Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
’n Vars bries in voos ou blaaie

’n Mens prys nie ’n vis omdat hy kan swem nie. As ’n vis nie swem nie, vrek hy net daar. Dieselfde geld in die politiek.

’n Mens prys nie ’n staatshoof omdat hy ’n goeie toespraak lewer nie. Dit is sy brood en botter. Soos die Engelsman sal sê: It comes with the territory.

’n Staatshoof kan dit dus allermins bekostig om vervelige toesprake te lewer of ’n pot strooi kwyt te raak, want mense raak gou uitgekuier en verloor belangstelling as jy eers begin brabbel.

Ek is geensins ’n politieke bewieroker van pres. Cyril Ramaphosa nie, maar hier kom die president Donderdagaand en steek ’n toespraak af wat my verwagting heeltemal op sy kop omkeer. Dis mos hoe ’n president moet praat. Veral van ’n land soos Suid-Afrika, waar daar altyd ’n behoefte sal wees aan ’n leier wat ons onder een kombers kan saamtrek.

Niks morbiede, muwwerige toesprake wat meestal ’n gefikseerde blik op rassisme gehad het soos ons gesien het onder Thabo Mbeki en Jacob Zuma nie.

Daar was ’n realisme en dringendheid wat voorheen in die presidensie ontbreek het. Hierop ’n luide amen.

Die FW de Klerk-stigting het dit agterna netjies opgesom deur te sê Ramaphosa het geklink of hy die staats­rede vir die hele nasie gelewer het en met alle Suid-Afrikaners gepraat het. Daar was ’n realisme en dringendheid wat voorheen in die presidensie ontbreek het. Hierop ’n luide amen.

Op bl. 35 van Ramaphosa se toespraak was ’n paragraaf wat dadelik die verbeelding aangegryp het: Suid-Afrikaners sal nie oorgee aan die magte van pessimisme nie. Almal van ons as Suid-Afrikaners sal moet help met die uitdagings wat voorlê. Dit is ons kollektiewe verantwoordelikheid om ’n nuwe Suid-Afrika te bou.

In daardie laaste sinnetjie was opgesluit ’n mengsel van realisme en idealisme wat 100% reg gekalibreer was. Jy erken daar is probleme, maar met ’n idealistiese visiestelling vorder jy die wilskrag op van mense om werk te maak daarvan.

Wat Ramaphosa eintlik bepleit, is verhoogde sosiale kohesie en dat ons die verwaande bitterbekke en politieke slopers soos Julius Malema en sy kohorte – wat nog skuil agter die verflenterde lap van apartheid – wys dat ons hierdie land kan laat werk.

In politieke snelskrif lees dit “mede-naasbestaan”.

Dit is duidelik dat niemand Rama­phosa gaan terughou om die regering se stalle skoon te maak nie. Hoog tyd ook, sou ek reken.

Laat die “nuwe Skerpioene” sommer begin by die ministers en LP’s wie se beursies propvol gestop is deur die Bosasa-base en die Guptas.

Laat die “nuwe Skerpioene” sommer begin by die ministers en LP’s wie se beursies propvol gestop is deur die Bosasa-base en die Guptas. Vervolg hulle vreesloos.

’n Mens wou ook amper ’n ligte vuisie in die lug pomp toe Ramaphosa inderwaarheid vir Eskom op ’n politieke dieet sit en hom beveel om sy rieme dunner te sny.

In gedekodeerde taal beteken dit dat Eskom nou sy eendjies vir ’n slag in ’n ry moet kry en die bedelbakkie bêre.

Dis net jammer dat Ramaphosa nie verklaar het hoekom Eskom nou lyk soos hy lyk nie. Kon hy maar nie eerlik gewees het en prontuit erken het (terwyl hy ons aandag gehad het) dat die oorhaastige transformasie van Eskom met ’n gevolglike uittog van kundigheid ’n groot bydrae tot die gemors gelewer het nie?

Ewenwel, ’n mens het Donderdagaand ’n eerstehandse blik gekry van die Cyril-plan. Dit was ’n vars bries in voos blaaie.

En nou verstaan ’n mens Lennit Max (vroeër DA-lid en nou ’n adviseur van Bheki Cele) se woorde dat Ramaphosa so besielend is dat jy nie eintlik ’n keuse het as om met hom te wil saamwerk aan Projek SA nie.

Hoor ek ’n “hoor, hoor”?

Maarman is die eindredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Eskom  |  Johann Maarman  |  Toespraak  |  President  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.