Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Vars bord kos is lekkerder as oorskiet

“Ek is verlief. Hy is baie hot. Ons was op ’n date en het vir ure gesels.

“Ek het lank laas so met iemand connect.”

Piet Matipa

Sy kyk op haar selfoon na haar nuwe verliefde se WhatsApp-profielfoto.

Sy glimlag breed.

“Hy is regtig baie aantreklik. Ons het soveel in gemeen.”

Haar vriendin vra belangstellend of hulle saam geslaap het. Dis mos deesdae die norm op die eerste date. Dis hoekom mense so vinnig moeg raak vir mekaar. Die vrugte is reeds gepluk in die eerste paar ure van ontmoeting, nou moet nuwe vrugte geproe word.

Ai. Ons leef darem in ’n “romantiese” era . . .

Sy ontken. Nee. Hulle het nie saam geslaap nie.

Sy probeer dinge anders doen deesdae. Hulle het eerder gesels en daarna gesoen. Sy gaan hom weer sien. Sy kan nie wag nie. Sy weet egter nie van die volgende date nie.

Haar vriendin glimlag. Sy vra met nuuskierigheid hoe die outjie lyk.

Sy begin die mannetjie blinkoog beskryf. Sy raak sommer liries as sy aan hom dink.

Hy lyk soos al sy foto’s. Hy is lank. Hy het blonde hare. Sy lyf is ’n paleis. Sy oë is seeblou. Sy noem waarvandaan hy kom. Sy noem ook sy naam.

Hoe meer sy haar nuwe “liefde” beskryf, hoe stiller word haar vriendin.

Die vriendin besef stil dat sy die outjie ken. Dat sy die outjie baie goed ken. Met en sonder klere.

Om op verskeie dates met soveel as moontlik mense te gaan in die soektog na liefde het ’n stokperdjie geword.

Die vriendin en die outjie het al ontmoet. Hulle het al ’n paar keer die kat in die donker én in die lig geknyp.

Die vriendin het skielik innerlike konflik: Moet sy sê sy ken ook die outjie en hulle het ’n intieme verhouding gehad – daar is selfs boodskappe met foto’s as bewyse . . . of moet sy stilbly?

Die vriendin besluit om stil te bly.

Die ander een stu verlief voort, heel onbewus dat haar vriendin al die vrugte gepluk het van die outjie wat sy met oorgawe beskryf. Sou sy en die outjie ’n verhouding aanknoop, dan het die vriendin ’n probleem.

Sy sal moet maak asof sy hom nie ken nie.

In vandag se tyd met sosiale media en al die dating sites soos Tinder deel mense mekaar soos brood.

Almal het al almal gehad. Almal het al met mekaar gematch. Want as ’n mens met 20 outjies match op iets soos byvoorbeeld Tinder, is die kanse goed dat jou vriend of vriendin met minstens 10 van hulle gematch het.

Ons bly in ’n kitsontmoettydperk, waar dit makliker is om mense soos lui visse via die kuberruim te vang. Waar dit nog makliker is om met vreemdelinge te slaap.

En waar dit die maklikste is dat jy en jou vriend of vriendin van dieselfde vrug gepluk het.

Om op verskeie dates met soveel as moontlik mense te gaan in die soektog na liefde het ’n stokperdjie geword.

Is dit verkeerd? Wie is ek om te oordeel?

Ek weet net ons eet mekaar se oorskiet en ’n vars bord kos is lekkerder.

Dis al.

Meer oor:  Piet Matipa  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.