Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Valse vrede tussen Noord- en Suid-Korea?

Die kans dat ’n oorlog in die volgende maand of wat op die Koreaanse skiereiland uitbreek, is uiters gering.

Die Olimpiese Winterspele, wat gister skouspelagtig in Pjeongtsjang, Suid-Korea geopen is, is voldoende waarborg daarvan. Maar beteken dit dat ’n oorlog volledig uitgesluit is?

’n Groep Noord-Koreaanse sportlui het gister saam met hul Suid-Koreaanse volksgenote in die arena ingemarsjeer. Onder die toeskouers was Kim Jong-nam, suster van die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, asook visepres. Mike Pence van Amerika.

In die Suid-Koreaanse media is vandeesweek gegis oor die moontlikheid dat Kim Jong-nam ’n gesprekskanaal tussen haar broer en pres. Moon Jae-in van Suid-Korea kan open. Uit laasgenoemde se oogpunt is dit begryplik, aangesien die bloed wat in ’n oorlog op die skiereiland sal vloei, hoofsaaklik uit Koreaanse liggame sal kom.

Maar dit beteken nie dat die Suid-Koreane nié rekening hou met alle moontlikhede nie. Altesame 50 000 soldate sal vir die duur van die Spele paraat wees om binne minute tot aksie oor te gaan as dit nodig is.

’n Onbekende aantal spesmagte is gereed om Noord-Koreaanse insypelaars te jag as dié die grens oorsteek, en byna elke sentimeter van die kus word 24 uur per dag bewaak. Met Noord-Korea weet jy nooit.

Uiteindelik hang dit natuurlik van Trump af.

Maar die eintlike probleem is die tyd ná die Spele. Dis waar dat die Spele die bevrore betrekkinge tussen die twee Koreaanse state laat ontdooi, maar dis nie die eerste keer dat dit gebeur nie. Vorige toenaderings het vlietend geblyk en is altyd weer deur hernude polarisering, intimidasie en dreigemente opgevolg. Dié keer word dit bowendien gerugsteun deur die Noord-Koreaanse kernwapenprogram.

In Amerikaanse militêre kringe word gereken Noord-Korea sal voor die einde van die jaar ver genoeg gevorder wees met die program en in staat sal wees om kernbomme op feitlik enige plek in Amerika te laat ontplof. Hoe hanteer die Amerikaners dit? As jy die uitlatings van prominente regeringslede soos Rex Tillerson, minister van buitelandse sake, Nikki Haley, ambassadeur by die VN, genl. Jim Mattis, minister van verdediging, en lt.genl. H.R. McMaster, pres. Donald Trump se nasionale veiligheidsraadgewer, langs mekaar lê, sien jy ’n diepe pessimisme oor die vraag of die vrede bewaar kan word.

Uiteindelik hang dit natuurlik van Trump af. Omdat hy hom oor byna alles, met inbegrip van Korea, gereeld so teenstrydig uitlaat, weet ’n mens eenvoudig nie wat sy besluit sal wees nie. Dit is in beginsel moontlik dat die Amerikaners sal terugdeins vir die reusagtige prys wat betaal sal moet word om die Noord-Koreaanse kernprogram te stuit.

Tog, alles in ag genome, is dit moeilik om in te sien hoe ’n oorlog vermy kan word.

Meer oor:  Kim Jong-Nam  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.