groet. Gagarin, vergesel van sy vrou, Walentina Iwanowa, het saam met Chroesjtsjof in ’n weelderige motor wat met blomme versier was na die Rooi Plein gery. Mense het vlae vasgehou met vuurpyle, foto’s van Gagarin en baniere soos “Hoera, Gagarin!” en “Roem aan die Columbus van die ruimte”.

Tydens die seremonie op die Rooiplein het ’n skoolmeisie, Olja Proechikowa, onder meer ’n rooi das om Gagarin se nek gehang en hom onder luide applous tot erelid van ’n pioniersorganisasie verklaar. Die volkslied is gespeel, gevolg deur ’n feesviering van meer as twee uur.

Internasionale samewerking

Ofskoon Gagarin ’n lid van die Kommunistiese Party was, en hy sy dank vir die geleentheid teenoor die party uitgespreek het, het hy steeds nederig gebly. Daarvoor sou hy wêreldwyd eerbied kry.

Martin Walker, Britse korrespondent in Moskou, het in dié tyd berig weens Gagarin se prestasie was dit “one of the best times to be a communist”. Met die Britse en Franse koloniale ryke aan’t verbrokkel het dit voorgekom asof daar skielik ’n groter erkenning van die Sowjetunie was vir sy status as supermoondheid.

“Laat die kapitalistiese lande probeer om ons in te haal,” het Chroesjtjof verklaar. Maar anders as die politieke wedywering was Gagarin se begeerte, soos verwoord in ’n persverklaring in 1961, gemik op internasionale samewerking.

“Ons is altyd verheug oor die prestasies van ander lande in wetenskaplike vooruitgang en ons sal bly wees om die ruimtevaarders van ander lande in die buitenste ruimte te verwelkom en ons wens hulle alle sukses met die vreedsame verkenning van die ruimte toe… Ons wil saamwerk met hulle in die vreedsame benutting van die buitenste ruimte, ons beplan om gereeld te vlieg en sien met vertroue uit na die werklike verowering van die buitenste ruimte,” het hy gesê.

Gustav Hendrich

Uit vrese vir ’n moontlike ongeluk het die Sowjet-owerhede Gagarin egter verbied om verdere ruimtevlugte te onderneem. Sewe jaar later sou hy tragies in ’n toetsvlug met ’n straler verongeluk. Sy stoflike oorskot is langs die Kremlinmuur by dié van ander Sowjet-helde begrawe.

In 1981 is die Museum vir Ruimtevaartkunde in Moskou onder ’n enorme vuurpyl-monument geopen. Gagarin word hier vereer en sy ruimtekapsule wat daar uitgestal word is tot vandag ’n vername trekpleister.

Dit is nou sestig jaar ná sy ruimtereis en ruimte-tegnologie het intussen ontsettend ontwikkel. Maar wat Gagarin destyds reggekry het, het die weg gebaan vir ander ruimtereise, die vestiging van die Internasionale Ruimtestasie en ja, ook daardie klein tuigie wat deesdae op Mars woeker.

  • Hendrich is ’n historikus van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.